Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.4.13

Hans speel ’n werk met vuurhoutjies los

K’rant het HANS LOMBARD, gewese joernalis van Die Transvaler, Die Vaderland en SA Financial Gazette gevra om van sy veelbewoë loopbaan te vertel. Hans skryf: Hoe het ek by Die Vaderland beland, vra iemand my onlangs.

Dit was vroeg in 1956. Ek het pas by Die Transvaler bedank en ‘n pos aanvaar as redakteur van ‘n publikasie in wording, “Wie is Wie in
Johanesburg?” Ná die eerste maand was daar ‘n dispuut oor my salaris. Dit is telefonies met die uitgewer van die publikasie ooreengekom. Laat dit ‘n les wees. Moet nooit telefoniese ooreenkomste aangaan nie. Sit dit op skrif.

San Souci-hotel
Om dié dispuut op te los, het die uitgewer ‘n afspraak met my gemaak om hom drie-uur een middag by dieSans Souci-hotel, Aucklandpark, te ontmoet. Ek het betyds gearriveer en ‘n koeldrank bestel. My eerste kennismaking van dié berugte hotel. Ek het wel al te vore van die Sans Souci-hotel in Berlyn gelees waar Hitler ‘n afspraak met Goebels gehad het waar hy hom as minister van propaganda aangestel het.

Toe die man teen 15:30 nog nie opgedaag het nie, het ek die kroeg binnegestap, platsak soos wat ek was, om ‘n dop te maak. Brandewyn was 1/6 sopie (ongeveer 15 sent).

In ‘n hoek van die kroeg was vier baie lawaaierige ouens besig om vuurhoutjies te speel. Hulle het net dubbels bestel en kaartjies geteken. Ons was die enigste vyf klante. Nie te lank nie of hulle nooi my om by hulle aan te sluit en bied my ‘n dop aan. Die manne was toe al lekker getrek.

Ek het hulle gou laat verstaan ek kan nie vir hulle ‘n dop koop nie, want ek het nog nie my salaris ontvang nie en die ou met my tjek met wie ek die afspraak het, het nie opgedaag nie. “Geniet ‘n dop saam met ons, maar vir wie werk jy?” vra een van hulle.

Ek verduidelik dat ek pas by Die Transvaler bedank het om die nuwe pos te aanvaar.

Len Cilliers (1972)
“Nee, man, kom werk vir ons by Die Vaderland, ek is Jannie Fourie, die nuusredateur.” Hy stel my aan die ander drie voor: Len Cilliers, assistent-nuusredakteur, Cor Trichardt, rubriekskrywer van Op Die Wakis, en Bokkie van de Rhyden, ‘n hoofredaksielid.

“Kom spreek my moreoggend tienuur op kantoor,” groet Jannie Fourie my terwyl hulle nog ‘n paar dubbels bestel en ek loop. Dis 17:00.

Op die kop 10:00 die volgende oggend het ek Jannie Fourie se kantoor binnegestap. Sy sekretaresse, Jeanette Snyman, vra waarmee sy kan help. “Ek het ‘n afspraak met mnr Fourie.” Sy blaai deur sy dagboek en meld sy sien geen afspraak nie, maar gaan hom raadpleeg. Sy kom terug en skud haar kop. “Nee, mnr Fourie sê hy het geen afspraak met jou nie.” Ek deel haar mee sy moet hom gaan herinner die afspraak is gistermiddag in die Sans Souci-hotel beklink terwyl ek saam met hulle vuurhoutjies gespeel het.

WH Wilcocks
Half teësinnig stap sy weer sy kantoor binne. “Jy kan maar instap,” beduie sy toe sy terugkom. Oom Jannie,soos ons hom genoem het, stel my dadelik aan en gee my ‘n aanstellingsbrief vir ‘n proefdtydperk van ses maande. W H Wilcocks was destyds die hoofredakteur van Die Vaderland.

Ná voltooing van die ses maande stel Jannie Fourie my permanent aan en verhoog my salaris met 15 pond (R30) en gee my my permanente aanstellingsbrief. Nou moet ek sekere dokumente by die sekretaris van Die Vaderland, JA Plekker, gaan invul. Dis ‘n elle lange dokument en ‘n onvriendelike man. Toe ek die deel van opvoedkundige/ akademiese kwalifikasies met die versoek vir afskrifte van sertifikate invul, skryf ek: St Ses. Dit was, en is vandag nog, die somtotaal van my opvoedkundige kwalifikasie.

