Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.11.13

Rugby se universele taal

PIET EBERSöHN skryf: Hulle (ingeligte waarnemers/betroubare bronne?) sê die liefde praat ’n universele taal. Daaroor kan ek nie saam praat nie, maar ek kan bevestig dat rugby wel ’n universele taal besig.

Op 8 November 1980 het die Franse rugbyspan van Jean-Pierre Rives op Loftus Versfeld in Pretoria teen die Springbokke gespeel en ver verloor, 37 – 15. Die somertoets noem hulle dit.

Jean-Pierre Rives
Daardie aand het ek en ‘n vriend of wat in die Franse se hotel, die luuksieuse Burgerspark, beland. Hoekom weet ek nie, amptelik was dit gewis nie.

Hoe dit ook al sy, kort voor lank het ons ons in die geselskap van twee Franse rugbyskrywers bevind. Nie dat ons juis mekaar se erg gebroke Engels verstaan het nie.

Iewers het die gesprek ’n draai gemaak by die Griekwa-senter Mannetjies Roux, wat die Franse slot Alain Plantefol, in ‘n berugte bakleiwedstryd in 1967 op Kimberley agterna gesit en baie treë verder onder die sitvlak geskop het. Toe is ons soort van boesemvriende.

Ons kuier en ons raas! Elke dan en wan weergalm “Mannetjie (op Frans sonder die ‘s’ uitgespreek) Rhoeee!” of “Grhieeekwhaa” deur die deftige sitkamer.

Intussen het ‘n baie professionele ontvangsdame haar vir altyd in my geheue gegraveer met die manier waarop sy, onwrikbaar tweetalig, telkens die Franse kaptein oor die interkomstelsel geroep het: “Mr Jean-Pierre Rives, telephone, please! Mnr Jean-Pierre Rives, telefoon, asseblief!”

Mannetjies Roux
Aldeur het ons en die twee Fransmanne gekuier en geraas. Ge-Mannetjie Rhoeee! en ge-Grhieeekwhaa. Tot vroegoggend toe.

Iewers tussenin het ek my nog die argwaan van Alex Kellerman, die sekretaris van die SA Rugbyraad, op die hals gehaal deur hom te vertel dis te vergesog om die Suid-Amerikaanse Jaguars teen die Springbokke te laat speel. Die Gaselle en die Junior Springbokke sou steeds deug.

“Jy weet f-ôl van rugby af,” het hy my pront-uit vertel en onthuts weggestap.

Dit was omstreeks drieuur die oggend toe ek die twee Franse by hul onderskeie hotelle in die stad gaan aflaai het.

Mannetjie Rhoeee! en Grhieeekwhaa! het nog ’n paar keer weergalm. Dié kere deur Pretoria se verlate strate.

Terwyl ons van Franse rugbyjoernaliste praat, moet ek seker ook bieg oor ’n voorval uit die dae toe ek met die mediaskakeling in die persbank op Loftus Versfeld gehelp het.

Op ’n dag voor ’n ander toets teen die Hane maak ’n Fransman hom by die Pretoria News se telefoon in die
persbank tuis en bel lustig Frankryk toe.

Philippe Sella
Ek dag toe ek moet darem na die afwesige News se belange omsien en die man voor stok kry. Ek het hom beleef daarop gewys dat hy hom darem nie sommer, so sonder vra, iemand anders se telefoon kan toe-eien nie. Hy het só verskonend gereageer, dat ek soos ’n vark gevoel het omdat ek hom aangespreek het.

“Wie is dié kêrel,” het ek terloops van ’n omstander verneem.

“O,” het hy gesê, “dis Philippe Sella.”

(Philippe Sella was die eerste rugbyspeler ter wêreld wat in meer as 100 toetse gespeel het – en dit in die dae voor plaasvervangers ingeryg is soos vandag die geval is. Hy het van 1982 tot 1995 in 111 toetse vir Frankryk gespeel en 30 drieë gedruk. – Red.)