Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.4.14

Oudgediendes hou bielie van reünie


PEET SIMONIS skryf: Dit was weer 'n bielie van ‘n reünie – 30 Maart 2014 by die Cattle Baron, Johannesburg.

ʼn Eerste was dat daar vanjaar ‘n spreker was – dr Pieter Mulder, die adjunk-minister van landbou. Hy het nie die Vryheidsfront Plus-hoed opgesit nie – eerder vanuit sy eerstehandse kennis van koerante en die
media gepraat en so ‘n bietjie gekorswil oor sy snaakse ervarings in hedendaagse politiek.

Dr Pieter Mulder, die adjunk-minister van landbou,  saam met Harald Pakendorf
Op ‘n ernstiger noot het hy beskryf hoe die koerante in Suid-Afrika in ‘n stryd om oorlewing gewikkel is teen die internetmedia. Sy raad vir oud-joernaliste was “bly liewer waar julle is as julle nie op die oomblik by ‘n koerant werk nie!”

Iemand anders wat by die lekker kuiertjie was, sal dalk meer oor sy goeie geselsie te sê hê, maar ek dink ek en Esther gaan dié keer vir hom en sy party stem. Ná 20 jaar is ons darem oor die ergste ontnugtering en teleurstelling wat die vorige bedeling vir ons ingehou het.

Ná wat gebeur het met Piet Retief is dit ook nie goed “dat daar alweer ‘n Piet sonder wapens tussen die Zoeloes is nie!” – dié raad van ‘n ander ondersteuner wat groot gelag ontlok het.

Hans Lombard, dr Pieter Mulder en sy vrou, Triena

In die lig van al die behuisingskandale, het die Mulders besluit om maar by die gewone mense te bly en nie ʼn miljoenershuis van die regering te betrek nie. Hy wou ook nie blou ligte op sy kar hê nie, maar om ‘n motor te kry sonder blou ligte het drie maande se stryd afgegee, want dis standaardtoerusting op die voertuie van ministers en adjunkte.

Hans Lombard (88) het dr Mulder en sy vrou, Triena, gepas verwelkom en bedank – ook as ou kennis van dr Connie Mulder, Pieter se pa.

Hans en Peet lag oor die voorstel – Hans se teenvoorstel was dat Peet liewer moet gaan kyk 
of daar nog gorillas in die Kongo oor is as hy weer Bybels soontoe neem.
Daar is lekker gelag, geëet en gekuier. Die enigste somber oomblikke was toe Hans die lang lys afgelees het van Perskorhane wat sedert die vorige byeenkoms die tydelike met die ewige verwissel en ons 'n rukkie stil geword het by nadenke aan hulle.

Party groot name het ook ontbreek, maar weens ongesteldheid of ander dringende sake. Jammer dat ons (oom) Hermie Hendriks dit byvoorbeeld nie kon maak nie. Ek het ook vir Bienkie Wessels, Dot Kruger en Jan Syfert gemis.

As die Here ons nog ‘n jaar spaar en ons weer bymekaar kan kom volgende jaar, moet ons moeite doen om al K’rant se redakteurs en hul vroue daar te hê – ook die joernaalmeester en sub en ander soos Piet Coetzer en Joan (nog Crafford in ons dae) Kruger, Joe Venter en ... en ...

Dr Pieter en prof Somarie (Jooste) Grey.
Dankie vir Dagbreektrust wat die byeenkoms weer geborg het. Oom Marius se dogter (prof Somarie Grey) het die Trust by die ete verteenwoordig.

By ons tafel het Hans se epiese rit van oor die 4 000 kilometer van Wes-Europa na Moskou en terug in ‘n klein Lloyd-mototjie, ter sprake gekom. Daar is ʼn boek (nog in manuskripformaat) oor die rit geskryf, maar dis nooit uitgegee nie. Naspers sou dit destyds uitgee, maar omdat Hans by Perskor gewerk het, sou dit groot probleme op die Tweede Verdieping kon veroorsaak en hy het dit toe gelos.

Piet Ebersöhn, Harald Pakendorf, dr Pieter Mulder, adjunk-minister van landbou, Herman Snyman en Johan van Tonder, die eienaar van die Cattle Baron-restaurant in Little Falls, waar die reünie gehou is.
Hans soek net ʼn nuwe vars hoek op die storie en iemand het voorgestel dat hy (88) en ek (77) die rit weer
aflê voor die volgende reünie en kyk of ons vir mnr Poetin, die Russiese president, dié keer kan ontmoet om hom geluk te wens daarmee dat hy en sy twee voorgangers so baie gedoen het om kommunisme ʼn nekslag toe te dien – iets wat die VSA en die res van die wêreld saam nie kon regkry nie.

In die dae van die Ystergordyn toe Hans met die Lloyd deurgeglip het, was sy oogmerk om by Nkita Chroesjtjof uit te kom en hy het hom “njet” gemis.

Koos Botha gesels houtwerk by die reünie en wys van sy mooi handewerk – juwelekissies van olyfhout. Hy het nog genoeg van die kosbare hout om  as miljoenêr af te tree. 

(Fotograaf Raymond Dicker het ook foto’s belowe en ons plaas dit sodra ons dit ontvang. – Red.)