Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.3.13

Die veranderende koerantvrou: mooier, slimmer, eerliker

BIENKIE WESSELS was al gevestig in die joernalistiek toe die meeste van ons lesers nog op die skoolbanke was. In Perskorhaan van Maart 1973 vertel sy hoe die vrou vastrapplek gekry in hierdie beroep wat op ‘n tyd net vir mans beskore was.

“DIE Veranderende Rol van die Vrou in die Joernalistiek," klink na 'n gewigtlge verhandeling. Swaar op die maag. Kom ons laat dit net daar en begin met 'n southappie: Die veranderende koerantvrou.

(Foto bo:  Bienkie Wessels in 1973.  Toe het sy gesê:  "Sit gerus die ouderdom by.  Die jare was so goed dat ek nie 'n enkele een wil weggooi nie.)


Want "die vrou in die joernalistiek" is aan't verander. Koerantvroue word al mooier (daar was glad al ‘n Mejuffrou Suid-Afrika uit hul geledere) en al slimmer ... en al eerliker.

In my fleur (helaas, nagenoeg 'n honderd jaar gelede) was 'n koerantvrou heel raar. Ons het sulke hoede gedra, en baadjiepakke; sykouse met nate en elegante kostuumjuwele. En ons was baie belangrik. En baie waardig. En baie, baie wêreldwys.

Ons het met l-a-n-g sigarethouers gerook, vreeslik verveeld aan suurlemoen-port geteug (waarvoor ons toe ook maar self moes betaal as ons in die geselskap van manlike kollegas was), en verkieslik oor onderwerpe soos die esksistensialisme en die neo-realisme gesels. (Tot vandag se dag weet ek nie presies hoe een van die twee inmekaarsteek nie, maar toe wis ek als.)

KOUSLOOS

Rykie van Reenen
Daar was destyds darem al uitsonderings. Toe ek in die Kaap vinnig so effens touwys gemaak is, het ek Rykie (van Reenen) op die hoek van 'n tafel haar been sien sit en swaai -- kousloos, met 'n sandaal aan die voet! En toe ek in Bloemfontein begin, het voorgangers vertel dat Dot Serfontein haar ook nie veel aan “die patroon" gesteur het nie.

Vandag is daar g’n "patroon" meer nie -- hoerê! Ek haat baadjiepakke -- en die meisiekinders hou hulle vreeslik natuurlik en ongeërg. Hulle probeer nie snaaks, sinies of gesofistikeerd wees nie en hulle is nie een bang om “dom" vrae te vra om inligting te bekom nie.

Party van die jonges maak ook sonder skroom gebruik van die feit dat hulle vrou is; iets wat in ons tyd toetentaal benede ons grote waardigheid was. Wanneer jy algemene beriggewing gedoen het, was jy verslaggewer -- anoniem en seksloos.

En dit is seker waar daardie "veranderende rol" begin het. By die koerantvroue self.

“ALGEMEEN”

Twintig jaar terug het ons ook “algemeen” gedoen. Dit was toe al nie meer pionierswêreld nie, maar dit was nog 'n effense snaaksigheid; en ons was taamlik selfbewus en op die verdediging.

Vandag is dit vir koerantvroue heeltemal natuurlik. "Die vrou se wêreld" (in ieder geval altyd 'n beklemmende begrip) het na behore gerek tot by die volle interessante heerlikheid -- en die ganse ewe interessante katastrofe -- van menswees midde-in 'n bonte menigte.

Dis nie asof die vrou, aangestu deur hierdie bogtery van "vrouevryheid", doelbewus vreemde veld probeer verower het nie. Dis net dit: alles wat gebeur, raak die vrou; oor enigiets wat gebeur, skryf die koerantvrou.

“MENSLIKE"

Vroeër was daar plek-plek die neiging om gewone verslaggeefsters toe te gooi onder sogenaamde "menslike" stories. Og hemel, ons het "menslike" stories geskryf tot dit by ons ore uitgeloop het. Daar was naderhand nie meer ‘n enkele byvoegllke naamwoord rakende saamvoel, wat ons nie geken het nie.

