Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.11.13

Oor prekery en die lang naald

JASPER SCHELLINGERHOUT (let op die spelling van my van), oud-Vaderland en nou 'n afgetrede dominee,  skryf oor die lengte van ‘n preek:

Ek het nou maar eenmaal ‘n erge hekel aan preke wat mank gaan aan goeie substans en inhoud. Self doen ek moeite om ‘n tema behoorlik toe te lig en dan dwaal die horlosie se lang naald bietjie verby kerkuitkomtyd. My vrou moes my van tyd tot tyd suutjies berispe hieroor. (Was darem nou nie naastenby so ‘n uitgerekte storie soos Herman Charles Bosman se Ps. 119-singery nie, dankie tog!)

Dit het my laat dink aan die ware storie wat hom afgespeel het in die Universiteitsoord-gemeente in die Jarakarandastad in die dae toe die Tukkies nog die kerk, veral Sondagaande, volgesit het. Baie van die aanwesiges was natuurlik daar op sg. kerk-“dates”, maar nietemin.

NG Kerk, Universiteitsoord
Die jong dominee wat blykbaar pas daar aangekom het, wou indruk maak deur so 'n bietjie die stywe eredienstradisies te verbreek.

“Vanaand sal ek oor enigiets preek wat julle graag wil; oor enigiets,”kondig hy nonchalant en kordaat aan.

Blitsvinnig kom ‘n gevatte antwoord van ‘n nóg kordater ou kliphard uit die banke: “Is reg … oor enigiets, NET NIE OOR ‘N UUR NIE, dominee!”

Vir ‘n wyle was dit chaos. Tot so ‘n entjie verby Meintjieskop het die  Pretorianers glo die geskater gehoor.

Ns:
1. So van van-spelling gepraat: Ek het in ‘n stadium 62 verskillende spellings van my van as versameling gehad. So ... mutislegvuli!
2. Ek maak binnekort ‘n “come-back” as ek DV vir ‘n jaar of wat weer tot die bediening in die Oos-Kaap terugkeer, nogal op my ou tuisdorp! En my getroue “berispertjie” takel die uitdaging saam met my.