Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.11.13

Van parkslaper tot politieke guru

JAPIE BOSCH skryf: Wie sou ooit kon raai dat ‘n jongman wat werkloos in Durban rondgedwaal en in parke geslaap het latere jare elke dag met ‘n das en pak klere by die werk sou opdaag en die ampsbenaming “adjunk-hoofredakteur” van Die Vaderland dra?

Dié man was niemand anders nie as Johann S Liebenberg. ‘n Kort storie oor sy avontuurlustige jong dae het in Perskorhaan van Mei 1972 verskyn.

Herman Snyman 
Dié storie het sy oorsprong in Ons Nuus, ‘n personeelblad van die APB, wat iewers in 1953 verskyn het. Dit is deur Herman Snyman, destydse redakteur van eersgenoemde, in ‘n argief opgespoor.

Daarin word berig oor die man van “vele talente en net soveel ambagte” wat by die maatskappy aangesluit het. En voorts: “dié man was eers lokomotiefskoonmaker, skrynwerker, klerk, student, onderwyser en joernalis. Toe hy sestien was, het hy twee weke lank werkloos in Durban rondgedwaal, in parke geslaap en skottelgoed in hotelle gewas om sy kos te verdien."

Johann S Liebenberg
By Die Vaderland het hy as Johann (Politiek) bekend gestaan, omdat daar nog ‘n Johan Liebenberg was – die kunsredakteur. Hy was Johan (Kuns).

Johann (Politiek) het politiek, geëet, geslaap en gedroom. Nadat ek by munisipale en politieke verslaggewing betrokke geraak het, het Johann my gereeld ná saktyd geroep en politieke “lesse” in sy kantoor gegee. Dit het nie saak gemaak hoe lank my gape was nie, luister moes ek luister. Hoe ookal, Johann het my ‘n agtergromd gegee wat waardevol was. Ek het respek vir hom gehad.

Hy was nie ‘n regsgesinde nie, maar allermins ook ‘n voorstander van hervorming.

Hy was erg gesteld op sy status. Hy het nie toegelaat dat kollegas wat nog nie senior genoeg was hom op sy voornaam noem nie. Ek was een van hulle. Hy was “meneer”. “’n Mens moet die afstand hou,” het hy eendag aan my gesê.

Koos Liebenberg, Ben Gertenbach en Johann S Liebenberg
So formeel soos wat Johann was, so informeel was sy broer, Koos, en hul neef, Ben Gertenbach. Koos
Liebenberg was onder meer assistent-redakteur by Dagbreek en Landstem, Die Vaderland en Oggenblad. Ben Gertenbach was onder meer Die Vaderland se politieke korrespondent.

Johann het op 60 sy eerste Comrades-marathon gehardloop. Dis nie bekend hoeveelste hy geëindig het nie.

Merkwaardig is dat hy op 80 ‘n doktorsgraad behaal het.

Johann was baie danig oor sy stiefdogter, Sybil Coetzee. Sy was ‘n bekende aktrise in die 1970’s en 1980’s.
Hy is ‘n paar jaar terug oorlede.

CHARL THOM skryf: Daar is nogal 'n paar dingetjies wat ek onthou wanneer ek terugdink aan die sowat drie jaar wat ek nou saam met Johann S Liebenberg gewerk het.

Hy was assistent-hoofredakteur en ek assistent-tot-die-redakteur onder Dirk Richard se bewind. Ons belangrikste taak was die politieke nuus, skakeling met die manne in ons span by die Parlement, nl Jac de Vries en Ben Gertenbach en ook die skryf van politieke kommentaar.

Wat ek waardeer het, was dat 'n mens met Johann S kon verskil omdat, hoewel hy sterk gevoel het oor sekere dinge, hy altyd respek betoon het teen oor 'n standpunt wat soms selfs lynreg van syne verskil het.

Dirk Richard
Johann S het naamlik sterk na die "verkrampte" kamp van die Nasionale Party geneig terwyl ek weer na die
ander kant en meer in lyn met Dirk was. So het ons dalk nogal 'n redelike balans kon handhaaf. Ek glo Die Vaderland se lesers was meer konserwatief in daardie tyd. Daarby was daar ook die gedugte Marius Jooste wie se politieke vriende ongetwyfeld meer by Johann se uitgangspunte aanklank sou vind. Hy't ons mooi laat verstaan dat hy oor ons skouers loer.

Selfs in die droë ou politiek was daar heelwat humoristiese tye. So moes ons dikwels ministers en ander kontakte voor sewe-uur soggens bel vir kommentaar.

Wyle oudminister Marais Steyn was op 'n keer die "slagoffer" en Johann die beller. Marais se reaksie:
"Vir wat bel jy my so donnners vroeg man? Ek sit nog op die verdomde poepketel en nou wil jy hê ek moet intelligent praat oor belangrikste landsake!"

Johann S het homself ook as 'n werktuigkundige van formaat beskou en het kollegas se motors gediens teen heelwat minder as wat die motorhawens sou vra. Of dit waar is dat niemand meer as een keer van die 'guns' gebruik gemaak het nie, kan ek ook nie met sekerheid staaf nie.

Sybil Coetzee
Ten slotte is ek dankbaar vir wat ek by Johann S kon leer. Hy het sy vak geken en was 'n goeie mens.

Johann S was natuurlik die stiefpa van die pragtige aktrise, Sybel Coetzee.

Jakkie Groenewald
So is JAKKIE GROENEWALD van die kunsredaksie tydens kuiertjies by Sybel summier vasgekeer deur Johann S met 'n stroom politieke uitlatings.

Jakkie vertel self: "Ek en Sybel het saam Drama op Stellenbosch geswôt en nadat ek by Die Vaderland aangesluit het, het sy my gereeld na vertonings vergesel – dit was dit nie eintlik 'kuiertjies' as sodanig nie."

Johan het my die eerste aand so ’n bietjie met politiek beetgekry, maar agv tydsdruk kon ek daar wegkom.

Een dag het hy my wel probeer "leer" hoe om ’n resensie te skryf. Volgens hom moes dit soos ’n nuusberig gewees het, maar ek kon hom gelukkig koudsit.