Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.11.13

Jare dertig se politiek sorg vir blywende herinneringe

TJAART VAN DER WALT, oudjoernalis en direksielid van Hoofstadpers, een van die filiale van Perskor, was een van diegene wat in 1971 aan Rooi Rose se Kerstafel ‘n storie vertel het wat hy nooit sal vergeet nie.

Hy skryf in daardie jaar se Kersuitgawe van dié vrouetydskrif: Waarskynlik omdat ek die enigste derdejaarstudent was wat in my
laaste universiteitsjaar met die Junievakansie aan ‘n plaaswerkskema deelgeneem het, het die destydse redakteur van Landbouweekblad, mnr PL Kriek, my gevra om ‘n artikeltjie vir sy blad oor die skema te skryf. Ek sal die gewaarwording nooit vergeet toe ek my poging later in druk gesien en boonop een pond (twee rand) vergoeding daarvoor ontvang het nie! ‘n Mens moet onthou dat Afrikaanse koerante en tydskrifte daardie dae (1926) maar nog in hul kinderskoene gestaan het en die gedrukte woord is nog met verskuldigde eerbied bejeën.

Hierdie eerste aanvoeling met die drukkersink het ‘n nuwe wêreld vir my oopgemaak en my lewe in heeltemal ‘n ander koers gestuur. Pleks van my voor te berei op ‘n onderwyspos wat my toebedeel was, het ek ‘n vakansiewerkie in die redaksie van die einste Landbouweekblad aanvaar. Dit het weer gelei tot ‘n aanstelling in die redaksie van Die Volksblad. Hierdie blad het toe pas ‘n dagblad geword onder die redakteurskap van dr AJR van Rhyn, latere minister en Unie-hoëkommissaris in Londen. Wyle JHM (Markus) Viljoen, toe pas terug van ‘n jaar of wat se studie in die joernalistiek in Amerika, was dag en nag doenig om sy jong en onervare personeel in die geheime van die dagbladjoernalistiek in te wy. Dis interessant om van die spanlede te noem. Daar was wyle prof CM van den Heever, mnre Willem van Heerden, wyle WH Wilcocks, en later het ander bekendes soos dr Phil Weeber, Jannie Kruger, Skakel Kriek, Piet Meiring en dr Piet Meyer bygekom.
 
Die Volksbladredaksie, Bloemfontein, 1928: 
Sittende: JJ Haywood, LW Hiemstra, dr AJR van Rhijn, 
mej J Thom (mev prof HJ Beselaar), mej E Coetzee 
(mev AJ Malherbe), JH Malan, Markus Viljoen, 
Willem (Wollie) van Heerden. 
Staande: CM van den Heever, Tjaart van der Walt, WH Wilcocks, 
C Barry, NJ van Schalkwyk, G Joubert, AJ van Zyl. 
(Uit: ‘n Joernalis Vertel deur JMH Viljoen.)
Mnr LW Hiemstra was die assistant-redakteur. Hy en Viljoen was die ideale skakelpaar vir die ontluikende dagblad. Eersgenoemde moes ons, ondanks ons BA-grade, leer om Afrikaans korrek te skryf, terwyl Markus Viljoen ons dit aan die verstand moes bring hoe ‘n mens nuus insamel in die stil en stemmige Bloemfontein. Dat vyf van die bogenoemde later koerantredakteurs van naam geword het, spreek boekdele vir die fondament wat by Die Volksblad in Bloemfontein deur die twee leermeesters gelê is.  

(Van Heerden was redakteur van Die Vaderland en van Dagbreek; Wilcocks van Die Vaderland; Weeber van Die Burger; Kruger van Die Transvaler; Kriek van Landbouweekblad; Meiring het nuusredakteur van DT geword en later direkteur van inligting van die Unieregering; Meyer was direkteur-generaal van die SA Uitsaaikorporasie. – Red.) 

