Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.11.13

Fotodag 13: 'n Sêd affêre

November 1970
LUCIA GOMES skryf oor die afskeids- geselligheid met die sluiting van Dagbreek om met Die Beeld te amalgameer en Rapport tot stand te bring:

Die amptelike afskeid van die Ou Grote was 'n geselligheid in die APB se direksiekamer. Die bestuur, die redaksie, sirkulasie en lede van die
advertensie- en tegniese afdelings het vir oulaas saam bladgeskud as 'n groep. Dit was 'n totsiens en 'n vaarwel aan baie jare en nie lekker nie.

Aaron van die biblioteek, die ou kalant wat Saterdagmiddae al om die tweede uur die lang skof vir Dagbreek korter gemaak het met sy sterk Joko-tee, het so skuinserig weggekyk en gesê dis maar 'n "sêd affêre."

In 'n mens se "sêdheid" kon jy nog sowaar 'n traan huil oor Kahlil Gibran se waar woord: Dat dit immer maar so is dat die liefde sy eie diepte nie ken voor die afskeid nie daar is nie.


Met die afskeid aan Dagbreek se redaksie het mnr Marius Jooste aan elk 'n duur Switserse wekker met die Dagbreek-haan daarop gegraveer, as 'n geskenk gegee. Hier ontvang Chris Vermaak, wat ná sy hoofverslaggewerskap 'n jaar lank as nuusredakteur in die stoel was, sy geskenk. (Terloops: dit was nou 'n slim keuse, hierdie wekkers. Want kyk, die Dagbrekers het nog nooit, in teenstelling met hul naam, vir vroeë oggende ingegaan nie. Hulle kon wel laataand uithou, ja ...



Wat sou hulle besluit het? Dat dit maar 'n "sêd affêre" is? Dit is At de Beer wat op 1 Oktober van Hoofstad af gekom het om assistent-redakteur van Dagbreek te word en hoofsub Mike van Niekerk wat hier so stroef koukus. At - die man met die aansteeklike lag - sê hy lyk maar by tye so. Mike word hoofsub by Rapport en sy assistent, Piet Gouws, gaan saam.



Len ... Len! ... Len!!! Wat het Len Lindeque vir mnr Dirk Richard en mnr Duimpie Opperman, hoofbestuurder van die nuwe maatskappy, op Dagbreek se afskeidspartytjie vertel? Mnr. Richard vertrek binnekort oorsee om die uitwerking van televisie op die perswese te bestudeer. Hy is aangestel as groepredakteur.



Een van die APB se min vrygeselle wat al mooi ryp in jare is, is sportverslaggewer Johan Vosloo. Hier kry hy so 'n afskeidswoord in met Dagbreek se aantreklike donkerkop-redaksiesekretaresse, mev Laetitia Ungerer. Sy is nou mnr Jan Victor direksielid van Rapport, se sekretaresse. En Vossie, hy is nou neusie verby vir die APB-nooiens. Hy is nou 'n Rapport-eur.



Dick Prestwich, Dagbreek se oudste (maar moet dit nie sê nie, want hy drawwe elke oggend 'n paar myl klim Harrismith se Platberg soos 'n klipdas uit en swem winter en somer) ontvang ook sy wekker. Hy was hooffotograaf by Dagbreek en het intussen by Die Vaderland aangesluit.