Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.11.13

Sindikate slaan toe en steelfoto’s span die kroon

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Voornemende regslui studeer jare lank aan universiteite om hulle beroep te bemeester. Misdadigers vat gewoonlik ná 'n onbesonne blaps kortpad tronk toe vir gespesialiseerde opleiding deur geharde misdadigers. In dié “universiteit” leer hulle prakties hoe om 'n opvolgbesoek deur die polisie en inhegtenisneming te vermy. Die meer geslepe kalante word dáár, voor hul ontslag, deur sindikaatleiers gewerf en by bendes betrek.

Een só 'n bende het byvoorbeeld vragmotors gekaap en die vrag verkoop. Dit kan wissel van brandstof tot kruideniersware. As die kapers gevang word, bel hulle 'n prokureur en word hul borgtog deur die sindikaat betaal.

Die polisie hou nie daarvan as in berigte na 'n misdaad verwys word wat met militêre presisie uitgevoer is nie. Maar volgens wat 'n prokureur – naas die polisie en die nooddienste een van die misdaadverslaggewer se kosbaarste kontakte – my destyds meegedeel het, is dit presies wat gebeur.

'n Sindikaat koop mense om om vas te stel watter soort vrag wanneer en waarheen vervoer gaan word. Dan gaan soek hulle kopers. Bestellings word geneem en die vrag word reeds voor die rooftog teen halfprys verkoop. As 'n groothandelaar, byvoorbeeld, 'n vrag met miljoene rande se sigarette bestel, word dit blitsig in een van sy pakhuise afgelewer en die kapers verdwyn. Volgens die prokureur hoef die koper niks te betaal totdat die vrag afgelewer is nie. Betaal sal hy of sy egter betaal. Die koper en sy gesin se lewens is die sindikaat se waarborg. Wanbetalers weet hulle of hulle naasbestaandes kan vermoor word.

Volgens dieselfde prokureur moes hy op 'n keer 'n smokkelkroegeienaar in Soweto gaan verdedig. Op pad hof toe is hy in Soweto gekaap. Hy sê hy het hom doodgeskrik en aangebied hulle kan sy motor en geld vat solank hulle hom op enige plek aflaai. Een van die kapers het in sy tas gekrap en gesien hy is 'n prokureur. Die man het iemand gebel, sy bankbesonderhede gevat, hom tot by die hof begelei, sy geld en ander besittings teruggegee en om verskoning gevra.

Ná die hofsaak het dieselfde kapers hom uit Soweto begelei en hom 'n selfoonnommer gegee wat hy kan bel as hy ooit weer 'n saak in Soweto se howe moet verdedig.

Hy het sy vrou by die huis van die voorval vertel en hom voorgeneem om nooit weer in Soweto te kom nie. 'n Dag of wat later gaan hy sy banksake na en sien 'n inbetaling van nagenoeg R50 000. Hy wou die geld teruggee, maar weet nie aan wie nie.

'n Week of so later bel 'n vrou uit Soweto en vra hy moet haar seun verdedig wat saam met maats in 'n gesteelde motor betrap is. Hy weier beleefd, maar 'n afvaardiging besoek hom by sy huis en waarborg dat hy veilig by die hof en terug besorg sal word.

Hy weier weer omdat hy nie 'n misdadiger se vryheid kan waarborg nie. Die groep verseker hom hy moet net sy bes doen en as die man skuldig bevind word, is dit sy probleem. Só gesê, só gedaan. Hy is hof toe en kon die man vry kry omdat hy net 'n passasier was en nie geweet het die motor is gesteel nie. Volgens hom het hy maande lank niks van die Soweto-groep gehoor nie en Soweto-sake vermy.

Op 'n dag bel 'n eienaar van 'n kettingwinkel hom wat glo onwetend gesteelde kruideniersware gekoop het. En waar kom die saak voor? Soweto. Die man is 'n eerste oortreder en word swaar beboet met 'n opgeskorte vonnis. Kort voor lank is daar weer 'n stewige bedrag geld in sy rekening – voordat hy 'n rekening aan die oortreder gestuur het. Die sindikaat het vermoedelik betaal dat hulle geheime nie uitgelap word nie en die oortreder sal waarskynlik nooit weer so 'n kans waag nie. Daar is egter baie ander wat wel in die versoeking kan kom en dalk kan swig.