Die Vaderlandredaksie, Pretoria, 1932: 
Agter: AM van Schoor, Otto Schwellnus, Tjaart van der Walt, 
Jan Grobler, Steve Hofmeyr (sportredakteur). Voor: Mej Stols 
(redaksiesekretaresse), Willem (Wollie) van Heerden, 
dr Gustav Preller (redakteur), Fasie de Wet (hoofbestuurder), 
Ella van Heerden.
Van Die Volksblad in Bloemfontein af is ek, ná ‘n draai by Kaalkop van der Merwe se prokureurspraktyk
op Heilbron, na Die Vaderland in Pretoria. Dit was in die beginjare dertig. Afrikaanse Pers Beperk het wat oor was in die likwidasieboedel van Ons Vaderland oorgeneem en ons het Die Vaderland daaruit tot stand gebring. Hier was mnr Wollie van Heerden aan die hoof van die nuuspersoneel, met wyle dr Gustav Preller as hoofredakteur. Mnr AM van Schoor het uit die Kaap bygekom, asook adv Steve Hofmeyr, terwyl mnre OE Schwellnus, EH Rattray en die latere senator JH Grobler van Ons Vaderland af oorgekom het.


Eugene Marais
Iemand wat onmisbare werk as medewerker in hierdie oorgangsjare gedoen het, was wyle Eugene Marais, die skrywer en digter. Sy “Burgers van die berge” het as vervolgverhaal eerste in Die Vaderland verskyn. Ek het net die aangenaamste herinneringe aan my kennismaking met hom en die nederige oom Gustav Preller.

JBM Hertzog
In die joernalistiek het ek veral belanggestel in die partypolitiek en in daardie dae hetons koerante nog ellelange verslae van vergaderings geplaas. Ek sal nooit vergeet watter voorreg ek dit beskou het om genl JBM Hertzog op ‘n politieke reis deur die Vrystaat te vergesel nie. Dit was met 1929 se algemene verkiesing. Ek sal nooit vergeet watter onuitwisbare indruk die generaal op my jeugdige gemoed gemaak het nie. Toe hy met ons afskeid op Van Reenenspas vir my en die ander joernalis boonop kom vra om saam met hom te kom eet, het my beker van geluk net mooi oorgeloop.

Jan Smuts
Nog dieselfde jaar het ek ‘n soortgelyke reis met genl Jan Smuts deur Noord-Kaapland
meegemaak. Wyle adv FC Erasmus (later minister) was ook saam om kwelvrae te stel! Bantoes in Kaapland het toe nog die stemreg besit. In die omgewing van Lady Grey kon ek my verkyk aan die honderde kiesers wat met wolkomberse op Basoetoeponies na die opelugvergadering aangery gekom het. In die skadu van hoë wilgerbome het hulle op los ysterklippe plek ingeneem. Eers toe het ek begryp hoekom die groot los klippe so in rye gerangkik was.

Oswald Pirow
Enkele weke later het ek weer ‘n vergadering van dieselfde generaal op Standerton gerapporteer. En was ek nie getref deur die generaal se politieke behendigheid om die twee soorte kiesers van sy standpunt te probeer oortuig nie! Ek het die Suid-Vrystaat soos my handpalm leer ken toe ek wyle mnr Klasie Havenga se verslagvergaderings op ‘n keer per motorfiets van plek tot plek bygewoon het. Die dinamiese adv Oswald Pirow het die burgers van Philippolis in die Suid-Vrystaat op ‘n keer lekker uitgevang met een van sy kwinkslae toe hy hulle op ‘n politieke verwelkomingsgeselligheid bedank het vir die eer wat hom aangedoen is deur al hul motorregistrasienommers na sy voorletters te verander. (OP, natuurlik.)

Deneys Reitz
Jan Kemp
Daar in die Smeltersdae van die jare dertig het ek ‘n reis deur die Vrystaat meegemaak
saam met genl Jan Kemp en kol Deneys Reitz. Om die twee vroeëre bittere teenstanders saam op ‘n verhoog te hoor pleit vir dieselfde saak was al ‘n besondere ondervinding. Op die verwelkomingsgeselligheid op Thaba ‘Nchu kom dr Colin Steyn uit die bloute ook op die verhoog sit. Dit was net kort ná Tielman Roos se dood toe die Roosiete, soos sy volgelinge destyds genoem is, tou opgegooi het en by die Verenigde Party van genls Hertzog en Smuts aangesluit het.

