Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.4.14

Ná 'n halfeeu bly joernalistiek 'n lekkerte!

JOHAN PRETORIUS onthou: My koerantloopbaan het op 1 Augustus 1966 as papierskeurder by Die Transvaler begin. Ses maande lank teleksmasjiene versorg, vir die hoofsub koffie aangedra, pos by die lughawe afgehaal en die hoofredakteur huis toe geneem. Toe kry ek bevordering in 1967 as subredakteur in die nagkantoor. Daarna misdaadverslaggewer, ook in die nagkantoor, en later algemene verslaggewer.

Middel 1968 kry ek die pos as subredakteur by die SAUK op die radio-lessenaar, en later radio-verslaggewer by die ou Nuus om Nege, en uiteindelik hoofsub op die radio-nuuslessenaar.

In die vroeë jare sewentig het ek vir 'n bykomende inkomste deeltyds op my 'afskof-dae' vir agt maande by Perskor in Aucklandpark as 'n algemene verslaggewer gewerk.

In 1974 stuur die SAUK my Persgalery toe en later as een van die eerste twee Afrikaanse nuusredakteurs by die nuwe televisiediens van die SAUK. In 1977 is dit terug Kaap toe as televisienuus se beriggewer in die Persgalery en in 1979 die SAUK se politieke korrespondent.

PW Botha
Riaan Eksteen
Einde 1984 is ek terug Johannesburg toe as redakteur van televisienuus. In 1987, weens 'n onderonsie tussen die destydse president PW Botha en die SAUK se uitvoerende hoof, Riaan Eksteen, was dit terug Persgelary toe as die sg Tuynhuys-korrespondent en skokbreker tussen die president en die SAUK. Max du Preez het in hierdie tyd spottenderwys na my verwys as die "Tuynhuysmuis."

Aan die einde van 1989 is ek aangestel as hoofredakteur: Nuus van die SAUK en het in hierdie stoel gesit tot einde Augustus 1994.

In my dienstyd by die SAUK het ek die geleentheid gehad om geskiedkundige gebeurtenisse eerstehands te ervaar, interessante en bekende mense van oor die hele wêreld te ontmoet, en met hulle onderhoude gevoer. Onder hulle tel dr Henry Kissinger, oudpresident Jimmy Carter, dr Kurt Waldheim van die VN, Margaret Thatcher die ystervrou van Brittanje, genl Alexander Haig, president Benazir Bhutto van Pakistan, Jane Fonda (ook bekend as GI Jane weens haar aktivistiese optredes teen die Viëtnamese oorlog) , Ted Turner (mediamagnaat), Boutros-Boutros Ghali, Sam Nujoma, Jonas Savimbi en ander Afrikalaleiers soos Omar Bongo, Robert Mugabe en Kenneth Kaunda.

Dit was my voorreg om die eerste Suid-Afrikaanse televisieverslaggewer te kon wees wat berigte per satelliet uit die buiteland gestuur het (John Vorster se oorsese besoeke in 1976) en ek het hiervoor 'n kategorieprys van die Stellenbosch-boerewynmakery se toekennings vir ondernemende joernalistiek gekry.
In my dienstyd by die SAUK het ek twee Artes-toekennings ontvang: een in 1982 vir my verslaggewing oor die skeuring in die Nasionale Party, en in 1987 vir die organisering en instelling van die oggend-televisiediens Goeie More Suid-Afrika.

Ná die SAUK was ek van 1995 tot 1998 dosent aan die destydse Pretoriase Technikon en die Damelin-Sakeskool in Pretoria in joernalistiek en politieke wetenskap.

In 1998 het die sakewêreld my gelok met die koop van 'n konsessie-restaurant in Sandton tot in Oktober 1998, toe die konsessiegroep finansiële probleme ondervind het.

Daarna het ek 'n drankwinkel aan die Suidkus by Shelly Beach in KwaZulu Natal gekoop, en met vroulief, honde en papegaai, soontoe getrek. Binne drie maande maak iemand my 'n goeie aanbod op die drankwinkel en kry ons 'n ander drankwinkel, dié keer in Port Shepstone.

Twee jaar later kom nog 'n aanbod op hierdie winkel oor my pad en kry ons 'n restaurant in Shelly Beach. Drie jaar later vra die eienaar van 'n gemeenskapskoerant, die South Coast Fever of ek nie belangstel om redakteur te word en die koerant te help uitbou nie.

So gesê, so gedaan: Die restaurant word geskiednis en oor die volgende tien jaar van 2003 af is dit terug in die joernalistiek.

Klik hierbo
In 2013 besluit Media 24 om die Fever-groep te rasionaliseer, en tesame met 'n groepie kollegas van Fever, begin ons toe 'n gemeenskapsnuus- en inligtingswebwerf genaamd eHowz!t.

Ewenwel, ná amper vyftig jaar in die joernalistiek geniet ek dit steeds, hoewel die nuwe tegnologie met al sy vertakkinge maak dat dit nie altyd maklik is vir iemand wat die joernalistiek betree het toe teleksmasjiene en radio-telefoonfoto's die 'state of the art' was nie.