Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.11.13

Ongerepte Bosveld was Lala se Wilde Weste

LALA WAHL skryf: Bennie Neethling se Bosveldstories voer my terug na my kinderjare op my oupa Eloff se plaas in die Baltimore/Tolwe-omgewing.

"Slang" was die naam van die plaas waar hy gewoon het en die ander twee was Schoemansdal en Matula.

Op Matula is daar grotte waar die Koisan hul kuns vir die nageslag verewig het en Schoemansdal was toegegroei onder tambotiebome. Ek onthou dat iemand daardie jare die bome begin steel het om waarskynlik meubels mee te vervaardig, want braai durf jy nie met tambotie nie!

My oupa, Zacharias Eloff, was 'n gesoute Afrikanerbeesboer en knap spekulant by wie sy ou vriend, adv JG Strijdom, dikwels tydens sy besoeke aan die Waterberg-kiesafdeling oornag het.

Dit was juis hier in die einste Bosveld waarvan Bennie praat waar my ma, Essie Wahl, se skrywersdrang die oorhand gekry het en vanwaar sy reekskinderverhale geskryf het wat deur Die Transvaler en Die Burger geplaas is en wat selfs op die Afrikaanse radiostasie van die SAUK uitgesaai is.

Die plaaslewe op "Slang" het ideale toestande vir haar verbeelding geskep om kindertjies mee doenig te hou. Hoe ouma Elizabeth die broeis hoenderhenne onder die water in die plaasdam gedruk het, want hulle moet lê en nie broei nie, die soetste lemoene, nartjies en moerbeie in die lemoenboord. Selfs die suurlemoene het ek geëet. Die plaas had die soetste boorgatwater en die dikste rooi sandgrond.

Smiddae het ek die kudde ingewag wat die beeswagter aangebring het om die soet water uit die krippe te suip eerdat hulle aangestap het na die houtkraal om die eerste lig in te wag om weer te gaan wei. Ek het dan saam met ou Porrie kraal toe gestap en eers gehelp om die skaap- en bokkrale toe te maak.

Dan was daar die 1965-droogte wat ek nie wil onthou nie.

So het bv ma Essie se reeks oor Swarthen en Akkedissie Akkedoesie in die vroëe jare vyftig in DT op die "Jong Transvalertjies" se blad verskyn.

Een van Essie Wahl se stories wat op 21 Junie 1952 
in Die Traansvaler verskyn het.
Hier sit ek in die kombuis van die ou 
plaashuis toegespan onder die tafel en plas
 in koue water om af te koel!  Hiehiee! 
Dit lyk of ek aan die tafelpoot vasgemaak is
Daar was ook "Stompstert-Akkedis", "Groot Lawaai oor Nege Klein Hondjies" waarin die nuuskierige tarentaal, Asvaal, 'n taai klap kry en "Die Suikerbekkies van Voëltjiesdorp" wat oor 'Vir die Kleinspan' uitgesaai is. Daar was ook "Hoe Jantjie skurf geword het" wat in Die Kleinburger onder redaksie van Rykie van Reenen gepubliseer is.

My ma was ook die verteenwoordiger vir Die Vaderland in die Bosveld gedurende die jare vyftig. Haar beriggies is gepos en het sowat twee weke later verskyn.

Ek wens so ek kon alles onthou van daardie jare. Soos toe Emma, die huisbediende, my as peuter voor 'n aanseilende "agt voet lange" koperkapel uit die sandput op Swartwater weggeraap en met my gehardloop het en my pa toe die ou grote geskiet het.

Twee of drie van my onhebbelike Bosveldooms en my pa (hy was weer 'n onhebbelike Kapenaar wat op sy dag vir Maties, WP, Boland en Griekwas uitgedraf het) het met die ou Studebaker gery en 'n luislang wat oor die pad geseil en toe by 'n gat in is, aan die stert uitgetrek het. Dit klink soos die Wilde Weste in die ongerepte Bosveld van toentertyd.
SAUK-brief aan Essie Wahl


Brief van Rykie van Reenen aan Essie Wahl