Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.4.14

Oor Trafalgarplein tot by Die Transvaler

KARIN PRETORIUS skryf: My aanstelling by Die Transvaler in 1970 het via Londen by Suid-Afrika-huis op Trafalgarplein het gekom waar ek mnr en mev Carl Nöffke in 1968 tydens ‘n geselligheid ontmoet het. Carl Nöffke was toe die SAUK se verteenwoordiger in die Britse hoofstad, terwyl ek een van drie meisies was wat as ‘n ‘Outspan Girl’ vir die SA Sitrusraad gekies is om lemoene
en pomelos in Groot Brittanje te bemark.

Ná my kontrak van bykans ‘n jaar waartydens ek deur my werk die kans gehad het om die hele Brittanje plat te reis, het ek ‘n jaar langer vertoef en alles gedoen wat vandag se jongmense doen: kelnerin in Earls Court, kroegmeisie in Covent Garden, au pair in die Cottswolds, hops gepluk op ‘n Oxfordplaas, lekkergoed en koekies gepak in ‘n fabriek in Suid-Londen en druiwe gepluk in Frankryk. Hiermee het ek genoeg verdien om ‘n maand lank te gaan ski by St Johan in Oostenryk en saam met ‘n vriendin in Europa te gaan ryloop. Ons het in ses maande 15,000 myl (24 000km) gereis met rugsakke wat al swaarder geword het, in jeughostelle gebly, alle besienswaardighede moontlik verken en op £1 per dag geleef.

Carl Nöffke
Vir ‘n plattelandse meisie wat op Brits grootgeword het en daarna oud-Tukkie van Pretoria, was hierdie twee jaar ‘n ongelooflike geleentheid en ervaring vir daardie jare toe jongmense nog nie juis gereis het nie.

Met my terugkeer na Suid-Afrika in 1970, is mnr Nöffke intussen as redakteur van Die Transvaler aangestel en het ek by hom gaan aanklop vir werk. Ek het toe eerstens in die biblioteek begin en is ná drie maande oorgeplaas na die vroueredaksie saam met Elma Potgieter. Hennie Kotze het my ook vir die algemene blad aangewend as “aksiemeisie” en ek moes ‘n loopbaangids skryf deur onder meer self te gaan verpleeg, posbode te speel en as buskonduktrise kaartjies te knip!

Phillippa 
Breytenbach
Ek het in ‘n enkelwoonstel in Smitstraat gebly wat loopafstand van Jorrisenstraat 102 in Braamfontein was, my huur was R29 en my salaris R180 pm. Min van ons het ‘n motor besit, maar ek onthou Phillippa Breytenbach het ‘n bromponie gery. Sy is eendag deur ‘n kar omgery en sy het gehawend en met ‘n knop op die kop by die werk opgedaag.

Die vroueblad het een keer per maand ‘n onderhoud met ‘n persoonlikheid gevoer wat vroue sou interesseer. Elma het pas ‘n onderhoud met Chris (Tossie) du Toit gevoer – dosent, akteur en ‘n voormalige Mnr Suid-Afrika - en toe dit my beurt was, het ek gewonder wat van ‘daai ou’ geword het wat die rubriek, Saterdagaand Tuis, in Die Huisgenoot geskryf het. Elma het gehoor hy is met ‘n jong meisie getroud, woon êrens op ‘n plaas en sy het voorgestel dat ek ‘n storie oor sy nuwe lewe met sy jong vrou skryf. Gedagtig aan Kas van den Bergh se reputasie onder die skoner geslag, het ek “ter beskerming” kollega Ona Lombard (later Viljoen) saamgevra. Ons is na sy plaas Brakfontein, naby Swartruggens, vir die onderhoud maar mnr Van den Bergh was toe nooit getroud nie en ek het ‘n jaar later mev Van den Bergh geword.

Kas en Karin van den Bergh
Ja, oukei, oukei, ek weet julle het my almal gewaarsku, maar dis al julle ouens se eie skuld wat my nie teen sy romantiese maneuvers beskerm het waarteen geen vrou bestand was nie: niemand behalwe Kas het vir my saans ná werk as ons plaas toe ry, in die maanlig armsvol bloeisels uit die lemoenboorde in Rustenburg gesteel nie; niemand het ooit daaraan gedink om die dooie haas in die pad se wolstertjie met ‘n knipmes af te sny vir my as ‘n gelukbringer nie; en niemand het ooit vir my sulke mooi romantiese briewe geskryf nie, soos: ek sit op die plaas en skryf en bokant my sit twee bosduiwe wat met kraalogies na my loer en koer soos sagte donderweer; of, ek slaap onder ‘n lemoenboom en druk my gesig in die sterre en deel my eensame hart met die stilte.

Jacques Bosch
Dalk was troufotograaf Jacques Bosch die enigste wat swart op wit kon bewys dat dinge moontlik souskeefloop: sy kameralens het tydens ons troue ingegee en al ons wit-swart foto’s is net ‘n blur en uit fokus!

Nietemin het ek in April 1971 ‘n plaasvrou op Brakfontein geword. Ons het ons besig gehou met bouwerk aan ‘n groot plaashuis, rubrieke skryf vir plattelandse koerante, baie onthaal en ons het heelwat gereis. Ná vier jaar was ek egter weer Karin Pretorius en Kas het toe steeds maar net Kas van den Bergh gebly. Hy is in 1997 oorlede.

Johan 
Liebenberg
Terug in Johannesburg is ek as kopieskrywer eers by Van Zyl & Robinson aangestel en daarna by KMP van Lukas Potgieter en Hennie Klerck. Skakelbeampte vir Ster Films het gevolg met sosiale funksies, reise landwyd vir
filmkonvensies, oorsese filmsterre ontmoet en onderhoude en publisiteit reël met die pers. Ek het ook bemarking vir sommige van Elmo de Witt se flieks gedoen en was Jamie Uys se skakelbeampte met die uitreiking van Funny People II vir die oorsese mark. Ek het kontak gehad met fliekresensente soos Johan Liebenberg, Jakkie Groenewald, Tienie Fourie, Leon van Nierop en Coenie Slabber wat – kan julle glo – ook in my woonstelblok in Bloubergstrand woon! Wat het van George Boshoff geword?

Jakkie 
Groenewald
Tienie Fourie
Dit was glorieryke dae in die ou Johannesburg en ek kon saans in my kar klim by my woonstel op die heuwel in Berea en vir premières van ons flieks en opgetof na Ster City in die middestad ry, daarna by Sardis by Night dans tot laat – en veilig huis toe ry. En wie onthou nie die Coimbra van Tony Amaril - ek dink onder in Presidentstraat - wat net die lekkerste Mosambiek-garnale kon opdis.

Volgende Woensdag vertel Karin van haar
 avonture  in die Rhodesiese bosoorlog.