(Gelukkig het "menslike" stories later uit die mode geraak -- ook by die Sondagkoerante.)

Vandag is daar, sover ek kon vasstel, nie 'n enkele koerantveld wat verslaggeefsters nog nie betree het nie.

Joan Kruger
Politiek: Baie verslaggeefsters skryf politieke berigte, daar was al vroue in die Persgalery en een het selfs politieke korrespondent van haar koerant geword. (Perskor se Joan Kruger sou as "politieke rubriekskryfster” of so iets, die hele Volksraad vir ons almal kon laat leef. Maar nou het koerantvroue mos die manier om te trou en hulle te vestig.)

Finansies: Dis ’n vreemde, verskriklike wêreld; die enigste, dink ek, waar 'n vrou se intuïsie vir haar op aarde niks beteken nie. Ons intuïsies is nog net nie so ingestel dat hulle vir ons kan laat weet die meeste valutamarkte van die wêreld gaan vir 'n hele week gesluit word nie. Van daar die bekoring wat dit vir baie van ons het; daarom dat ‘n hele paar knap en ervare vroue – soos Aida Parker by die (Financial) Gazette – vandag vir die finansblad werk.

Frans Wessels
Misdaad: Misdaadverslaggewers (ek is met 'n oud-ene getroud en praat hier eerstehands) weet te vertel hulle moet knaend saam met die geregsmanne kuier om die groot stories te kry. Misdaad-verslaggeefsters, hoor ek nou tweedehands, hoef net mini's aan te trek. (Bienkie was met wyle Frans Wessels getroud. Hy was later bemarkingsbestuurder van Perskor. – Red.)

Feit bly: daar is ook vroue "op misdaad", die wildste wyk van die lot!

Landwyd: Gee hulle die kans en vroue is dééglik. Hulle sorg vir kontakte oor die hele land. Carnarvon, Oudtshoorn, Vierfontein of Messina -- vra plattelandse redaktrise Rika van Graan; sy't vriende in elke kontrei.

ASSISTENT

Voorgestoeltes: Vroue word mooi groot ook in die joernalistiek, haal selfs redakteursposte, Seker die eerste was Lily Rabkin as assistent-redakteur van 'n Engelse Sondagblad. Onlangs is sy gevolg deur Rykie van Reenen wat in dieselfde hoedanigheid aangestel is by Rapport,

Vra nuusredakteurs hoe hulle vroue se "veranderende rol in die joernalistiek" sien en hulle sê nee kyk, toe en nou bly 'n vroumens maar 'n vroumens. Dit vra 'n man -- 'n knap nuusredakteur -- om haar reg te hanteer; maak nie saak hoeke rolle sy alles vervul en watter velde sy betree nie.

Maak jy haar mooi groot, leer sy (toe en nou) vinniger en het sy meer inisiatief en ywer as die gewone jong manlike verslaggewer.

Is sy goed, is sy gedoriewaar goed. Is sy so-so, vorder sy ook maar so-so, want jy kan haar nie aan die kraag rondruk nie en jy kan haar ook nie met gekruide taal aanhelp nie.

BOERE-GUTS

As dit ‘n lastige storie is, stuur jy ‘n vrou, want gewoonweg gooi niemand ’n vrou pens en pootjies by die deur uit nie.

Verslaggeefsters het ‘n vreeslike klomp boere-guts; maar vir aandwerk en vir ver ry en oorslaap beteken hulle nie veel nie.

Maar wanneer hulle dit ten laaste saamvat, is dit 'n grote waarheid: vandat vroue begin het om staal te wals, het die koerantwêreld nog nooit mooi bygekom nie. Die veranderende rol van die vrou in die joernalistiek is bloot te danke en te wyte aan “die veranderende rol van die vrou in die smelewing”.