Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.11.13

‘n Donderdag wat anders was

JOHAN VOSLOO skryf: Daai Donderdag van 29 Oktober 1970 het half begin soos alle ander Donderdae -- ietwat grommig. Mense van 'n Sondagkoerant begin hier teen die einde van die week net so 'n rapsie paniekerig word. Dinsdag en Woensdag se geskerts is op Donderdae bra uit pas.

Toe ek gang opstap, staan Sakkie Perold van Kaapse faam ook daar --
ewe drentelend voor mnr. Dirk Richard se kantoor. Verder af in die gang loop Peet Simonis in sy bosbaadjie. Hier is iets, hier is pêre, dog ek so stillerig. Hierdie uit die Kaap opkommery is nie elke dag se ding nie! As ek maar geweet het ...

Eerste woord wat ek hoor is by Gielie de Kock. Hy hang sy baadjie op, druk aan sy bril, gaan sit agter die tikmasjien. "Hoe de dem kan 'n mens nou werk? Kan jy jou bek hou?"

“Ja, natuurlik, perdjie. Vertel, man!"

"Ons en Die Beeld word een."

Ek dog ek val dwarsdeur die stoel.

Gielie vertel kortlfks, Weet ook self nie veel nie. Ek maak nog die opmerking van " Mense wat ghitare slaan". Gielie lag nie.

Stories soek se voet. Wie kan nou aandag aan sy werk gee? Die grootste naarheid is dat jy nou moet stilbly. Ek wil net gang afhol en almal vertel: "Weet julle wat, ons en Die Beeld word nou een!" 'n Scoop bly maar vir 'n koerantman 'n scoop! Intussen maar, soos Gielie vra, "bek hou".

Hier teen etenstyd bel Kobus Maritz. "Kom af tweede verdieping toe." Ek was nog nooit op die tweede verdieping nie. Ander mense wat voorheen sommer so terloops gepraat het van "ek kom nou van die tweede vloer af", het altyd so 'n ietsie in my estimaste gestyg.

Jy trek jou baadjie aan. Voel bly dat jy juis vandag jou swart soetjie aan het. Ook maar bly dat jy nie vandag jou verspotte Sap-das aangesit het nie. In die hyser loer jy vies na jou velskoene.

Daar gekom, loop jy op sagte matte. Mariet beduie van agter die tikmasjien na die tweede deur links. "Kam jou hare," sê sy nog.

Mick van Rensburg --
bied whisky aan.

Kobus Maritz --
dra koekies aan.
Toe ek instap, vra mnr. Mick Van Rensburg of ek 'n whiskey'tjie wil hê. Kobus Maritz dra koekies aan.

Langs die muur sit die mede-kollegas. Chris Vermaak wink nader. “Jy weet seker. Grim, hê."

Baie dinge gaan deur jou gedagtes. Jy dink aan die ewige sirkulasiestryd wat soos 'n spook bo ons mense bly hang het. Jy dink aan die uitoorlê-speletjies met Die Beeldmanne, aan die groot paniek Saterdagaande as jy wag vir Die Beeld -- net om te sien of hy meer in het as jy, of hy dalk 'n beter storie en beter foto's as jy gekry het. Is dit alles werklik iets van die verlede?

Die grootbaas gaan sit agter die tafel. Hy gesels. Hy maak dinge duidelik, Syfers word genoem wat jou asem laat wegslaan.

En toe ons uitstap begin elkeen van homself "voorraad neem". Elkeen glo deur die bank dat hy in die slag gaan bly. Skielik is jy eerlik en -- staan jy voor jouself met al jou vreeslike swakhede. En dink terug oor stories wat jy nek omgedraai het en kere wat jy sommer net drooggemaak het

Suzelle du Preez: wat
nou van die "comics"?
Paul Kruger, redakteur van
Hanekraai -- bied
werk aan.
Die Vaderland-manne loer grootoog. Sleep jou summier nader. "Is alles waar? Wat is aan die gang?" (Die Vaderland en Dagbreek se redaksies was op die vierde verdieping van die APB-gebou in Aucklandpark. -- Red.)

Paul Kruger bied my daar en dan ‘n betrekking by Hanekraai aan. Wie lag nou vir só 'n grap?

Suzelle du Preez (nou Fourie -- Red.) se grootste probleem is dat die komieks nou gaan wegval.

Beth Vermeulen se probleem is ook haar vreugde: "Ek het reeds 28 November se Fleur afgegooi. Wat nou? Ek het niks om te doen nie."

Die manne van die steen vra dadelik: "Wat gaan die “overtime” wees?"

Thys Human -- wag op 'n 
tussenverkiesingsuitslag.
November 1970
Laatnag word daar nog kringetjie gemaak by die Sans Souci. Ongereelde inloerders is ook die aand daar. Die van hulle wat vorige amalgamasies beleef het, praat met groot gesag. Koppe word geknik.

Thys Human met sy radio'tjie -- terwyl hy wag op Randburg se uitslag -- lyk verlore tussen die bierdrinkers.

Die groot vrae wat elke keer opduik is: "Wat van hom, wat van haar, waarheen?" Eintlik wil die vraesteller weet: "Wat van my?"

Daai Donderdag het anders geëindig! Dis 'n snaakse wêreld, darem!

Vrydagmore was daar nie een laatkomeling by Dagbreek nie. Tikmasjiene het harmonieus saam gekletter. – Hanekraai, November 1970.

(JohanVosloo was 'n sportverslaggewer by Dagbreek toe hy dié berig geskryf het.  Hy het ná die amalgamasie by Rapport aangesluit. -- Red.)