Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.4.14

Só onthou ek vir Jan Syfert

 FRIKKIE VAN DER WALT skryf oor Jan Syfert wat dié week oorlede is: Ek het Jan Syfert, gewese hoofsubredakteur van Dagbreek, geleer ken toe ek en Willem Knoetze beurte gemaak het om Saterdae vryskut by destyds se grootste Afrikaanse Sondagblad in die wêreld te werk.

Doug Jones het die twee van ons eintlik maar net gebruik om te hoor
wat op die oggend se misdaadkonferensie gebeur het en om polisiekontakte vir nuus te bel.

Willem Knoetze
Ek het as junior oor gewone ongelukke en geringer misdade geskryf, maar Dougie sou die groter stories oorneem en ek sou foto’s van slagoffers by hulle gesinne gaan soek.

Ons het aan Die Vaderland se kant gesit en werk en nie eintlik met die veterane gemeng nie. Pleeg ek op ‘n kol ‘n stewige pleegsel toe Dougie as gevolg van vermoedelik ‘n ligte griep nie kom werk het nie.

Douglas Jones
Stap Jan Syfert met die storie se kopie in die hand in vra of ek vir die pleegsel verantwoordelik is. Hy begin rustig vrae oor die gebeurtenis vra waaraan ek nie gedink het nie. Ek vra om
verskoning, maar hy lag dit weg en stel voor ek gaan vra daardie vrae. Wat ek vir my vryskutbetaling van R14 per skof terstond doen.

Dien die kopie by hom in, maar herken byna nie die storie in die koerant nadat hy daarmee klaar is nie. Gestroop van byvoeglike naamwoorde, anglisismes en langdradigheid. Kort en kragtig.

‘n Saterdag later stel Jan voor dat ek afskrifte hou van my berigte en dit vergelyk met die berig wat in die koerant verskyn het. Gewoonlik ‘n wesentlike verskil. Mettertyd was daar heelwat minder verskille tussen my afskrif en die berig in die koerant. Dalk net ‘n beter invalshoek.

En wat was Jan se voorstel as jy onseker is oor sekere feite? When in doubt leave out.

Ek is seker ek is nie die enigste groentjie wat deur Jan Syfert touwys gemaak is nie. Waarvoor ek ewig dankbaar is.