Perskorhaan, Maart 1974.
En toe, so 'n maand of wat gelede toe 'n span verslaggewers/sters besig was om die matriekuitslae op kantoor te verskaf, het Tom ewe doodluiters ingestap en oorgegaan tot die aksie om sy personeel "beter te leer ken".
Hieronder is die resultate. (Let op hoe die asters se oë gesluit is in byna volle oorgawe!)
Van links af kus Tom (mev. Buys sal nie van die woord soen hou nie!) vir Emmie Bornman; Emmarentia Hutten, Kieta van den Bergh en laastens Carénè Boshoff. So moet mens mos jou personeel - veral die vroulike personeel - leer ken! Ander nuusredakteurs in ons groep word egter nie aangeraai om Tom se voorbeeld te volg nie! (Uit: Perskorhaan, Maart 1974)
* * * * *
Willie Buys het ‘n huldeblyk aan sy broer Tom Buys geskryf, maar het ook wyle Tom se nabye familie gevra om iets oor hom te lewer. ‘n Samevatting van die intieme gesinslede se herinnering aan hom is gedoen deur Arica Fouché, Tom en Annemien (sy vrou), se oudste dogter. Arica is ‘n bestuurder by die oproepsentrum van ’n geregistreerde finansiële diensteverskaffer.
Benewens Arica is daar die eersgeborene Xander wat jare lank ‘n suksesvolle uitskieter is en was by die Wetenskaplike Nasionale Nywerheidsraad (WNNR). Hy is die vader van twee seuns en nog twee stiefkinders van sy tweede vrou.
Therina Venter |
Arica Fouché |
Arica, die een kind wat klaarblyklik Tom se talent met die geskrewe woord van hom ontvang het, skryf Tom Buys was ‘n man wat sy vrou en kinders bo alles geplaas het, wat as jong man reeds besluit het hy gaan bo sy omstandighede uitstyg. Deur harde werk en deursettingsvermoë het hy vir hom naam gemaak in die koerantbedryf en is op ‘n ‘n baie jong ouderdom as nuusredakteur van Die Vaderland aangestel.
Xander Buys |
Ek kyk na die lewens van my boeta, Xander, en my sussie, Tharina, of Niens soos ons haar noem, en ek sien ook my pa in hulle. Dieselfde dryfkrag en deursettingsvermoë is ook diep binne hul wesens. Boeta het ‘n suksesvolle loopbaan by die WNNR, wat met harde werk die leer van sukses geklim het. Wat altyd daar is vir sy vrou en seuns. Wat ‘n seun is waarop my ma trots kan wees. Wat ‘n boeta is waarheen ek en Niens met al ons probleme kan gaan. Wat werklik belangstel wat in sy familie se lewens aangaan. Ek kyk na hom en sien die skadu van my pa.
In Niens, skaars drie jaar oud toe ons pa dood is, het hy ook ‘n stukkie van homself agtergelaat. Die lewe het haar lelik rondgestamp en die meeste mense wat ek ken sou lankal op moedverloor se vlakte gaan sit het. Nie sy nie, nie Tom Buys se jongste nie. Elke keer het sy opgestaan en net nog harder gewerk vir dit wat sy wou hê. In haar leef ook die liefde vir haar man en kind en haar betrokkendheid om hulle te help om hul drome te verwesenlik is duidelik sigbaar. Haar aanhouer-wen-gesindheid is defnitief ‘n karaktertrek van my pa.
En dan Ma Mien – wat deur 38 jaar my pa se filosofieë aan ons geleer het. Wat haar eie lewe daarvolgens leef. Met bekende woorde soos “… jou pa het altyd gesê …” het ons grootgeword. Die een filosofie wat ons almal voorgehou is: “Die Here sorg vir sy kinders.” ‘n Vrou wat jare alleen die pad stap, maar wat haar geliefde Tom in haar drie kinders kan sien.
Tom Buys sterf in 1974 sonder ‘n groot aardse nalatenskap, maar hy laat homself aan ons agter, diep daar waar jou siel is.
(Annemien het ná Tom se dood teruggekeer na die onderwys. Jare later het sy by haar suster en swaer se reisagentskap aangesluit en onder meer as toergids die wêreld vol gereis. – Red.)