Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.4.14

K’rant is ‘n spanpoging

PIET EBERSÓHN skryf: Toe ek Japie se bewierookte storie oor my onttrekking aan die K’rantredaksie lees, moes ek myself ‘n slaggie knyp net om seker te maak ek is nog in die lewe. Maar voor ek ‘n geswolle hoof kry, moet ek uitwys dat K’rant uit die staanspoor ‘n spanpoging was en dat die sleutel van sukses in die saamtrek in die tuig lê. Dis wat die wa vorentoe gevat het, en wat dit vorentoe sal bly vat.

Ek was geseënd om met ‘n begaafde, toegewyde en ervare redaksiespan saam te werk en dit het veel bygedra tot K’rant se sukses. Dit het as ‘t ware die fondament gelê vir ‘n huis wat deur gewillige en ‘n talentvolle bydraerskorps gebou en deur geesdriftige lesers in stand gehou word.

Vir die nuusskieriges: K'rant se besoekerstal per maand die 
afgelope 22 maande (Junie 2012 tot Maart 2014). Dit is 
altesame 23 505 besoekers of gemiddeld 1 068 per maand.
Vir my is die K’rantgemeenskap een groot gelukkige familie waarvan elke lid sy of haar deel na elkeen se vermoë doen om dit wat ons jare gelede saam gedeel het te laat voortleef – nie net herinneringe en lief en leed nie, maar veral ook hegte vriendskapsbande wat toentertyd gesmee is.

Ek bly deel van hierdie familie, net in ‘n ander rol, en vertrou dat ons almal vorentoe nog baie vreugde uit
K’rant sal put.

Die K’rantspan wat oorbly, is meer as goed toegerus om K’rant tot veel groter hoogtes uit te bou en daar is reeds aanduidings dat ‘n interessanter en interaktiewer K’rant op ons wag.

Dit gesê, bedank ek Philip, Willie, Japie, Stella, Charl en wyle Andries van harte vir die wyse waarop hulle sake laat vlot het, ook elke bydraer wat vir die boustene gesorg het, en die lesers vir hul volgehoue steun.

(Intussen het Willie Buys hom aan K'rant se aktiwiteite onttrek. Philip Deetlefs (redakteur), Stella Niemand (subredakteur) en Japie Bosch (joernaalmeester) sal voortgaan om K'rant aan die gang te hou. --Red.)