Die sindikate wen nie altyd nie. Die polisie het lank probeer om 'n sindikaat vas te trek wat
tydens 'n groot aanbouery by die Randse Waterraad buite Johannesburg op groot skaal boumateriaal vervreem het. Die sindikaat het al wat leef, omgekoop en bakstene, sement en ander boumateriaal het verdwyn voordat dit op die terrein afgelewer is. Totdat 'n groep gewese moord- en roofspeurders by die ondersoek betrek is. Van hulle beriggewers het die bouterrein stelselmatig as werkers of kosverkopers ingesypel en by die stelery berokke geraak sodat die leiers uitgeken kan word.

Verskeie sakemanne en kontrakteurs is ná 'n lang ondersoek in hegtenis geneem nadat die nodige bewyse teen hulle bekom is. 'n Groot deel van die gesteelde geld is vermoedelik deur middel van beslagleggings teruggekry.

Nog 'n sindikaat wat 'n bloutjie met die polisie geloop het, is 'n bende wat in die gegoede
noordelike voorstede ingebreek het. Vervaardigers van sigarette, seeppoeier en ander huishoudelike artikels het jare gelede pryse uitgeloof vir kopers van hul produkte. Jy kon 'n hoeveelheid van die produk wen of kies tussen 'n voedselmenger, braai of 'n kaartjie vir 'n gewilde fliek.

Dié sindikaat het 'n lid aangesit om tuinwerk te soek en met die huishulp vriende te maak. Hy het vasgestel waarin die huiseienaars belang stel en of hulle waardevolle artikels soos geld, juwele of vuurwapens het. Dan het hulle kaartjies van 'n gewilde fliek of sanger gekoop en aan die huiseienaar as 'n prys gepos. Die huis is dopgehou en as die huismense gaan fliek, het hulle die huis gestroop.

'n Voormalige afgetrede werknemer van 'n seepmaatskappy het so 'n stel kaartjies gekry en die maatskappy gebel om hulle vir die kaartjies te bedank. Die maatskappy wis van g'n sout of water en die man maak by die fliek seker of die kaartjies wettig is. Dit is en hy ruik lont. Gesels met die polisie en hulle stel 'n lokval. Die huismense word aangesê om te gaan fliek want die polisie sal die huis oppas.

Die skelms breek in en steel dat dit klap. Die polisie slaan toe en 'n inbreker word in die oor en weer skietery noodlottig gewond voordat die groepie oorgee. Ek en fotograaf Hannes Niemandt hoor by 'n kontak van die inbraak en gaan kyk. By die dubbelverdiepinghuis aangekom stap ons in en soek die eienaars. Die deure is oop, ons roep, niemand antwoord nie en ons stap in – en loop ons in bondels in die voorhuis vas. Die rowers het blykbaar die gesteelde goedere op beddens neergesit en dit met komberse in bondels verpak en afgedra.

Hannes neem foto's. Ons sal toestemming vra sodra die huisbaas onder toe kom. 'n Netjies geklede reus van 'n man kom op ons af en wil uiters onvriendelik weet wie de h*l ons is. "Van der Walt," sê ek. "En jy?" wil hy betreklik ongemanierd van Hannes weet. "Niemandt," stel Hannes homself voor. "Moenie hier inflenter en hardegat met my raak nie," snou hy Hannes toe. "Hannes Niemandt," verduidelik Hannes. "Wat soek julle hier?" Ek verduidelik ons werk vir Die Vaderland.

Dis baie duidelik dat die kêrel 'n baie kort lont het en enige oomblik gewelddadig kan raak. Ons mik voordeur se kant toe om pad te gee. Maar die kêrel kry ons aan ons baadjiekrae beet en sleep ons soos twee kleuters in 'n geslote houtskuifdeur se rigting. Ons dog hy gaan die deur oopskuif, maar die woedende vent slinger ons deur toe. Ons probeer keer, maar beland wonder bo wonder sonder 'n skrapie buite op die stoep. Die diewe het blykbaar die deur se glas uitgehaal om toegang tot die huis te kry.

"Dis 'n misdaadtoneel gee pad," bulder hy. Wat ons terstond doen terwyl 'n groep onvriendelike speurders agter hom ons aangluur. Die humeurige kaptein het sy sin gekry, maar Hannes se skelmfoto's het weer eens die voorblad gehaal.