Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.4.14

Die lekkerste werk in my hele lewe

KARIN PRETORIUS skryf: By my terugkeer na Pretoria in Julie 1982, ná my jare in Rhodesië, het ek by Rapport aansoek gedoen om werk, asook om ‘n skakelpos by Tukkies.

‘n Universiteitsvriendin, Bettie Hough wat Adenia Eiendomme by Verwoerdburg besit het, het egter
voorgestel dat ek solank by haar kom werk. Sy het ‘n agent in die Moot van Pretoria gesoek waar staatsamptenare R50 000 vir oulike huise betaal het. Toe ek die eerste maand sien wat my inkomste is in vergelyking met wat ek andersins by die koerant sou verdien, het ek drie jaar lank aangebly wat ‘n goeie besigheidsbelegging vir die toekoms was.

‘n Kollega by Adenia was Anri Botha en toe ek haar man ontmoet, is dit niemand anders nie as oudhoofsub, Johan Botha,wat altyd my teleksvertalings in die nagkantoor op die vloer gegooi en bars beveel het om dit oor te doen! En hy’s toe baie vriendeliker as by die koerant en ons lag lekker oor die “goeie ou dae”. Ek weet nie waar hulle nou in die wêreld is nie en as ek reg onthou het hulle vyf kinders gehad.

In 1985 was daar ‘n vakature by Panorama-tydskrif by die ou Buro vir Inligting en ek is aanbeveel deur ‘n goeie vriend van my, Geo Stroebel wat ek by die Suid-Afrikaanse Sending in Salisbury ontmoet het – ‘n deurwinterde staatsamptenaar van Buitelandse Sake wat intussen oorlede is.


Dit was ook ‘n lekker werk wat my die land vol laat reis het vir artikels – selfs agter Halley se komeet aan in die Namib – maar ‘n groot aanpassing met spertye van sowat drie weke, terwyl ek in Salisbury ten minste vier spertye per dag met die koerante en die radio moes eerbiedig. My eerste redakteur was Piet Muller en hy is ook intussen oorlede. ‘n Kollega was Berna Maree wat nou by ‘n sekuriteitskompleks in die ooste van Pretoria woon en wat baie eensaam agtergelaat is ná haar suster Sonnika se afsterwe. Ek het haar gevra om kontak met K’rant te maak, maar sy beskik nie oor e-pos nie, sy sê sy skryf niks meer nie en lees baie.

Karin se Victoriaanse huis in Groenpunt
In 1988 was daar ‘n wonderlike geleentheid by ons streekkantoor in Kaapstad wat my te beurt geval het: ‘n pos as hoof van die gaste-afdeling wat al die belangrike oorsese gaste van mnr Pik Botha moes ontvang, vir hulle ‘n program uitwerk en onderhoude reël by die parlement en elders na aanleiding van hul onderskeie belangstellings en behoeftes. Naweke het ons as toergidse opgetree met ‘n motor en chauffeur van die staatsgarage nogal, na die wynlande op al die wynroetes – net die beste op ‘n silwerskinkbord en dan het ons ook nog ‘n salaris daarvoor ontvang! Dit was sekerlik die lekkerste werk van my hele lewe en ek het met al die geleenthede die Kaap so goed leer ken. Ek het ‘n dubbelverdieping Victoriaanse huisie in Groenpunt gekoop wat my antieke meubels perfek geakkommodeer het en die lewe was goed en die Kaap baie mooi.

In 1995 het ons almal pakkette begin aanvaar, ek was maar tien jaar in die staatsdiens met nie eintlik ‘n pensioen nie en het steeds ‘n inkomste benodig en gewonder waar en wat op die ouderdom van 50? Ek het eiendomsagent oorweeg maar Groenpunt se ou geboue – behalwe my eie – het my nie aangestaan nie en die mark was nie inspirerend nie.

‘n Vriend van my het my gevra om vir hom ‘n seefrontgastehuis te soek en ek het gedink aan Bloubergstrand waar ek jare gelede was. Wat ‘n verrassing! Die son het saam met die branders oor die wit strande gespoel en daar was ‘n heerlike Afrikaanse atmosfeer, pragtige huise en nuwe woonstelle. Hier sou ek graag eiendom wou verkoop.

Karin as eiendomsagent
Dit het beteken dat ek na Bloubergstrand sou moes trek om na aan my mark te wees wat ek toe gedoen het en ek het met groot hartseer afskeid geneem van my antieke meubels en my huisie onder Vlaeberg. In ruil daarvoor egter, het ek ‘n woonstel op die strand gekoop met ‘n asemrowende uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland waarvoor ek hopelik nooit blasé sal word nie – dit is die paradys self en 'n mens leef baie na aan die natuur en jou Skepper.

Ek het in 1997 by Re/Max Eiendomme in Blouberg aangesluit en ek het twaalf jaar lank voluit en baie hard  gewerk.

In 2009 het ek besluit om tydelik terug te keer huiswaarts na Pretoria waar ma Babs Pretorius, wat die meeste van Janita Claassen se lirieke geskryf het, so pas ‘n nuwe CD uitgereik het met haar gedigte wat sy self voorlees en nou ‘n nuwe motor wil aanskaf om die CD te bemark – op die ouderdom van bykans 92! Ek het onderneem om haar vir ‘n paar jaar op haar oudag by te staan en my woonstel intussen te verhuur.

Ek dink my ma het net gewag dat al drie haar kinders tuis is. Ronel en Kokkie het in 1985 terug-geïmmigreer na Suid-Afrika, terwyl my broer Fransjohan Pretorius nog deurentyd in Pretoria woonagtig is. My ma is drie weke ná my aankoms oorlede. Dit was verskriklik.

Ek het twee jaar in Pretoria aangebly om haar boedel as haar eksekuteur af te handel en nou is ek terug in my woonstelletjie in Bloubergstrand en is ek ‘n afgetredene! Ek is steeds ‘n geregistreerde agent by Re/Max en is nog betrokke by eiendom wanneer ‘n geleentheid opduik.

Karin se uitsig op Tafelbeerg van Bloubergstrand af
Ek lê elke oggend vroeg met koffie in die bed en lees Die Burger van hoek tot kant, selfs die sterfgevalle en al die advertensies met spesiale aanbiedings, en terwyl my vensters wawyd oopgeskuif is, hoor en ruik en sien ek die see van my bed af. Ek is ‘n professionele koffiedrinker en op ‘n mooi dag stap ek na Ons Huisie en drink cappuccino.

Ek het reeds ‘n diploma in die Kaapse Wynakademie-eksamen afgelê en wil dit graag verder voer en sou graag ‘n gekwalifiseerde wynmeester wil word. Om dié rede is ek besig om my Italiaans op te knap om in die Toskaanse wynlande ‘n wynproewer te word - voordat ek te oud is!

Dan hoop ek daar is tennis, want ek volg my held Roger Federer al twaalf jaar lank sedert hy Pete Sampras op Wimbledon in die kwarteindronde verslaan het. Deel van my emmerskoplys was om hom tog net te sien speel voordat hy uittree en ek aftree, daarom was ek verlede jaar November in Londen vir die ATP Grand Finale, spesiaal om hom te sien en dit was asembenewend.