Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.11.13

Fotodag 11: Foto's uit 'n toegeplakte boks

JAPIE BOSCH skryf: Met die onlangse opruiming van my garage het ek op meegaande foto's in 'n ou toegeplakte boks afgekom -- almal uit die 1970's. Watse heerlike kyk en gesprek met myself was dit nie.

Nou wonder ek:  as ek sulke kwaliteitfoto's tussen my 'rommel' gekry het, dan moet daar seerseker nog garages van ander oud-kollegas wees waar versteekte Perskor-"skatte" is. 


Herman Snyman, eks-Die Vaderland,  -Oggendblad,  -Transvaler en Metro, was altyd baie danig oor treine. Hier verander hy speel-speel 'n uitgewerkte spoorwisselaar. Hiervoor het 'n mens spiere nodig gehad.  Kyk net daai bultende voorarms.


Mooi mense. Die Vaderland se eerste TV-redaksie:  Yvonne le Roux (redaktrise) en Matt Jamneck.  Hulle was 'n gewilde span by die SAUK se mense van destyds. Daardie dae was daar net een kanaal in Afrikaans en Engels.  Dit het om 18:00 begin.  Een aand was Afrikaans eerste aan die beurt en die volgende aand Engels. As die toetspatroon verskyn het, het mense al begin regsit voor hul TV's.  Die kanaal het gesluit met 'n wapperende (ou) Suid-Afrikaanse vlag en die volkslied.  Yvonne en Matt het hul hande vol gehad. So gewild soos dié een kanaal destyds was, so gewild was hul TV-blad.


Tydens die opening van die Holiday Inn in Mbabane, Swaziland het Japie Bosch 'n maatjie gekry en lekker aan die kuier geraak.