Die pad was lank en ons het werklik wind en weer getrotseer op ons omswerwinge. Dit was 1979 en ons het elkeen ‘n begroting van R100
vir die maandlange motorfiets-vakansie Kaap toe gehad. Dit was ook die jaar dat Barbara Barnard van hartman Chris Barnard haar boetiek in die Goue Akker in Kaapstad se middestad geopen het.
Jeffreysbaai |
Nog ‘n Jeffreysbaai-ondervinding was ons soeke na ‘n blyplek omdat daar nie plek vir ‘n muis in die enigste hotel was nie. Die blyplek wat ons gekry het was toe ‘n heerlike huis wat spoegafstand van die strand af was en die gasvrou was vol hippie-bloed. Sy het ons hartlik verwelkom en gesê daar is geen roetine of rëels nie. As ons wil eet, moet ons haar sê en wanneer ons wil drink, moet ons roep dat sy kan drank bring. Dit was ‘n heerlike rustige en gemoedelike tydtjie wat ons daar deurgebring het. Die prys, as ek reg onthou, was minder as R20 vir slaapplek, kos en drank. Dié feit is belangrik vir wat later volg.
In Knysna het die vier van ons in ‘n hotel gebly wat redelik baie gange en draaie gehad het. Ek en Willie se metgesel het vroëer as die mans die aand gaan inkruip en Willie moes ook voor Philip kooi toe gegaan het, want Philip het nie sy kooi gekry nie!
Die volgende oggend by ontbyt moes ek omtrent verduidelik waar ek die vorige nag was. By nadere ondersoek blyk dit toe dat Philip ná sy slaaptap sommer na die naaste kamer gestap het. Die enigste probleem was dat dit nie ons kamer was nie!
In Kaapstad het ons by familie en Willie-hulle by oudkollegas en vriende gebly. Die reëling was dat onsmekaar elke oggend 10:00 by die Elizabeth-hotel naby die Seepunt-swembad ontmoet. Die reëling het vir ‘n hele klompie dae gegeld. Daardie tyd het Willie sy vodka met gekleurde melk gedrink en sy voorkeure was of pienk of groen melk. Kollega Piet Ebersöhn het dit Willie se Russiese melkommel genoem. Omdat ons oornagplek nader aan die hotel was, was ons altyd voor Willlie-hulle by die hotel en die kelners wou elke dag weet of Willie rêrig nie siek is nie en of ons weet watter kleur melk hy vandag sou drink.
Siende dat ons op motorfietse getoer het, het elkeen ‘n rugsak met net die nodigste gedra. Die nodigste was skoon onderklere, ‘n ekstra jean en hoogstens twee T-hemde. Dis dan ook geklee in hierdie gewade dat ons Barbara Barnard se B & B-boetiek in die Goue Akker gaan besoek het. Fout, groot fout! Met die intrapslag kyk die vroue ons aan asof die katte ons ingesleep het. Ek sê toe ek sal maar ‘n T-hemp koop om die situasie te ontlont. Nog ‘n fout, want toe ek by die toonbank kom, kos die hempie R95 - 95% van my hele vakansiebegroting!
Op pad terug Johannesburg toe na ‘n heerlike vakansie en naby Graaff Reinet lê ek soos gewoonlik op dielangpad teen Philip se rug en slaap. Ek skrik wakker toe die motorfiets spoed verloor en Philip met sy voete hoër as die motorfiets se handsvatsels agter die stuur sit. By stilstaan skop hy die voetrus uit en spring teen die spoed van lig van die fiets af weg.
Ek bly sit, min wetende dat Philip toe pas oor ‘n reuseslang gery het en hy, met sy vrees vir slange, voor sy geestesoog sien hoe hierdie witwarm briesende slang teen die enjin vasgeslaan het en die naaste sagtevleis soek om te hap!
Ai, dit was ‘n heerlike vakansie!