Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.4.14

Meyerton-busramp – mevrou Lotter se storie

ELMA POTGIETER, gewese joernalis van Die Transvaler en deesdae aktrise, skrywer en vertaler, skryf: Beelde, indrukke, is my onthou van daardie dag.

Ons was almal bo in die kafeteria. Party met borde kos voor hulle, party met koffie of tee. Ek het by ‘n venster gestaan, met iets in my hand – dalk ‘n beker tee. Die venster het noord uitgekyk oor
Jorissenstraat.

Jannie Herbst
Meteens ‘n beroering – iets oor die interkom. Blykbaar ‘n skoolbus wat teen ‘n trein gebots het. Die Transvaler stuur vier spanne. Ek en Jannie Herbst kry die laaste Volksie – val in die pad.

Ons is stil. Ek skat Jannie konsentreer op die pad.

By die ongelukstoneel is daar niks. Selfs die bus is weg. Ons klim uit. ‘n Maer vrou met ligte hare en ‘n uitgewaste katoenrok dwaal op die toneel rond asof sy iets soek.

Ek gaan stel my voor. Sy is mevrou Lotter. Ek kan nie haar naam onthou nie en Google praat net van ander mense.

“Het u kinders op die bus gehad, mevrou?”

“Ja, twee dogtertjies.”

“Het u vervoer, mevrou?”

“Nee. My man lê by die huis. Sy been is afgesit ná ‘n spoorwegongeluk.”

“Ry saam met ons, mevrou.”

Sy klim in. Ons ry in stilte. Dalk het ek haar besonderhede intussen neergeskryf. Ek kan nie onthou nie. Ons stop by Vereeniging Hospitaal. Ek stap saam met mevrou Lotter. Jannie Herbst is oral by. Ek kom nie agter dat hy foto’s neem nie.

Ek neem die inisiatief en gaan vra iemand. Is die kinders in die hospitaal al uitgeken? Is daar Lotter-kinders? Wat voel ek? Niks wat ek kan agterkom nie. Hoe voel mevrou Lotter? Ek weet nie. Sy praat nie. Sy huil ook nie.

Ons gaan klim terug in die Volksie. Nou lykshuis toe. Ek besef ek sal mevrou Lotter moet ondersteun – sy kan dalk flou word.

Ek was nog nooit in ‘n lykshuis nie, maar ek verwag dat lyke op sementtafels sal lê. Ek hou mevrou Lotter se linkerarm vas en ek hou my oë afgewend.

Ons kan oor hulle struikel. Die kinderlyke lê netjies langs mekaar op die sementvloer. Ons kan hulle nie miskyk nie. Daar is nie oop wonde nie, maar oneweredige rooi strepe onder die gesigvel laat dit lyk of hulle hard geskud is om die koppe te laat kraak. Gebarste pop-koppe lyk so.

Mevrou Lotter sê niks. Sy huil ook nie. Ek sê ook niks nie. Sy gaan staan stil by ‘n kinderlyk, ‘n dogtertjie. Is dit hare? Ons kry hulle albei daar. Ek kan nie onthou of en hoe sy my daarvan vertel nie.

Ek onthou ook nie of ons iets aan iemand gesê het nie, aan ‘n polisieman of ‘n amptenaar. Stilte. Dis asof ons al drie in ‘n vakuum vasgevang is.

Weer klim ons terug in die motor. Ons ry terug Vereeniging-hospitaal toe. Ek moet my verslaggewer-plig doen – ander mense ook uitvra, maar mevrou Lotter is die heeltyd by my.

Illustrasie
Veel later gaan laai ons haar by haar huis af – ‘n armoedige rooibaksteen spoorweghuis. Ek ontmoet meneer
Lotter waar hy in hulle slaapkamer lê. Ek onthou vaagweg dat ek sy inligting neerskryf.

Dan klim ons in die Volksie, dié keer net ek en Jannie en ons ry terug Johannesburg toe. Braamfontein. Jorissenstraat. Transvaler. Werk toe. Dis nou laat skemer. Johannesburg ruik na stof en vis en skyfies met olie en asyn.

Die ander verslaggewers is almal al daar. Jannie Herbst verdwyn – die foto’s moet dadelik ontwikkel word. Die nuusredakteur, Das Herbst, keer ons almal aan na ‘n sentrale punt. Wie het wat, wil hy weet. Hy gaan op die ry af. Elma? Ek het mevrou Lotter se storie.

Dr Carel Nöffke, hoofredakteur, dra tee aan.

'n Gedenksteen vir die 23 kinderslgoffers.  
Die twee Lotter-dogters se name is met 
rooi kolletjies aangedui.
Eindelik gaan sit ek agter ‘n tikmasjien in die algemene kantoor. My notas lê links van my. Ek begin tik.

Mevrou Lotter se storie neem vorm aan. Trane spat horisontaal op die papier. Is dit moontlik?

Ek moes die datum op Google gaan naslaan – 28 Januarie 1970. Dis baie hartseer dat daar niks op Google verskyn oor mevrou Lotter en haar man se verlies daardie dag nie. Twee van die 23 kinders was hulle dogters.

Das praat agter my met iemand. “Sy het vir jou ‘n storie vir Sondag.” Ek kyk op. Tobie Boshoff staan regs agter my lessenaar. Hy is nuusredakteur van Die Beeld. Die Beeld was Rapport se voorganger.

“Mevrou Lotter se storie,” sê ek.

Sondag verskyn mevrou Lotter se storie in Die Beeld – deur Elma Potgieter.

My eerste outeursreël – beter bekend as my eerste “by-line”.