Colin Steyn
Die voorsitter merk toe ná sy verwelkoming van die twee hoë besoekers dat dr Steyn hom ook op die
verhoog bevind. Ek het sy vindingrykheid met woorde hoog aangeslaan toe hy sonder voorbereiding sê: “Dames en here, dan sien ek ook hier, dr Colin Steyn, seun van ons onvergeetlike pres Steyn. Dames en here, dr Steyn het hier gesit en daar gesit en vandag sit hy binne in die Verenigde Party.” Die geweldige toejuiging was kompensasie vir die voorsitter se behendigheid en die verleë laggie van dr Colin.

My kennismaking met die politieke leiers van daardie dae is verder gevoer toe ek begin 1939 benoem is as sekretaris van die Transvaalse Verenigde Party waarvan genl Hertzog die hoofleier was, met genl Smuts as adjunk. Genl Kemp was die Transvaalse leier. Mnr Louis Esselen was Uniale sekretaris van die party. Ek was daagliks in aanraking met hom. Ons het kantore langs mekaar gehad.

Min mense weet watter magtige invloed hierdie begaafde man in die partypolitieke sake van die dae van wyle genl Louis Botha af gehad het. Hy was in die Tweede Vryheidsoorlog lid van genl Botha se staf en na Uniewording sy regterhand in politieke sake. In hierdie opsig was hy soos wyle senator WJC Brebnor wat 30 jaar lank senator was en amper net so lank voorsitter van die Vrystaatse Nasionale Party sonder dat hy ‘n enkele openbare vergadering toegespreek het. (Die kongresverrigtinge natuurlik uitgesluit.)

Maar om na Esselen terug te keer. As ek een ambisie in die politiek gehad het, was dit om eendag in sý stoel te sit. Ek het daagliks gesien hoe parlementslede feitlik uit sy hand eet. Ek het hom eendag oor die telefoon ‘n dienende minister hoor berispe: “Bill (denkbeeldige naam), moenie van jou ‘n gek maak met daardie voorstel nie. Ek sê vir jou doen dit só en só.”

Ek was nog Verenigde Partysekretaris toe die kort parlementsitting in September 1939 byeengeroep is om die lewe van die senaat te verleng. En toe breek die oorlog mos uit. Esselen is natuurlik Kaap toe soos dit die sekretaris van ‘n Uniale party betaam.

Terwyl allerhande gerugte die ronde gedoen het, kry ek in Pretoria ‘n boodskap van Esselen, afgelewer deur ‘n hoë beampte wat per vliegtuig uit Kaapstad aangekom het. Ek laat die inhoud maar daar, maar op die vraag waarom hy my nie gebel het nie, was die antwoord dat hy (Esselen) genl Smuts help om ‘n kabinet saam te stel en gevolglik nie kon oplui nie!

Twee gewese predikante saam op ‘n verhoog wat ek nie sal vergeet nie, was wyle dr NJ van der Merwe en wyle dr WF Steenkamp. Laasgenoemde het mos in die warm Smelterdae van die jare dertig voortdurend gedreig om sy oorlogswonde aan gehore te wys, maar nooit sover gekom nie.

Hulle sou een aand saam ‘n uitdaagvergadering in die stadsaal op Senekal hou. Dit was winter en die gehoor was soos sardiens gepak. Selfs die verhoog is só vol gesit dat die mense se gewig later vir die struktuur te veel geword en dit ingetuimel het. Dit was ‘n affêre. ‘n Mens het eers sulke veraf kraakgeluide gehoor wat al harder geword het totdat die vloer onder ons padgegee en almal wat weg van die kante af was na benede getuimel het. Gelukkig kon iemand die klavier, wat op die kant gestaan het, terughou todat ander hulp bygekom het. As die klavier op die bondel mense onder in die gat moes gestort het, kon dit ‘n katastrofe afgegee het.

Min ernstige letsels is opgedoen. Die vergadering is in die opelug voortgesit, maar soos verstaan kan word, was dit eintlik ‘n antiklimaks.