Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.3.13

Willie Buys is eintlik ‘n ‘recycled’ skollie


Philip Deetlefs en Willie Buys het op 'n tyd saam, elkeen op sy motorfiets, met hul meisies Kaapstad toe gery.

Op twee 750cc-menere nogal. Hulle vertel van daardie ondervinding.


PHILIP DEETLEFS skryf: Ek onthou die dae (omtrent 35 jaar of langer gelede) toe die aanskaf van ‘n nuwe motor met ‘n Perskor-salaris nie eens in jou wildste drome oorweeg kon word nie – al het die goedkoopste splinternuwe motor in die later jare sewentig nog heelwat minder as R2 000 gekos.

My (enigste) vervoermiddel was ‘n motorfiets en ek onthou Willie Buys het ‘n ouerige rooi Alfa Romeo gehad.

Nietemin, my motorfiets het Willie op die idee gebring dat hy dalk die Hell’s Angel in hom moet wakker maak en ook in twee wiele belê om in die prettige vryheid van die motorweë te kon deel terwyl die wind jou hare deurmekaar waai.

Ek het ‘n Honda van 750 cc gehad en Willie besluit toe om dieselfde te kry, maar die heel nuutste model. Nuus- redakteurs se salarisse daardie dae het aansien- lik minder finansierings-kopkrap geverg as dié van jong verslaggewers.

Willie het in die vertoonlokaal op die motorfiets van sy keuse gaan sit en ongetwyfeld het sy verbeelding met hom die loop geneem, want dit het nie veel meer as die een sit gekos om die fiets te koop nie. “Kry die blou ‘bike’ reg en laat weet wanneer ek my yster kan kom afhaal”-tipe van gemaak-ongeërgde opdrag.

Dit was eers met die afhaalslag wat Willie besef het hy is effens korter as Peter Fonda toe hy in die klasieke motorfietsfliek, Easy Rider gespeel het. “Not such an easy ride” wanneer dit by stilhou kom vir iemand wie se voete nie teer vat as hy regop op die fiets sit nie! Willie moes so half-en-half sy een knie oor die saal haak om met sy voet by die stopstraat die motorfiets op die pad te stut.

Om hierdie kunsie aan te leer het ek en hy klompe draaie op stil plekkie met die motorfietse gaan oefen tot Willie die kuns letterlik onder die knie gekry het.

Hy het toe so gekonfyt geraak met die motorfiets (en ek sê dit in alle eerbied en liefde) dat ek op ‘n goeie more besef het Willie Buys is eintlik niks anders nie as ‘n ge-“recyclede” motorfiets-skollie! Mense wat meer beskermd grootgeword het, sou dit nie reggekry het nie.

Die nuutgevonde vaardigheid het gou gelei tot nuwe uitdagings. Die eerste was om met ons geliefdes (Wilma Rudman was myne) ons fietse vir ‘n vakansie Kaap toe te vat.

Ons was op ‘n streng begroting en ek onthou ons het vir ‘n dubbelkamer die eerste aand op Colesberg R8 betaal en gedink dis nogal duur. Al was ontbyt ingesluit.

Ons het ook nie sommer die kortste, maklikste pad gevat nie. Eers Port Elizabeth toe sodat ons die Tuinroete tot in Kaapstad kan ry. Suid-Afrika se Route 66? Ons hou mos ‘n motorfietsvakansie!

Die dag toe ons by PE wegtrek, het die wind so sterk gewaai dat ons letterlik omtrent 45 grade teen die wind moes gelê het om op twee wiele te bly. Net om die draai by Jeffreysbaai het ons toe die Martin Lϋther-besluit geneem. Nie verder nie, want g’n mens kan dit teen so ‘n stormwind uithou nie. Nie eens rowwe Hell’s Angels-klas koerantmanne soos ons nie!

Ons het later ‘n paar dae lank in Kaapstad gekuier. Willie-hulle het by David Briers gebly, wat voorheen fotograaf by Die Transvaler was en toe kosfotograaf by Huisgenoot. Lekker in die Boland rondgery en toe weer die lang pad aangepak terug Johannesburg en Perskor toe.

Lekker vakansie gewees en steeds een van die onthou-vakansies wat ek op die stoep eendag heerlik aan sal sit en herkou.

Ek is ook vol moed dat vriend Willie ook nog hierdie vakansie onthou en dat hy sy eie weergawe met ons sal deel. Soos dit ‘n ordentlike skollie betaam, of wat sê jy, Willie?

