Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.4.13

Tandestorie ontstig oom Hennie dubbeld

PIET ROODT skryf: Terwyl ek Willie Buys se herinneringe oor Rika van Graan lees, toe onthou ek van die storie van die tande.

Ek was ’n jong verslaggewer by Die Transvaler. Oom Hennie Kotzé (destyds het ons hulle nog ge-oom!) was in die stoel, toe my kontakte by die Johannesburgse Staatslykshuis my met 'n storie bel wat ek aanvanklik nie wou glo nie. Maar toe die manne aanmekaar giggel ...

Hulle het vertel twee vroue is terselfdertyd by die Johannesburgse Algemene Hospitaal (daardie tyd nog in Hillbrow) toegelaat. Albei sou die een of ander operasie ondergaan.

Die een word toe gesond, maar die ander een het gesterf. Albei het valstande gedra en soos julle weet, word dié vooraf uitgehaal.

Wyle Jan Spies het ook mos so 'n storie oor tande vertel.

Ewentwel, toe die vrou wat gesond geword het haar tande vra, loop haal die verpleegster dit. Maar toe die vrou dit inpas, haak dit iewers vas en sy sê dis nie hare nie.

Die verpleegster gaan kyk toe weer en toe sien sy sy het die verkeerde stel tande in die lyk gesit.

Sy het toe nie geweet wat om te doen nie. Die suster het glo gesê sy moet die valstande uit die lyk gaan haal.

Die verpleegster het na die lykshuis toe afgesit, wat nie ver van die hospitaal af was nie.

Daar gekom, het sy gesukkel om die lyk se mond oop te kry, want die vrou was toe al ’n hele rukkie dood.

Uiteindelik het sy ’n distriksgeneesheer gebel, wat aanbeveel het sy lig die lyk se kop net ’n entjie op en kap haar so ’n karatekap op die ken. Die mond sal dan oopspring, en sy kan die tande uithaal.

Die verpleegster doen toe so, en sy slaag daarin om die tande uit te kry.

En toe hol sy terug hospitaal toe. En sonder om die tande eers te was, gee sy dit aan die regmatige eienaar!

Met die aanhoor van die storie was ek baie opgewonde. Dis nie aldag dat ’n mens so iets teëkom nie. Maartoe ek die storie aan oom Hennie Kotzé vertel, word hy so naar hy jaag my uit sy kantoor uit!

Ek was woedend. Hoe kon Die Transvaler nie só n goeie storie wou publiseer nie?

En net daar, toe skryf ek my eerste storie vir ’n Sondagkoerant.

Die Maandag daarna spog ek by oom Hennie oor my Sondagkoerantstorie en hy was nie 'n bietjie kwaad omdat ek met Die Transvaler se storie loop smous het nie!