Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.4.14

Sarel was ʼn steunpilaar in baie opsigte

JOHANN RAATH, gewese advertensieman by Perskor, skryf: Sarel/Jerry/Sny/Snysels  -- soveel name, maar almal se pel!

Ek en Sarel Snyman ken mekaar van 1977 af toe hy by Perskor begin werk het.

Hy het saam met oom Piet de Witt ‘n kantoor gedeel. Ek en Sarel
het gou pelle geraak omdat hy soos ek mal was or sport en sports! Saam rugby, krieket, gholf, visvang ens, ens, gedeel en gedoen.


Sarel Snyman
Dit was lekker om saam met hom te werk. Hy het menige dae wat spanningsvol en vol stres was, in maklike kommervrye dae laat verander deur sy vinnige opsomming van enige situasie en hoe om dit tot voordeel van ons twee te draai! Ons kon die land vol reis agter advertensies en “opportunities”, soos hy dit genoem het, aan. Hy het baie hard gewerk, maar kon net so hard speel ook.

Hy was my steunpilaar in baie opsigte: my troue, geboortes van my kinders (veral met Marike se geboorte was hy en Magriet my en Hanlie se grootste steunpilare. Hy was altyd my “afpak”-kussing toe dinge met haar baie rof gegaan het!). Jy hoef net te gevra het – somtyds sommer onnodig – hy het altyd geweet en probeer help en ondersteun – Dankie Jerry! Ons twee gesinne het ‘n hegte band gesmee. Ons vrouens en kinders het baie goed oor die weg gekom en daar was vir Sarel niks lekkerder as ‘n groot saamkuier nie.

Sarel was nie iemand wat van verloor gehou het nie, het nie maklik tou opgegooi nie en soms soos ‘n steeks donkie opgetree om ‘n punt te bewys.

Hy het twee sêgoed gehad wat altyd in my ore sal bly opklink.

Die een was: “I come from a tough town. I come from a tough street. The further you go down the street, the tougher it gets. I stay in the last house.”

Die ander: “Born to be wild.”

Sy laaste aksie laat groot leemtes by my. My kop kan nie daarom kom en verstaan hoekom hy dit gedoen het nie. Sy redes sal ons seker nooit weet of verstaan nie. My wens is dat hy vrede gevind het. Ons sal jou mis. Ek het ‘n groot pel verloor!

Nooit weer sal hy my “Johnny Carruthers” noem nie.

(Sarel was ‘n boksfanatikus en sy bynaam vir Johann is afgelei van die Australiese bokslegende Jimmy Carruthers wat in 1952 Suid-Afrika se Vic Toweel sy wêreldbokstitel ontneem het. Carruthers was ‘n hotklou en Johann baie bruikbare linkshandige gholf- en krieketspeler. – Red.)

• Sarel se begrafnis is 12:00 vanmiddag, 4 April, uit die NG Kerk Quellerina, h/v Lange- en Sneeulaan, Quellerina in Johannesburg.