Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.4.13

'n Handvol briewe

Misdaadversoek was g’n fout nie

PEET SIMONIS skryf: Haai Rika, lekker om van jou in K’rant te lees. Het jy sowaar 26 jaar lank aangehou? En jy skryf nog net so lekker. Ja, dit was nie 'n fout om jou te vra om misdaad te "doen" by die ou Die Transvaler nie. Misdaad was ook een van my rondes by Die Volksblad voor ek Afrikaanse Pers toe is, later Perskor. So, ek ken ook polisiemanne taamlik goed. Baie van hulle was puik mense wat geweet het om sake met die kop te ondersoek. Dié dat hulle 'n meisie van hoge integriteit soos jy - en ook van warme menslikheid - kon waardeer. Jy het nie net goeie stories by hulle gekry nie, jy het ook baie vir hulle gegee - raad, vriendskap en altyd 'n glimlag, al was jou fisieke omstandighede met die spierdistrofie nie maklik nie en het dit al moeiliker geword. Geluk met jou uitstekende werk. Hier is 'n drukkie vir jou.

Motorfietsstorie is fantasties

Oudkollega, nou apteker, PIET ROOS, skryf: Ag, Philip en Willie, wat 'n fantastiese storie oor die motorfiets! Dis nou 'n ding wat ek sou wou doen, het self motorfiets gery, ‘n Honda Hawk 400 cc gehad. Een oggend in Von Wiellighstraat in Johannesburg druk 'n Putco-bus my teen die randsteen vas. Gelukkig kon ek kwaai rem en uit die bus se pad kom. Ek het die motorfiets toe verkoop. Ek het verlede jaar 'n Jeep op George gekoop en toe vlieg ek af en ek ry twee dae lank terug, ek alleen en hou stil waar ek wil en eet by die Wimpy waar ek wil. Dit was 'n belewenis.

Hulp gevra met Hoofstad-geskiedenis

JOHANNES FRONEMAN, professor aan die Skool Vir Kommunikasiestudie aan die Noordwes-universiteit en skepper van die webblad Mediamanese skryf: Ek het net 'n paar uitgawes van Hoofstad en niks oor die geskiedenis nie. Nee, nie niks nie, maar te min. Niks oor At de Beer nie. En ek het nie 'n Treurnicht-Hoofstad nie. Ek onthou die vet swart koppe op die voorblaaie in 1972 (toe ek in Pretoria in die Lugmag was), maar het nie so 'n kopie nie. Kan die mense van K’rant nie help nie!? (Diegene wat kan help, kan prof Froneman regstreeks skakel by JD.Froneman@nwu.ac.za. – Red.)

Dankie vir inkyk in verlede

VIKTOR EN GRETCHEN HESSE skryf oor Thijs Nell bydrae “Verlepte kranse – ‘n wandeling deur my kerkhof”: Dankie vir jou inkyk in jou Perskorverlede. Hermie Hendriks was saam met my ‘n trustee/direkteur van Dagbreektrust – ‘n ware heer en Afrikaner. Dankie vir jou onkreukbare integriteit – en pragtige kuns. [Viktor Hesse is ’n uroloog, maar nou afgtetree en woon op Plettenbergbaai. Hy is steeds sterk betrokke by allerlei trusts en sake in en om die kunste, ook by die Nasionale Letterkundige Nalatenskap (NALN.) Hy was ook op die Kuns-wat-ook-al van die Universiteit van Pretoria en dis hoe ons ontmoet het tydens die ontvangs en opening van die Felix Trust se Vredesfontein (wat ek geskep het) op die kampus van die UP langs die Musaion. – Thijs Nel.]

Karakters leef sommer weer

WILLIE BUYS skryf: Ek wil sê dis ‘n skitterende storie in vandeesweek se K'rant deur nie so kleine Gerhard Kleijn. Lekker geskryf in vlotvloeiende taal - dit ontruk al dié karakters uit vervloë dae uit die vergetelheid sodat hulle weer lewendig word voor jou geestesoog. Ek het my so verkneukel aan die soepel taalgebruik, dat ek gewens het dit wil nie ophou nie! Ouerig, maar nog nie kouerig, Gerhard!