Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.4.14

Ope Vraag Nr 5: Is dit in openbare belang?

Vandeesweek se vraag is: Is die mediablootstelling wat die Oscar Pistorius-saak kry (wêreldwyd) in die openbare belang of is dit bloot om sirkulasiesyfers op te jaag? Motiveer asseblief.

Verlede week se Ope Vraag was: Het die gehalte van joernalistiek verander sedert die dae toe ek daarby betrokke was?

KARIN PRETORIUS skryf: Ek dink nie die gehalte van joernalistiek het na al die jare verbeter nie. Ek glo ons skryf nou nog in dieselfde styl en neem dieselfde kwaliteit foto’s as toentertyd wat vir ons onderskeie koerante aanvaarbaar was. Natuurlik het die ouderdom net meer insig en wysheid meegebring vir kleurvoller artikels!

Ek glo egter die elektro-tegnologie agter die joernalistiek met al die jongste elektroniese katoeters maak dit net soveel makliker vir joernaliste om gouer en - selfs blitsiger – gehaltejoernalistiek op te tower, met minder energie, moeite en onkoste.

Wat sou ek nie wou gee om gedurende die bosoorlog in Rhodesië van 1978 – 1982 as Perskor se verteenwoordiger, die volgende ‘luukshede’ te gehad het:

• Pleks van ‘n landlyn sou selfs ‘n gewone, bonkige ou selfoon gedoen het.

Edgar Tekere
In Augustus 1980 moes ek in Salisbury oor die hofsaak berig waarin Edgar Tekere, een van die ministers in die Mugabe-regering aangekla is vir die moord op ‘n wit boer. Die Vaderland het ruimte oopgehou vir die storie en spertyd was 13h45. Die hof het om 13h00 verdaag, ek het in die terughardloop kantoor toe die storie in my kop formuleer en dit netso deurgebel Johannesburg toe – daar was nie eers tyd vir tik nie en wat sou ‘n selfoon nie hier beteken het nie.

Met die Zimbabwe-verkiesing in Februarie 1980 het joernaliste verafgeleë guerrilla-versamelpunte in die bos vir monitering besoek. Kommunikasiegeriewe het nie bestaan nie en by Madhlambudzi-kamp naby Bulawayo, het Alan Cowell van Reuters in New York posduiwe gebruik om sy inligting te stuur. Hy het sy stories om hulle pote vasgemaak, hulle het na hul eienaar in Bulawayo gevlieg wat dit by die Bulawayo Chronicle ingedien het vir teleksversending na die VSA.

• Rekenaars! iPads en dies meer!

Wanneer ek dink hoe ek my draagbare tikmasjien al die pad van Salisbury via Johannesburg na Oostenryk karwei het vir PK van der Byl se troue met sy prinses, boete vir oorgewig- bagasie betaal en my bure in die hotel wakker gehou het met sy gekletter. Alles net om ‘n spertyd te haal sodat fotograaf wyle Herman Potgieter die films en die storie saam met hom kon terugvlieg Johannesburg toe, aangesien ek daarna die Lancasterhuis-beraad in Londen bygewoon het – met my swaar en raserige tikmasjien!

• Was daar maar ‘n faksmasjien om die stringe papier-teleksstroke te vervang wat soms al in die gang afgelê het. Die gejaag na ‘n nuuskonferensie om op kantoor die eerste in die tou by die teleksoperateur te wees om sodoende betyds jou spertyd te haal.

• En dan natuurlik ‘n digitale kamera pleks van twee Pentax-kameras – een vir kleur en een vir wit/swart-foto’s, al die lense en films in ‘n swaar sak oor die skouer, moeite en duur ontwikkeling, tyd wat in beslag geneem word, die beslommernis om dit vanuit Rhodesie te versend. Die prosedure was om iemand by die Salisbury-lughawe op ‘n vlug na Johannesburg te gaan teiken wat bereid was om jou rolletjies film saam te neem en te oorhandig aan iemand van die koerant wat homself by die lughawe Jan Smuts sou identifiseer.

Lank lewe die elektroniese media – meer tyd en energie vir die joernalis vir gehalteskrywerk!

PHILIP DEETLEFS skryf: Hoewel ek nou al vir baie jare nie meer in die joernalistoek betrokke is nie, sal ek tog 'n mening waag – sommer net om iewers reaksie te probeer uitlok.

Ek weet amper nie of 'n mens die joernalistiek van die jare sestig en bietjie verder hoegenaamd kan vergelyk met hoe dit vandag bedryf word nie. My eerste gevoel is: nee. Dis appels wat met pere vergelyk word?

Met die koms van Facebook, Whatsapp, Twitter en wie weet wat nog alles het dit amper onmoontlik geword om moreoggend met vars nuus op die voorblad op straat te beland.

Dit maak eintlik dat n dagblad nou soos 'n Sondagkoerant moet begin dink? Die storie is die storie agter die storie want die storie is al klaar op almal se selfone en rekenaars. Die selfoon vertel van die bloed wat spat. Die koerant moet sê hoe die wond lyk. Of so iets?

Ek dink die gehalte van die joernalistiek in die algemeen het baie verbeter en hoofsaaklik oor die vordering in tegnologie en ek dink veral ook dat ons gemeenskap nou meer oop is. Koerante word nie meer deur hul politieke base voorgeskryf oor hoe en en wat mag nie.

Ondersoekende/onthullende joernalistiek het met rasse skrede vooruit gegaan en dit help om die demokrasie darem op sy tone te probeer hou. Vra maar vir die openbare beskermer.