Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.11.13

Glenda was ʼn ‘beat’ op sigselwers

PHILIP DEETLEFS skryf: Toe ek Jakkie Groenewald se stuk oor Glenda Kemp in K’rant lees, het ek onthou dat Glenda op 'n kol eintlik my "beat" was.

Ek onthou veral van gevalle waar sy op klein plattelandse dorpies haar trieks gedoen het, want dis waar die stories was. Die plaaslike bevolkings wou almal graag vir haar gaan kyk, maar die dorpies se sedebewakers het geglo die hele dorp en sy mense sal in die vagevuur verteer word as hulle hierdie "heks" op hul dorp toelaat. Dit was altyd lekker stories en ek en Glenda het mettertyd redelik goed bevriend geraak.

Maar Frans Scheepers se foto en sy vraag? Ek kan nie met eens 'n geringe sweempie van oneerlikheid sê ek onthou dit hoegenaamd nie. Ek moet darem ook byvoeg dat my geheue nie al hoe beter word nie.

Die ander ding wat ek van Glenda onthou, is dat sy vas geglo het wat sy doen, is kuns en sy het haar min gesteur aan die "oningeligte" kritici van die kerke wat haar graag verdoem het. Ek het ook letterlik honderde mense raakgeloop wat volmondig met haar sou saamstem. Dis die mense wat teen betaling die sale volgepak het waar sy en Oupa die manne vermaak het.

Glenda was ook 'n slim belegger. Sy het groot geld verdien en haar gunsteling-belegging was om Krugerrande te koop. In 'n stadium het Glenda letterlik honderde Krugerrande gehad wat sy destyds vir minder as 'n R100 stuk gekoop het. Vandag is 'n Krugerrand omtrent R15 000 werd.

Ek wonder of sy dit nog het?

Terloops, verlede week het ek en Wilma saam met Wouter de Wet (gewese lid van DT se kunsredaksie) ietsie gaan eet. Sy (jonger) suster wat in Windhoek woon, het 70 geword en hy het hier gekuier.