Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.11.13

'n Stem uit die hemel

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Kort nadat Perskor van Aucklandpark na Doornfontein verhuis het, was die terugtog werk en huis toe dubbel so ver met byna ‘n dosyn ekstra verkeersligte. Nie ‘n reuseprobleem vir skofwerkers nie, omdat ons byna nooit in spitsverkeer beland het nie. Op pad werk toe het ‘n mens getrou by verkeersligte stilgehou, maar ná middernag op pad huis toe sonder enige verkeer was ‘n rooi verkeerslig ‘n sinnelose oponthoud. Iemand het gesê ‘n mens hanteer ‘n verkeerslig ná twaalfuur snags soos ‘n stopstraat.

Moeg gewerk of gekuier het dié raad ‘n mens gehelp om ‘n paar minute vroeër in die bed te kom. Totdat ‘n verkeersman my raadgewer een aand in Smitstraat in Braamfontein verkeerd bewys het. Ek het by ‘n rooi verkeerslig stilgehou, links en regs gekyk soos ons op skool geleer het en laat waai. Toe seil ‘n kêrel met ‘n netjiese uniform en blink kamaste op sy ysterperd langs my in en beduie ek moet aftrek. Wat ek terstond doen en vriendelik groet. My groet word geïgnoreer en hy stap nader met sy boeteboekie en ‘n pen in die hand.

Voor ek met my verdediging kan begin, blaf hy: “Rybewys.” Ek bewys ek is ‘n wettige padgebruiker, maar hy begin skryf. Toe hy die kaartjie oorhandig probeer ek verduidelik. “Die wet is dag en nag dieselfde,” grom hy en ry ewe ongepoets weg.

Ek bespreek die volgende aand in die fabriek die padvalk se hardgebakte aanslag op my karige salaris. Een van die manne, Tommy, beduie daar is ‘n manier om heelwat verkeersligte te vermy. Die snelweg Pretoria toe loop agter Perskor verby. En hoewel daar nog aan sekere dele gewerk word, kan ‘n mens die stad se verkeersligte tot in Empireweg vermy en verby die ou Perskorgebou huis toe blits.

Tommy, wat in sy vrye tyd motorfietse herstel het, het ‘n bos blonde hare gehad wat menige vrou hom sou beny. By die werk het hy dit agter sy kop met ‘n rekkie vasgemaak. Maar saans wanneer ons huis toe gaan en hy op sy kragtige motorfiets klim, maak hy die rekkie los en skud sy kop dat die haredos soos ‘n gordyn om sy skouers hang. As ons die wettige snelheid op die snelweg haal, sweef sy hare soos ‘n blonde vlag agter hom. Tommy het tot by die snelweg se draai binne die snelperk gebly, maar sodra hy om die draai is, het hy probeer om deur die klankgrens te breek.

Mens en masjien word binne sekondes ‘n gloeiende rooi liggie voordat hy verdwyn. Dit was toentertyd, seker nou nog, onwettig om met ‘n motorfiets op die snelweg te ry omdat ‘n motorfietsryer op die lasplekke om ‘n draai kan afgly en ‘n verdieping ver die ewigheid kan intuimel. Iemand maak Tommy daarop attent. “Dis hoekom ek tot by die draai stadig ry,” sê hy.

Só ry ons een maanlose aand huis toe. Effens vinniger as die wettige spoedperk. “Trek af en stop links,” kom ‘n stem skielik uit die hemel. Ek glo nie aan spoke of buiteruimtelike wesens nie, maar gehoorsaam dadelik die hemelse stem. Tommy steek ‘n vuis met twee vingers die lug in wat internasionaal as ‘n vloekwoord herken sal word. Die volgende oomblik laat waai hy met ‘n spookmotor op sy hakke. Ek volg hulle teen ‘n wettige snelheid, maar is net betyds om die oortreder en sy agtervolger se ligte in die donkerte te sien verdwyn.

Volgens Tommy het hy gesukkel om van die spookmotor ontslae te raak, maar sy agtervolger uiteindelik in Brixton in die stegies agter huise afgeskud.

Om moontlike herkenning en onwillige skenkings aan die verkeersdepartement te voorkom, het ek ‘n ruk lank middernagtelike verkeersligte gehoorsaam, maar wel later weer teen die voorgeskrewe snelheid op die snelweg huis toe gery.