Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.4.13

Die afgestorwenes kry altyd eer, maar Tom Buys het syne verdien!

WILLIE BUYS skryf: Oorlede Thomas Alexander Buys was ‘n gewilde joernalis en mens onder sy eertydse kollegas. Dit was destyds ‘n groot tragedie dat hy aan die lewe ontruk is terwyl hy soveel potensiaal op joernalistieke gebied, skryfwerk en uitstekende personeelhantering as nuusredakteur van die destydse Die Vaderland gehad het wat nog by verre nie ten volle
ontplooi was nie.

Willie Buys
Tom het sy loopbaan as joernalis by Die Tranvaler begin toe dit nog aan Voortrekkerpers behoort het. Hyhet daar sommer gou-gou naam gemaak met sy puik nuusaanvoeling en hardwerkendheid. Een van die groot stories waarmee hy sy reputasie as gedugte joernalis op ‘n baie jong ouderdom gevestig het, was een van die grootste mynrampe in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die Clydesdale-mynramp by Coalbrook aan die Vrystaatkant van Sasolburg.

Tom het Die Transvaler velaat voordat dit by Afrikaanse Pers ingelyf is. Hy het by die koerant Dagbreek en Sondagnuus aangesluit, waar hy as hoofsubredakteur by Jan Syfert oorgeneem nadat dié ‘n pos by die SAUK aanvaar het. Tom het later die hoofsub-redakteur van Die Vaderland geword voordat hy gevorder het tot nuusredakteur waar hy steeds met groot deernis en aangename herinneringe onthou word.

Japie Bosch
So vertel die latere nuusredakteur van Die Vaderland en mederedakteur van K’rant, Japie Bosch, dat Tom vir hom ‘n mentor was. Hy skryf na aanleiding van beplannings-kommunikasie tussen ons oor inhoud vir K’rant: "Willie Buys skryf hy het self wenke opgetel uit stories. Nou weet ek Willie sal nie so in ‘n koerant skryf nie, maar eendag het ék. Jaap de Villiers oud-bokspromotor, miljoenêr-sakeman en politikus, kan probleme by die stadsraad optel, onthou ek daai sin. Toe sak ‘n sub op my neer. Hy het my by my lessenaar kom haal. Langs hom laat staan. "En jy noem jouself ‘n Afrikaanse onderwyser! Nou wil jy by ‘n koerant werk. En jy skryf so!" Hy verduidelik toe dat mense papiere optel, maar nie probleme nie. En sommer ‘n paar ander lessies ook. Ek wou my baadjie vat en loop, so onnosel het ek gevoel. Van daai dag het ek geweet: Wees versigtig. Daai sub se naam was Tom Buys."

Bienkie Wessels
Frans Wessels
Nog iemand wat haar deernisvolle bydrae tot die nagedagtenis van Tom ter vertroosting na die begrafnis met ons kom deel het, was die befaamde Bienkie Wessels. Sy, haar man Frans, ook ‘n hoëkop destyds in Perskor, en Tom was goed bevriend. So ook wyle Frans du Toit, Tom se voorganger as nuusredakteur by Die Vaderland.

Vergeet ook nie van wyle Dirk Richard, toe redakeur van Dagbreek en later van Die Vaderland. Tom was ook ‘n man se man en het agting afgedwing by al die pers se legendes soos Chris Vermaak, wat later by Johan Vosloo oorgeneem as nuusredakteur van Dagbreek toe dié tragies dood is in ’n motorongeluk. Chris, oftewel ou "Grim" na aanleiding van sy gunstelingwoord om situasies te beskryf en te beklemtoon, was natuurlik ook baie bekend as skrywer van boeke oor veral terrorisme. Hy was ook ‘n uitnemende misdaadverslaggewer in sy tyd.

Frans du Toit
Terug na Bienkie. Dié wat haar geken het, het geweet van haar slag met die geskrewe
Dirk Richard
woord. Sy was saam met ander van haar geslag vrouebaanbrekers in die joernalistiek (lees hier), soos bv die veelgeprese Rykie van Reenen.

Bienkie het waarderend en vertroostend vertel van die spesiale band tussen haar en Tom toe hulle nog saam by Die Vaderland se redaksie gewerk het. Ná uitmergelende werksessies het Tom gewoonlik ná Die Vaderland gesak het, by haar lessenaar kom staan en dan geklop-klop aan haar lessenaarlaai. Hy het geweet sy bêre ‘n soetdingetjie daar. Die klop was hul morsekodetaal en sy het woordeloos ‘n lekkertjie uitgehaal en aan hom oorhandig.

"Kit Kat" Vermaak
Praat van lekkers. Wyle Kittie Vermaak, onder meer vroueredakteur van Die Vaderland, was nogal trots op die troetelnaampie wat Tom vir haar gehad het: Kit Kat, het hy haar genoem. Dié naam het hy geleen by die baie gewilde sjokolade. (Hoop sy en Tom deel nou ‘n Kit Kat waar hulle ookal is.)

Tom was ‘n man met groot skryftalent. Selfs al op skool het hy akkolades ingeoes vir die Afrikaanse opstelle wat hy geskryf het. Later, terwyl hy as joernalis gepraktiseer het, het hy boeke vir die Uitgewery vertaal. Hy het ook saam met die kranige fototgraaf Nic van der Linde fotoverhale geproduseer wat ook in Dagbreek en Sondagnuus gebruik is.

• Dus neem ek die vrymoedigheid om ook te vertel dat hy onwrikbaar in dissipline geglo het om ordelikheid en balans in sy lewe en loopbaan te handhaaf. Ek het reeds genoem dat hy ‘n soort vaderfiguur was vir ons ander Buysbroers. Dit het ook die dissiplinêre aspek ingesluit.

Ek vertel ‘n staaltjie uit ons familiegeskiedenis waaroor ons later kon lag, maar NIE toe dit plaasgevind het nie. Tom het in higiëne geglo en dit het gereeld tot inspeksies van die slapende Buys-telge gelei. Ek skryf doelbewus slapende want Tom het in daardie stadium laatskof by Die Transvaler gewerk. Dit het beteken dat hy eers so teen twee-drie uur tuisgekom het.

Die spesifieke gebeurtenis het in die middel van die snerpend koue hoëveldse winter plaasgevind. Tom het die komberse van ons lotjie afgepluk en Lifebuoy-skone snorkendes aangetref. Maar helaas, die Lifebuoy-seep kon nie die krake van ons gebarste voete weens skoenlooslopery reinig nie. En daar beland ons een na die ander in ‘n bad gevul met water, seep en die gesin se wasgoed wat gelê en week het vir die volgende dag se was.

Moenie vir my vra wat verder gebeur het nie, maar ons is uiteindelik al brommende en kermende spik-spikkelskoon terug in die bed. Nie almal het dit gelate aanvaar nie, maar Tom het vasgeskop. Vuil uile deel nie ‘n kamer met hom nie!

Dankie, Tom, vir die dissiplinêre grondslag wat jy ons gelê het! (Nou nie dissiplinêr soos in militêr nie, maar ek glo vas dissipline is een van die hoekstene van ‘n mens se integriteit en karakter.)