Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.11.13

My eerste ‘trip’ as koerantman

PIET EBERSöHN skryf: K’rant het nou wel nie die hele foto gebruik nie, maar toe Lala Wahl onlangs ‘n foto van haar ma, Essie, stuur wat tydens ‘n geleentheid van die Vrouelandbou-unie in die eertydse Noord-Transvaal geneem is, het dit my ver laat terugdink aan my eerste “trip” en my eerste scooperigheid as joernalis. Dit was só teen die einde van die jare sewentig by Die Transvaler.

Nou ja, ek weet K’rant probeer suiwer Afrikaans bevorder, maar ek glo oudkollegas sal saamstem dat daar in die koerantsin iets meer in ‘n “trip” steek as bloot ‘n reis of toer. Uitstappie dalk, maar dít klink darem baie plesieriger as werk, of hoe? Scoop is natuurlik onvertaalbaar en het waarskynlik in alle wêreldtale net só nesgeskrop.

Nietemin, Hennie Kotzé ontbied my destyds en deel my mee dat die gelukkige keuse op my geval het om, van alle dinge, die Transvaalse Vrouelandbou-unie (TVLU) se jaarkongres op Warmbad te gaan dek. Drie dae lank.

Koos Botha
Koos Botha was gou by met ‘n stukkie wyse raad: “Maak seker jy pak ‘n bottel brandewyn in. Dis gewoonlik nie so maklik bekombaar op sulke plekke nie, en indien wel, baie duur! En ‘n mens kry versterking nodig om jou deur ‘n kongres te dra.”

Die TVLU het ‘n klompie geleerdes gekry om die kongres oor aktuele landsake toe te spreek. Dit het skaflike kopie gelewer, maar oënskynlik die kongresgangers ietwat verveel. Brei- en hekelwerkies is uitgehaal en hier en daar is langerige fluistergesprekke onder die toesprake gevoer. Teen die tyd dat die laaste spreker, die gewilde predikant en berader, dr Murray Janson, aan die beurt sou kom, het die organiseerders hom gevra om sy voorbereide referaat in sy baadjiesak te laat en liefs ‘n praatjie oor die verhouding tussen egliede te lewer.

Ewentwel, een van die sprekers was ‘n prof Van Eeden van Unisa. Waaroor hy gepraat het, kan ek nie meer onthou nie, maar in antwoord op ‘n vraag maak hy toe die stelling dat plakkerskampe (dit was destyds nog politiek korrek om só na deesdae se informele behuising te verwys) in die toekoms ‘n onafwendbare tussenfase in die verstedelikingsproses in Suid-Afrika gaan word.

Só iets was haas ondenkbaar in die Suid-Afrika van destyds en as ek reg onthou, is die storie as hoofberig op bladsy drie aangebied. Beeld het nie die storie gedra nie en dié koerant se verteenwoordiger het my erg verkwalik omdat ek oor vraetyd berig het sonder om haar daarvan te sê!

Nodeloos om te sê, dit was die somtotaal van die paar dae se opwinding.

Daar was niemand om die brandewyn mee te deel nie en dié voorsorgmaatreël het onoopgemaak teruggekom.