Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.11.13

Jasper snuffel ’n stukkie Africana uit

JASPER SCHELLINHERHOUT, oud-Vaderlandman (1974 – 1977) het bietjie in sy eie boekery gesnuffel en ‘n Kort en Goed-uitgawe van November 1942 opgediep en vir ons ‘n paar prikkelende goed daaruit gestuur. K’rant het ‘n tyd gelede juis melding gemaak van hierdie “Readers’ Digest”-soort tydskrif in Afrikaans wat in 1939 die lig gesien het as ‘n perdjie uit APB se stal.

Jasper het onder meer die volgende in Kort en Goed teëgekom:

Die ritsluiter

Jasper beloer Kort en Goed
Erik Sund, was die ontwerper van die “ruksluiter” (“zip”) wat vandag een van die populêrste ontdekkings op die mark is.

Die Sweedse ontdekker had, volgens die artikel, groot planne om skatryk te word uit die ontdekking van olie- en goudvelde en het in die VSA “sy drome gaan soek”. Die artikel meld hoe Sund die “ruksluiter” al baie jare tevore ontdek het, maar dat “spottend aan hom meegedeel is dat ‘n knoop en ‘n knoopsgat nog maar die doeltreffendste sluitmiddel in die wêreld is".

Vyf-en-twintig jaar later eers het beleggers dit gewaag om Sund se patent in Pennsylvania kommersieel te vervaardig en is dit “op verskeie artikels toegepas en het almal mal geword oor sy ruksluiters,” lui die artikel.

(Ek lei af dat die eerste ritssluiters seker maar vrekstram was en ‘n ruk-en-plukkery afgegee het!)

Waterboerdery 

Hidroponiese boerdery – toe nog in sy kinderskoene en waterboerdery genoem -- word in ‘n artikel uit die VSA behandel.

Daarin word gemeld ‘n “heirskaar” rotte en “oortollige” sonlig het proefnemings met “waterboerdery” erg in die wiele gery op Wake-eiland waar dr William Gericke van Berkeley, Kalifornië van sy toetse uitgevoer het “op nuwe plase sonder grond”. In Seattle het dit weer agv ‘n “gemis” aan voldoende sonlig in die gesneuwel.

Dan ‘n erg vreemde sinsnede: “Geen wonder nie dat sterk nasionalisties-gekleurde lande gretiglik oor die nuwe kuns” navraag gedoen het."

(Nota: Onwillekeurig gewonder as die Nasionale Party toe al aan bewind sou wees, wat Verwoerd, Vorster en PW oor hiérdie “nasionaliste” sou sê! Dalk destyds Robbeneiland toe met hulle.)

Ja, en toe ook alweer skelms op die toneel, meld die artikel: Manne wat botteltjies soutpreparate te koop aangebied het en daarmee saam “te kenne gegee (het) dat die amateur met behulp van een wonderwerkende botteltjie ‘n ware groenteparadys uit die bad laat opspruit”.

Vyftig grade benede vriespunt in Rusland

In dié artikel word redelik amateuragtig geskryf oor die uiterste koue wat in Rusland beleef word en hoe
hulle geleer het om daarin te oorleef, veral ook die soldate aan die gevegsfront. Ons weet dat dit juis as gevolg hiervan is dat Hitler kort ná die verskyning van die artikel sy Moses beginne teëkom het teen die Russe en toe in die hek geduik het in die Tweede Wêreldoorlog.

Voorts “onthul” Russell Owen, die skrywer, sekere vreemde dinge wat in die koue ervaar kan word in ‘n elementêre “skoolblad-Afrikaans” wat Perskor se ou taalwaghond “oom Engel “ seker plek-plek woeste kringe kon laat trek het:

“Die verskynsel van koue is interessant. Dit veroorsaak snaakse dinge. As ‘n mens groot wil skrik, moet jy ‘n emmer warm water uitgooi op die sneeu as die termometer op sowat 60 grade onder vriespunt staan. Dit is of 10 000 klappers in jou gesig afgaan. Net wat daar gebeur, weet ek nie; miskien weet ‘n natuurkundige dit. Maar daar vind ‘n ontploffing plaas wanneer die warm water op daardie warmtegraad aan die sneeu raak . Die kraakgeluid hou net so skielik op as wat dit begin het, en teen daardie tyd het jy twee voet in die lug gespring en nou wonder jy wat het gebeur.”

“Of jy laat ‘n druppel kwiksilwer op die sneeu val, en dit sprei uit soos soos ‘n stuk soliede warm lood wat op ’n klip geval het … ” (As dit “solied” is, kan dit wraggies ook nie so vloeibaar wees nie.)

“As jy ‘n lantern dra, sien jy hoe yskristalle aan die binnekant van die glas vorm, en die vlam al dowwer word totdat dit heeltemal doodgaan. As jy ondersoek instel, sien jy dat die lampolie dik geword het soos jellie en nie meer na die pit kan opsyfer nie …”

“As jy ‘n flits gebruik, word die lig flou en gaan uitendelik uit: Die battery is verkluim (sic). Voortaan sal jy onthou om dit onder jou klere te dra, totdat dit absoluut noodsaaklik is om dit te voorskyn te haal.”

Die artikel verduidelik voorts dat wind saam met koue eintlik die probleem is. En dan ‘n vreemde sinnetjie: “Die liggaam het ‘n ligte warmtelaag daaromheen wat nie afgevee moet word nie. Solank die klere onmiddellik teen die vel droog gehou word, sal die liggaam nie veel ly nie, behalwe ná lang blootstelling aan wind en sneeu sowel as aan koue.”

Daar is ook so ‘n stukkie naïewe eerlikheid in dieselfde artikel opgeneem: “Dit bly nog ‘n geheim wat eintlik warmte in die mens se liggaam veroorsaak. Daar is glo ‘n soort thermostat (sic) in die brein wat die hitte reël. Word die mens aan erge koue blootgestel, kan die thermostat blykbaar nie meer warmte verwek nie . Waarskynlik is die spoed waarmee (sic) gewonde mense in baie koue streke verys, toe te skryf aan die skok wat die bloedsomloop toegedien is.”

"n Engelse advertensie

Nogal verrassend is ‘n totaal Engelstalige advertensie op die Kort en Goed-uitgawe se agterblad – van Harritz Hat Factory Pty Ltd van Siemertweg 14, Doornfontein, Johanneburg. Die adres is nogal naby waar Perskor ná die Aucklandpark-dae gesetel was.

Op die binnedekblad word Table View Township in Kaapstad as nuwe dorpsontwikkeling geadverteer, met ‘n 2½ myl frontlinie (sic) wat op die see uitkyk. Dis deur Porterfield Estates van Commissionerstraat in Johannesburg geplaas.

AM van Schoor
Dr Hjalmar Reitz
Limosin-Brandewyn (terloops die enigste ander advertensie in die uitgawe, naas die reeds vermelde twee) adverteer hul “Ware Cognac-kwaliteit” darem in Afrikaans op bl 5. (Hul meld darem niks van Coke daarby nie.)

AM van Schoor: … saam met dr HJ Reitz word op bl 1 van die uitgawe as mederedakteurs van die tydskrif aangetoon. Dr Reitz word ook aangedui as synde mede-eienaar daarvan, saam met Die Afrikaanse Pers Bpk.