Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.4.14

Piet verlaat ons. Dankie, Piet

PIET EBERSÖHN, die man aan die stuur van K’rant, het die tuig neergelê. Ander verpligtinge het dit meegebring.

K’rant is baie dank aan Piet verskuldig en bied hom sy beste wense met die projekte wat hy moet aanpak.

Sedert K’rant in sy huidige formaat as webjoernaal amper twee jaar gelede begin is, was Piet die baas. Vóór dit het hy eposse oor Perskor se oud-kollegas uitgestuur.

Peet Simonis het verlede jaar geskryf: “Aan die begindae van K'rant, het baie vername oudjoernaliste sowaar nie rekenaars gehad nie – en van e-posse net in naam geweet. Ongelooflik, maar "verligte" dok Wimpie de Klerk was so iemand, Hermie Hendriks ook. Piet Ebersöhn het in daardie dae sowaar die moeite gedoen om die K'rant-stories vir hulle en ander in dieselfde bootjie uit te druk, foto's en al en kleur was toe nog duur – en vir hulle te pos of te gaan aflewer. Hulle het dit baie geniet en waardeer – ek moet nog iewers Wimpie se brief van waardering vir die posdiens en K'rante hê.”.

Dít is tipies Piet. ‘n Meer ywerige en bereidwillige redakteur sou K’rant nie voor kon wens nie. Oud-Perskorkollegas is vir hom belangrik, of hy hulle geken het of nie.

Piet se groot bydrae tot K’rant was dat hy oud-kollegas opgespoor en soms as ‘t ware gesoebat het vir stories. Elke storie het deur sy hande gegaan. Hy het geredigeer (baie), herskryf, koppe geskryf (omtrent elke storie) en debatte met mede-redakteurs gevoer en ontlont.

Diegene wie al met Piet kennis gemaak het, weet dat hy ‘n beskeie man is. Hy het maklik gesê: “Vleiende opmerkings maak my verleë. Niemand is onvervangbaar nie”.

Jammer, Piet as jy weer verleë voel, maar voorgaande komplimente moet jy aanvaar. K’rant se bydraers en lesers wil hê jy moet weet ons is dankbaar vir die werk wat jy gedoen het om ons deur middel van K’rant baie plesier te gee. Jy word waardeer. Ons gaan jou mis en K'rant gaan nie meer dieselfde wees nie.

Piet het onderneem om nog ‘n bydraer te wees. Ons sien uit na ervarings wat hy met ons gaan deel.

• Piet het die grade BA en BA (Honns) en die Universiteitsonderwysdiploma aan die destydse PU vir CHO behaal, en later ’n M.Phil (Joernalistiek) aan die US.

Hy het op 6 Januarie 1975 as vertaler by Die Transvaler van Willem de Klerk in Aucklandpark ingeval, later ook sub en toe hoofsub geword in die nagkantoor. Hy het voorts ’n draai as landbou- en verbruikersverslaggewer in die finansiesredaksie gemaak.

Daarna het hy by die maatskappy, Interad, aangesluit en was hy opeenvolgens redakteur/skakelbeampte van die Transvaalse Landbou-unie en toe die SA Landbou-unie. Hy en vier vennote het die koöperasietydskrif SA Koöp gestig, wat hulle later verkoop het.

‘n Poging om self ‘n koerant, Akasia, in Pretoria noord van die Magaliesberg uit te gee, het na iets meer as ’n jaar doodgeloop en hy is terug Transvaler toe, as spesialis-verslaggewer onder Gerrit Velthuizen en later Gerhard Burger se redakteurskap. Met die koerant se sluiting was hy hoof van die Pretoriase kantoor.

Toe Perskor Noord-Transvaler Metro in Pretoria opgerig het, het hy sport-en promosieredakteur van die nuwe koerant geword.

Die afgelope 15 jaar werk hy vir ‘n skakel- en promosiemaatskappy in Pretoria. -- JB