WILLIE BUYS reageer toe op Philip se uitnodiging:

Ek het nooit ‘n middeljare-krisis gehad waartydens ouballies in dié oorgangsjare skielik spoggerige sportmotors koop, hul boeplywe verspottiglik klee en allerlei lekkeruikgoeters aanspuit en aansmeer nie. Nee, ek het my middeljare-krisis reeds veel vroeër uitgeleef deur ‘n motorfiets te koop.

Nie sommer ‘n hierjy se motorfiets nie, maar ‘n MENEER! Die Honda 750 CBK veelklep-viersilinder-monster was doelgemaak vir die langpad, ‘n sogenaamde toerfiets. En omdat hy bekend gestaan het as ‘n toerfiets, moes daar opsluit getoer word met hom.

Nie sommer net ‘n paar draaie na die Hartbees-poortdam en ander ontbytritte nie, nee, die regte, egte langpad. Dié geleentheid het hom voorgedoen toe Philip en Wilma (toe nog Rudman) hul voorneme bekend maak om Kaapstad via die Tuinroete te gaan besoek.

Die probleem was: ek kon nie motorfietsry nie en het nie ‘n rybewys daarvoor gehad nie. My enigste tweewielry-ondervinding was my ou Vespa-bromponie van 125 cc in my laat tienerjare, dus het ek die basiese beginsels geken. Maar hierdie monster was ‘n ander ysterperd om baas te raak.

Soos Philip gemeld het, was ek ‘n bietjie oorgeesdriftig in my keuse en het my kort bene nie gekorreleer met die hoogte van die Honda nie.

Ek het ‘n klomp rylesse ingepak in ‘n kort tyd met ‘n senuagtige Philip wat moes pa staan vir my pogings. Selfs ‘n ryskoolkursus deurloop, maar met ‘n kleiner motorfietsie. Baie omgeval as ek die logge Honda te skuins laat stilhou het en my tekortskietende bene nie die nodige stutwerk daarvoor kon doen nie. Sommer gimnasiumwerk onnodig gemaak met my gehup en gesteun om die verchroomde kragbron weer staande te kry.

Maar ry het ons gery op ‘n goue avontuur wat een van my lekkerste herinneringe sal bly. Philip met Wilma agterop en ek - toe nog ‘n loshotnot - met my vroulike aanhangsel van daai tyd al pompende in my ribbekas en by tye aan die sing om haar vrees te verdryf, as my metgesel.

Van hotel tot hotel en dorp tot stad het ons gejollie-patrollie. En laat ek dit maar baie breëbors sê, nie een keer geval nie!

In Kaapstad self het ons twee weke deurgebring eers by wyle Johann van Loggerenberg en toe by die fotograaf David Briers, vroeër verbonde aan Die Transvaler. Dit is David wat een aand met ‘n groot glimlag vir my gesê het: “Baas, weet jy hoe lyk jy op daai groot motorfiets? Soos ‘n brommer op ‘n drol!” Waarop ek noodgedwonge moes saamlag, want ek het nie ander slaapplek gehad nie.

Partykeer was my senuwees ook maar flenters, maar dit het ‘n kwessie van wilskrag geword. Vasbyt en nogmaals vasbyt!

Daar het my vriendskap ‘n lewenslange verhouding met die Deetlefse geword, deur al die hartlike dinge wat ons met die hulp van broeder Bacchus deur- gemaak het (die drinkery darem net as ons nie ander toerverpligtinge gehad het nie).

Philip was teen dié tyd lankal ‘n gesoute motorfietsryer wat al die truuks geken het. Maar ek kom darem nie help nie om in my mou te lag toe ons een Sondag besluit het om saam met Johann en sy gade van toe, wyle Alta, op een of ander piekniekplek te gaan vleisbraai. Toe ons die oggend opstaan, alles ingepak en die voordeur oopmaak het, het ‘n stormsterk wind soos net die Kaap hom ken (Kaapse dokter?) amper ons asems uit ons monde gewaai. Wat de hel, ons is mos ”tuff” en ons takel daai wind, Johann in sy kar en ons op die motorfietse.

Langs die pad moes ons egter bes gee – veral toe die wind Philip en Wilma saam met die motorfiets omgedop het toe ons vir ‘n verposing stilgehou het. Gelukkig het Philip nie my lekkerkry-laggie gesien nie, want ek het my valhelm opgehad!