Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.4.14

Die Ope Vraag nr 3: Wat is jou mening van K'rant?

PHILIP DEETLEFS skryf: Hierdie hoofstuk van die Ope Vraag se vraag is sommer gemik op navorsing en om die koorspen bietjie in eie boesem te steek om te sien hoe gesond sake by K'rant werklik is. Ons sal julle diagnose erg waardeer en die leiding ter harte neem.

Vandag se vraag is: Wat is jou mening van K'rant? Wat sou jy in K'rant verander, sê hoe en waarmee, maw wat sou jy nog graag in K'rant wou sien?

Na aanleiding van die vorige vraag oor wat jy moes doen om die inligting vir ʼn storie te kry, het Rika van Graan hierdie heerlike antwoord aangestuur:

Rika kul Dougie

Rika van Graan
Rika skryf: Nou dat jy praat van hoe 'n mens soms ‘n storie moes uitkry, laat dit my terugdink aan ‘n laat Donderdagmiddag toe Willie Buys, nuusredakteur by Die Transvaler in Auklandpark, by my lesenaar kom staan het.

Hy het gehoor dat Douglas Jones en ʼn fotograaf van Die Vaderland teen ʼn hoë spoed by die vervoerkantoor ʼn voertuig gekry het en na Wakkerstroom in die Oos-Transvaal moes jaag.

Douglas Jones
Willie het nie geweet waaroor die haas gaan nie. Maar Dougie was hoofverslaggewer en daarom kon dit net ʼn groot storie wees.

Wel, die bal was nou in my baan. Ek moes eers vasstel waaroor die storie gaan. By Perskor was dit nie moontlik nie, want Dougie het nie gepraat nie en die motor was net na Wakkerstroom uitgeteken.

Ek het die plaaslike telefoonsentrale gebel, maar hulle het niks geweet nie. Ook nie die polisie nie.

Wat nou gedoen? Ek moet die storie kry!

Wakkerstroom-hotel
As plattelandse kind weet ek elke klein dorpie het ʼn hotel. Ek bel toe hotel toe om te hoor of mnr Jones dalk daar is. Positief!

Nou werk my brein in die hoogste rat. Maar selfs die ontvangsdame weet ook nie wat die koerantmanne daar kom doen nie.

Al uitweg waaraan ek kon dink was: Ek moet die hotel bel en vra om met mnr Jones te praat.

Toe hy hoor ʼn vroumens soek hom op die telefoon was Dougie gou beskikbaar!

Ek het ʼn fiktiewe naam aan hom genoem en gesê ek sou graag hom wil ontmoet aangesien ek in die joernalistiek belangstel. Hy het gesê ek is enige tyd welkom om hom later in die aand by die hotel te kom sien. Die telefoonverbinding is skielik verbreek en ek bel toe weer.

Ons het verder gepraat en tussenin vra ek hom uit oor wat hulle in Wakkerstroom kom doen het.

Min wetend vertel hy my dat hulle gekom het om ‘n storie oor olie uit ʼn boorgat in ʼn sekere straat te doen.

Só het ek ook die straatadres en inwoners op die perseel se inligting in die hande gekry. Die telefoonverbinding is weer onderbreek en ek het nie weer teruggebel nie!

Deur die telefoonsentrale het ek by die mense uitgekom en die inligting by hulle uitgetap.

Toe DT agtuur sak was die storie op bladsy een. Die Vaderland het die volgende dag met ʼn vaal beriggie op bladsy drie verskyn.

Verdere ondersoek het vasgestel dat die petroltenks by ʼn nabygeleë vulstasie gelek het en só die onderaardse water besoedel het!

Al die jare het ek nooit weer oor die storie gepraat nie en ek glo nie dat ek dit vir Willie vertel het nie!