Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.11.13

Jan, Jan, Jan, die man van staal

PIETER KRUGER skryf: Ek kry twee weke gelede ‘n oproep op my selfoon, maar voordat ek dit kon beantwoord, sit die persoon aan die ander kant neer.

Seker maar iemand wat ‘n “piece job” soek en nie meer sellfoontyd het nie, dog ek.

En wie antwoord toe ek terugbel? Jan van der Merwe.

Jy kon my met ‘n veertjie omtik, want ek, (oorle) André van der Merwe, Hennie Brandt en Essie het aangeneem dat Jan ook nie meer saam met ons is nie.

Jan (met sy lang silwer hare en wit hoedjie), was onder meer die krieketskrywer van Die Transvaler en jare daarna vryskutrugbyskrywer van The Citizen. Terloops hy het Piet se hare al yler in Loftus se persbank laat word, Heyneke Meyer gryser gemaak en Victor Matfield byna laat ophou.

Jan woon in ‘n kamertjie in Villieria en hy seg sy kinders (Peter, wat vir die The Pretoria News geskryf het, en twee van sy ander kinders, albei spesialiste), het hom verwerp. As ek reg gehoor het, het hy van sewe kinders gepraat.

Hoewel hy baie bitter oor die lewe is, het ons geselsie hom opgebeur. Hy het darem nie sy humorsin verloor nie en toe ek hom vra hoe dit met Bonnie (sy derde en hopelik laaste vrou gaan) seg hy droogweg. “Sy’s jare gelede oorlede, ek’s ‘bad news’ vir vroue. 3-0.”

Hy het darem gespog oor sy Wisden-versameling (net die Oppenheimers en die een of ander
kriekektstatistikus … en Jan, besit glo ‘n volledige stel in Suid-Afrika).

Ons praat nog so, toe sit hy die foon neer.

Ek het sy nommer en gaan hom gewis weer bel.