“Nee,” het Plekker beduie, “met daardie kwalifikasie kan jy nooit permanent in die redaksie aangestel word nie. Jy moet minstens ‘n graad of een of ander gelykstaande kwalifikasie besit.”

“Maar hier is my permanente aanstellingsbrief,” het ek teruggekap. Hy wou niks weet nie. Ek is terug na Jannie Fourie, wat die telefoon opgetel en binne ‘n oogwenk korte mette met Plekker gemaak het. My aanstelling is beklink.

Ek was slegs drie jaar by Die Vaderland, van 1956 tot einde 1958. Maar aan Die Vaderland het ek te danke dat ek ‘n internasionale joernalis geword het wat die aardbol verskeie kere omsirkel het. Met wêreldleiers skouer geskuur het. Agter die Ystergordyn, die Bamboesgordyn, in Afrika, die VSA, die Verre Ooste en Europa met sy mengelmoes van teenstrydige kulturele en politieke geskille gaan kuier het.

In 1958 was ek, onder meer, motorredakteur van Die Vaderland. Apie le Roux, baas van Vanroux Motors in Eloffstraat, Johannesburg, was die invoerder van die Borgwardmotors uit Duitsland. Die vlagskip was die Isabella. Borgward het ook die Lloyd en Goliath vervaardig.

Apie le Roux was die eerste Afrikaanse motorhandelaar in Eloffsraat, destyds die Mekka van die motorbedryf in die Goudstad.

Tom Naude
Carl Borgward
Op ‘n dag versoek Le Roux my of ek nie ‘n minister kan nader om die nuwe Isabellabekend te stel nie. Ek nader die flambojante oom Tom Naudé, 'n persoonlike vriend van my, Minister van Gesondheid, later president van die senaat en waarnemende staatspresident. Hy stem in. Le Roux laat die berig vertaal en stuur dit aan dr Carl Borgward in Bremen, Duitsland. Dr Borgward was so in sy skik met die berig dat hy in 1958 ‘n uitnodiging aan my rig om die nuwe Isabella op ‘n toetsrit na Skandinawië te bestuur. Ek laat hom weet dit sal nie nuus maak nie. Ons moet met sy kleinste motor, die Lloyd, Moskou toe ry. Hy stem in.

Suid-Afrika het geen diplomatieke betrekkinge agter die Ystergordyn nie. Hoe kom ‘n mens in Moskou? Niemand, geen reisagentskap in Suid-Afrika nie, kan my sê waar en hoe om aansoek te doen vir ‘n Russiese visum. Die bestuurder van ‘n reisagentskap in Lovedaystraat stel voor ons stuur ‘n telegram aan Intourist in Moskou, die amptelike Russiese toeriste-agentskap .

Die Lloyd-motor
Ons stuur ‘n betaalantwoord-telegram met al my besonderhede met die versoek om ‘n visum. Drie weke later kom die antwoord terug.”Visum toegestaan. Sal by die Russiese ambassade te Londen uitgereik word.”

By die Russiese Ambassade in Londen toon ek my telegram van Moskou. “Nee,” sê die amptenaar. “Moskou het geen reg om so ’n telegram aan jou te stuur nie. Jy moet ‘n aansoekvorm om ‘n visum hier invul en dit sal ongeveer 14 dae neem om ’n antwoord van Moskou te kry.”

In Londen, wat nie op my program was nie, moet ek nou 14 dae oorlê. In daardie tyd besoek ek Fleetstraat en maak kennis met talle joernaliste en koop elke dag verskeie koerante. Wat ‘n belewenis om te ervaar hoe daardie nuusmasjien funksioneer.

Ná 14 dae klop ek weer by die Russiese ambassade aan, net om te verneem nog geen woord is van Moskou ontvang nie. Ek verduidelik ek kan nie langer wag nie. Daar is 'n program in Bremen gereël waarvandaan ek moet vertrek. Die amptenaar sê ek moet met my reis begin. Hy sal hul ambassade in Amsterdam van my visum verwittig en ek kan dit daar kry.

So begin my reis na Moskou sonder 'n visum. Volgende keer vertel ek verder hoe ek 'n visum bekom het.