Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.3.13

Reünies raak al hoe lekkerder

PEET SIMONIS berig: Die jaarlikse reünies van ons Perskor-lot word al hoe lekkerder. Dié keer in Johannesburg het die eerstes al voor elf opgedaag by die eetplek wat Hans Lombard gereël het en eers teen vieruur het ons aan huis toe gaan begin dink. Daar was ’n stuk of vyftig van ons bymekaar.


Hermie Hendriks (bo) aankoms het ‘n beroering veroorsaak – almal spesiaal bly om hom tesien. Partykeer lyk dit of hy nou begin oud word – ook al goed oor die tagtig – maar op die foto wat ek by die reünie van hom geneem het, lyk hy soos nou-die-dag toe ons almal nog by Aucklandpark saamgehok was.


Hans Lombard (bo) – ook al diep in die tagtig en nog steeds aktief aan die werk by sy reklame- maatskappy – en sy Margaret dra ook hul jare goed.


Harald  (links bo) se Alet het nie saamgekom nie, maar Dot Kruger (regs bo), mnr Jooste se sekretaresse, was daar en hulle het lekker gesels oor gister en eergister se dinge.



Wessel Oosthuizen (links), uithalerfotograaf, het van Parys af gekom – sonder kamera – dié dat ek toe maar die foto’s moes neem.
 
Piet Roos (regs), deesdae Pretoriase apteker, het per ongeluk sy vinger in die kragprop gedruk – dis hoe hy se regopstaande hare verskoon het.







Schalk Jacobsz (regs) en Elma Potgieter (hande in die lug) het weer gekom en Schalk praat nog net so baie soos altyd en net so dramaties en onderhoudend.

Fotograaf Jacques Bosch (links) en sy vrou Magriet was daar en het vertel hoe hy die stroewe oom John Vorster moes gaan afneem by die ampswoning van die Eerste Minister. Toe hy tuiskom en hy sien Jacques en Freek Swart, was sy groet:

“Ja, wat soek julle? Wat wil julle hê?”

Toe Jacques later vra vir ’n glimlag vir die kamera het oom John grynsend geantwoord: “As jy tanne wil sien, gaan neem vir Jimmy Carter af!” (Carter was die Amerikaanse president met die grondbonebotterglimlag.)


Andries Botha (bo) het dieselfde storie vertel toe ek hom en Elna gevra het om te glimlag ... en glo dit as jy wil, Harald Pakendorf ook. Só, oom John se het sy punt gemaak.

Foeta Krige van RSG, Frik van der Walt en ander SAUK-ouens was ook by die lekker saam-eet. Foeta het vertel van die keer toe ek en hy in Uganda was op die bloedspoor van Joseph Koiny. Hy het foto’s van ’n gebou se dak af geneem en toe hy wou afklim die leer per ongeluk uitgeskop. Hy het aan die dak gehang so lank hy kon en om hulp geroep, maar niemand het gehoor nie. Toe moes hy maar later los. Sy kamera was onbeskadig maar sy regterarm byna uit sy potjie en het weke lank gepyn. Geringe skade as ek dink aan die dertien mense wat Koiny se terries met ‘n houtstomp doodgeslaan het terwyl ek en Foeta in die nabyheid was.

Hans, in opdrag van Piet Ebersöhn, het gevra dat ek die “tafel”-gebed doen ... en die mikrofoon gebruik. Harald het daarna vertel van die keer toe minister Eric Louw ook gevra is om te bid, maar dit was ‘n lang tafel en hy het nie hard genoeg gebid nie. Toe hy amen sê, het een van die ander ministers opgemerk: “Ons kon jou nie hoor nie, Eric,” bedoelende grappenderwys dat hy weer moet bid – harder die keer.
Eric : “Maak nie saak nie – ek het mos nie met júlle gepraat nie!”

Die jaarlikse reünies is besonders. Hier word vriendskappe van dertig, veertig, vyftig jaar gevier. “Noudat ons oukant toe staan, behoort ons twee ‘n jaar te hou!” het iemand opgemerk.