Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.4.14

Moenie ’n skut op die grootte van sy skietding takseer nie

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: In die jare tagtig toe die terreurstryd van plase na stede se kroeë en kerke deurgesypel het, het al wat leef en beef vuurwapens vir selfverdediging gekoop. Aanvanklik het ‘n mens ‘n wye keuse tussen pistole, rewolwers en gewere gehad. Namate terreuraanvalle toegeneem het, het wapenwinkels se voorraad opgedroog en moes ‘n mens vat wat beskikbaar was. Nog later is jou naam op ‘n lys geplaas. En met elke aanval of ontploffing het die lys
langer geword en was die wapenkeuse skraler. Die fabrieksmanne het hulle op magnumrewolwers toegespits. Die res en joernaliste het gemeen as ‘n 9-mm-pistool goed genoeg vir die polisie is, is dit goed genoeg vir ons.

Toe plak ek gemoedsrusonthalwe my naam vir ‘n 9-mm-pistool op ‘n lys. Ek is 32ste. G’n waarborg wanneer ek die skietding sal kry nie. Die winkeleienaar wag vir ‘n besending. Intussen verneem ek by ‘n geregsdienaar watter soort 9-mm-pistool die gemaklikste is om heeldag saam te dra. Hy verduidelik moord en roof se manne gebruik 9-mm-pistole, maar nie almal is daarmee tevrede nie. Een van die kêrels het glo op ‘n keer ‘n gevaarlike rower in ‘n agterplaas vasgekeer, maar moes koes toe die man met twee vuurwapens op hom losbrand.

Die gedugte geregsdienaar het glo só vinnig teruggeskiet dat hy vergeet het om die pistool uit die skede te pluk en homself in die voet geskiet het. Hy is deur ‘n makker gered wat die geweldenaar gekwes en ontwapen het.

In nog ‘n voorval wou ‘n polisieman ‘n pangaman in hegtenis neem wat amok in ‘n smokkelkroeg gemaak het. Die man het met sy kapmes op hom afgestorm en die polisieman het geskiet. Pleks daarvan dat hy dood neerslaan het die kêrel aangehou storm. Die polisieman het uit selfverdediging sy pistool leeg geskiet, maar kon die pangaman nie stuit nie.

Hy het sy leë pistool in die aanvaller se gesig gegooi en weggehardloop. Tydens die nadoodse ondersoek is vasgestel hy het die aanvaller vyf keer raakgeskiet, maar al die koeëls het deur sy lyf geblits. Volgens die polisieman verkies hy ’n Colt 45-pistool met ‘n groter koeël wat met welslae in verskeie oorloë gebruik is.

Piet Coetzer
Ek het my bestelling by die wapenhandelaar verander en na die 40ste plek op sy lys afgeskuif. Die pistool se prys het byna verdubbel as gevolg van ‘n Amerikaanse boikot. Piet Coetzer was in daardie stadium Die Transvaler se Amerikaanse korrespondent en het aangebied om te help. Hy het die Colt sommer met sy rybewys gekoop en aangestuur.

Dis aan ‘n SAL-vlieënier gegee wat dit by die doeanekantoor op Jan Smuts-lughawe ingehandig het. ‘n Paar dae later en ‘n eindelose gesukkel vir ‘n lisensie het ek my Colt 45 gekry en kon ek saam met die fabrieksmanne oor slaankrag spog. Een van die manne het ‘n 38 Special-rewolwer met ‘n lang loop gehad. Volgens hom beteken ‘n kanon niks as ‘n mens nie raak kan skiet nie. Wat dadelik tot ‘n bekgeveg tussen hom en die magnum-manne lei.

‘n Vryskutskrywer wat soms vir Phillippa Breytenbach resensies geskryf het, stem saam en verduidelik hy het ‘n 22-skyfskietpistool. “Waarmee jy ‘n aanvaller net kwaad maak as jy hom raak skiet,” sê een van die magnumbrigade. “Die idee is om hom in sy spore te stuit, Boet.” Die Vryskutskrywer het hom aan die twis onttrek, maar die beterweterige 38-rewolwereienaar het die magnummanne tot ‘n skietkompetisie uitgedaag.

Nege manne aanvaar sy uitdaging en elkeen gooi R20 in as prysgeld vir die beste skut. Ons vergader die volgende dag in Homesteadpark by ‘n mynhoop met ‘n plastieksak vol leë koeldrank- en bierblikkies. Die een wat die meeste blikkies op tien treë met 12 skote raak skiet wen. Ses skote klap, een of twee blikkies val en die skut herlaai. Nog ‘n blikkie of twee val en die volgende skut probeer. Met dieselfde resultaat. Ná die vierde of vyfde probeerslag word die 38-mannetjie aangesê om sy teorie te bewys. Hy skiet stadig en afgemete en die blkkies waai een na die ander.

“Beginners luck,” sê iemand. Hy herlaai en skiet weer. Net een blikkie gemis. Die oorblywende skuts het probeer, maar kon niks uitrig nie.

Die wenner vat sy geld en vra of hy weer kan probeer. Dié keer staan hy 15 treë verder en skiet die meeste blikke raak. Sy standpunt is bewys en ons gee vreedsaam pad. Terug in die fabriek word die vryskutskrywer oor sy 22-pistooltjie geterg en uitgedaag. Hy weier om betrokke te raak, maar is opsigtelik ontsteld oor party van die manne se sarkastiese verwysings na sy fynbesnaardheid.

Later die aand kom sien hy sy proef bo by redaksie na. Hy verduidelik dat hy vir die prys van ‘n pakkie magnumpatrone ‘n paar pakkies 22-patrone kan koop en dus baie meer en goedkoper kan oefen. Met verwysing na die swakker slaankrag, sê hy ‘n mens kan ‘n bees met ‘n 22-pistool doodskiet as jy goed genoeg kan skiet. ‘n Paar dae later kuier ons saam op ‘n skietbaan in Roodepoort en hy bewys dat hy ‘n knap skut is. Hy tref presies waarna hy mik omdat sy pistool nie soos ‘n kragtige magnum-rewolwer met elke skoot op en af ruk nie.