Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.4.14

Avonture in die Rhodesiese bosoorlog

KARIN PRETORIUS skryf: Ná my dae as skakelbeampte van Ster Films het tydskrifwerk gevolg en ek is in begin 1977 in die redaksie van Radio & TV Dagboek aangestel met Corrie Venter as redakteur. Wat ‘n wonderlike fiksieskrywer. Ek wonder wat van hom geword het? (Nadat hy ook redakteur van Farmer’s Weekly was, is Corrie ‘n hele paar jaar gelede oorlede. – Red.)

Tant Bybie Hyman het my kort-kort ingespan vir Rooi Rose-artikels en ek het selfs vir my buurman op kantoor, Paul C Venter, ‘n paar artikels vir Keur geskryf. Dit het my die kans gegun om waardevolle ondervinding by verskillende soorte tydskrifte op te doen.

Karin met 'n koeëlvastebaadjie in die operasionale 
gebied naby Buluwayo in 1979.
Ná agtien maande het die hunkering na die “aksie” in my weer die oorhand begin kry en ek het my oë na die bosoorlog in Rhodesië gewend. Ek het gewonder waarom daar nie Suid-Afrikaanse joernaliste permanent daar gestasioneer is nie met so ‘n belangrike oorlog op ons grens. Buitendien het ek altyd lekker gekuier by my suster en swaer – Ronel en Kokkie Martin – op hul familieplaas ‘Rockingstone’ naby Rusape en soms met ‘n artikel teruggekom wat ek vir een van ons tydskrifte geskryf het.

Ek het die Hymans vir ‘n oorplasing na Rhodesië gevra en baie teenspoed gehad. Willem wou nie die verantwoordelikheid neem van my as joernalis in ‘n oorloggeteisterde land nie en ná baie redenasies en voorleggings wat hom nie kon oortuig nie, het ek uiteindelik besluit om te bedank en as vryskutjoernalis te gaan werk. Toe dit gebeur, was hy bereid om my ‘n maandelikse toelae te betaal en van films te voorsien vir my twee 35-mm Pentax-kameras – een vir kleurfoto’s en een vir wit-swart wat permanent in ‘n swaar kamerasak met baie lense en flitsapparaat oor my skouer gehang het! Films was onverkrygbaar in Rhodesië.

Hermie Hendriks
Ek het ook by mnr Hermie Hendriks gaan aanklop, hom vertel van my planne en gevra of ek moontlik vir Die Transvaler artikels kon skryf. Hy het my aangekyk asof ek van ‘n ander planeet was, wat mens sekerlik kan verstaan vir daardie jare – wat wou ek vrou-alleen in die gevaar gaan soek? Gelukkig het ek groot steun en bemoediging van redakteur Harald Pakendorf van Die Vaderland ontvang wat vroeër redakteur van die Rhodesian Financial Gazette was en begrip gehad het vir my drome.

Ek pak toe my groen Datsun 120Y tot teen die dak en vertrek in Julie 1978 na Messina by die Beitbrug en oornag in ‘n hotel. ‘n Mens moes jou reëlings só tref dat jy die volgende oggend vroeg deur die grenspos gaan om vir jou eie veiligheid by die gewapende konvooi aan te sluit wat negeuur die oggend na Salisbury vertrek het – ‘n gewapende pantservoertuig voor aan die ry motors en een wat die agterhoede beskerm het teen moontlike terroriste-aanvalle.

Ek huur ‘n kothuis in Salisbury se voorstad Mount Pleasant, open ‘n kantoor in Union House in Angwastraat in die middestad naby die Monomotapa Hotel, waar al die oorsese korrespondente nesskrop, met teleksfasiliteite! Tikmasjiene het nooit opgehou kletter nie.

