Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.4.13

‘Hoenderhok’ open nuwe loopbaan

RAYMOND DICKER skryf: Na aanleiding van Willie Buys en Andries Botha se artikel oor Gert Hattingh: Ek het destyds net ná Gert van Groenkloof by Krokodildrif-Wes af getrek het 'n ou opvouwoonwa se onderstel by hom gekry. Ek het die ding op sy plaas gaan haal en huis toe geneem. Ons bediende het my so ewe gevra of ek dit gaan gebruik om 'n hoenderhok te maak.

Ek het daarmee vir my 'n mobiele donkerkamer gebou en ná ek by Die Transvaler weg is vir myself begin werk. Ek het oral rondgery en feeste ensomeer afgeneem en die foto’s amper onmiddellik beskikbaar gehad. Só het ek toevallig in die motorsportwêreld beland. Teen die tyd dat die wedren afgehandel is, het ek die foto’s beskikbaar gehad. A4’s nogal.

Toe moes ek begin meeding met digitale fotograwe totdat ek self daarheen oorgeskakel het, weliswaar nie sonder groeipyne nie. Ek het al Natal toe gery om foto’s te neem en toe ek die foto’s wat jy op die kamera kon sien op die rekenaar wou oorlaai, was die foto’s eenvoudig weg.

En só het ek my stelsel verbeter tot ons sowat twee jaar gelede 'n skootrekenaar gekoop het. Dit was die beste ding wat ek kon doen, want nou hoef ek nie meer by die rekenaar te wag dat deelnemers na my toe kom nie, maar ek gaan na hulle toe in die kuipe.

Dit was ook moeilik vir my, wat geleer het jou negatiewe is jou eiendom en jy het die kopiereg daarop, ens.

Ek het eers net foto’s afgedruk, maar met die ink en fotopapier wat so duur is, het ek besluit om net laserskywe te verkoop. Die mense wil mos deesdae die foto’s op facebook, ens, plaas. Ons het darem so 'n maand gelede 'n groot boerpot getref deur twee kameras en 'n skootrekenaar vir R6 000 te kry.

(Illustrasies gemanipuleer. - Red.)