Lucia Gomes
Harald Pakendorf
En só begin ‘n nuwe loopbaan as oorlogskorrespondent met vryskutwerk soos beplan. Binne ‘n paar maande word ek die SAUK se korrespondent vir Monitor en Spitstyd en ses maande later in Junie 1979 bied Harald Pakendorf my die pos as Perskor se verteenwoordiger in Salisbury aan wat ek tot Julie 1982 beklee het. Harald het my loopbaan werklik ‘n hupsoot gegee, hy was altyd daar as morele steun en het my ook die nodige terugvoer gegee – 'n mens was maar alleen en baie geïsoleerd in Salisbury. Ek was ook die enigste permanente vrouejoernalis tussen sowat 100 oorsese manskorrespondente. Fotograaf Louise Gubb van AP was darem ook daar. Ek onthou Lucia Gomes het eenkeer besoek afgelê, al die gebeure rondom haar so beskou terwyl Salisbury brand en gesê: gee my liewer ‘n moord op die platteland. Ek onthou dit nog soos gister! Onthou jy dit Lucia?

Dit was natuurlik ‘n joernalistieke paradys met alles wat gebeur het en ek sal nog meer breedvoerig hieroor berig, maar ek noem slegs van my belangrikste hoogtepunte met baie eerstes vir Suid-Afrika :

Joshua Nkomo
• Die verskrikking van die eerste Viscount-vliegramp in September 1978 toe Joshua Nkomo se Zipra-magte die vliegtuig naby Kariba afgeskiet het en sy kekkellaggie in ‘n TV-onderhoud toe Britse joernalis David Frost hom daaroor uitgevra het. Ek het die inligting vir die tydskrif Scope deurgestuur.

'n Jong
Robert Mugabe
• Die eerste nuuskonferensie met Robert Mugabe op 13 Maart 1980 waar hierdie “vriendelike” mannetjie met kort nek, swart hare en grys haaruitgroeiing rondom die blink gesiggie ons verstom het met sy beleid van versoening, geen weerwraak en rehabilitasie – die drie r’e in Engels: reconciliation, no recrimination and rehabilitation. My foto’s wat ek na Perskor gestuur het, was die eerstes van die “oud-terroris” en president van Zanu-PF uit Rhodesië.

• Ek was die eerste Suid-Afrikaanse joernalis wat ‘n onderhoud met mnr Ian Smith gevoer het en wat Die Transvaler eksklusief op 13 Junie 1980 geplaas het. Meer hieroor later.

Lookout Masuku
• Nog ‘n eerste vir Suid-Afrika was my eksklusiewe onderhoud met mnr Joshua Nkomo by sy huis in Salisbury, waar ek deur Zipra-bevelvoerder Lookout Masuku binne genooi is. Die Vaderland het die onderhoud op 1 Augustus 1980 geplaas.

• Ná die verkiesing op 29 Februarie 1980 toe Mugabe ‘n wegholoorwinning behaal het, hoe blankes vreesbevange grens toe gevlug het maar halfpad omgedraai en teruggekeer het en hoe Rhodesiese veiligheidsmagte vure gemaak het om dokumente te verbrand. Maar hoe daar om middernag ‘n stilte oor die land gedaal het en nie een enkele geweerskoot, bom of helikopter gehoor is nie – daar was ‘n tasbare stilte in die strate van Salisbury die volgende dag. Die son het opgekom en daar was oornag vrede in die land.

PK van der Byl en sy bruid toe Karin hul troue in 
Oostenryk in Augustus 1979 bygewoon het.  
Foto: wyle Herman Potgieter.
• Ek was die enigste joernalis wat na mnr PK van der Byl, Rhodesiese minister van buitelandse sake, se
troue met prinses Charlotte von Liechtenstein in Waldstein in Oostenryk op 31 Augustus 1979 genooi is. Ek het die artikel vir Rooi Rose geskryf en fotograaf wyle Herman Potgieter het my vergesel

• In Maart 1981 het ek ‘n wêreldscoop vir Die Vaderland bekom toe ek ‘n Ziprakamp met 4 000 volgelinge van Nkomo by Gwaairivier naby die ou Wankie binnegesluip en ‘n volle dag in die geselskap van swaar gewapende soldate deurgebring het. Ek het ‘n verdoemende verslag geskryf oor hoe sleg hierdie “ gewese terroriste” deur mnr Mugabe se regering behandel word, nie betaal word nie en nie in die nasionale leër opgeneem word nie. Mnr Mugabe wou my uit die land deporteer!

• Ek het ook ‘n eksklusiewe onderhoud met genl Peter Walls, opperbevelvoerder van die gesamentlike magte in Rhodesië gehad.

Volgende Woensdag vertel Karin van die lekkerste werk in haar lewe.