Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.4.14

Opgewonde suster verklap toe scoop

RIKA VAN GRAAN skryf: Vroegaand bel ‘n Oos-Randse ambulansman. ‘n Jong spoorwegpolisieman het homself in die kop geskiet omdat sy meisie hom afgesê het. Hy is op masjiene in die hospitaal. Ek het sy naam by hulle gekry en die storie begin opvolg.

By sy spoorweghostel het ek van sy vriende opgespoor en die agtergrond van die gebeure gekry. Toe bel ek die hospitaal en die saal
waar hy kunsmatig aan die lewe gehou word.

Die suster aan diens was so opgewonde oor moontlike orgaanoorplantings dat sy my nie gevra het wie ek is nie. Sy het sommer die telefoon vir die dokter aan diens gegee om met my te praat.

Ek vertel hom toe dat die outjie se ouers in die Oos-Kaap bly. Die dokter vra toe of ek dink die ouers sal
toestem dat van sy organe oorgeplant word.

Toe weet ek ek het 'n goeie storie beet! Met al die agtergrond wat ek bymekaar gemaak het, bel ek sy ouers. Nadat sy pa my uitgevra het oor wat alles gebeur het en ek hom vertel het wat ek weet, vra ek hom hoe hy oor orgaanskenking voel. Hy sê as sy seun vir iemand anders 'n nuwe lewe kan gee, sal hy teken.

Hy sê toe dat hy die volgende oggend by die hospitaal die betrokke dokter sou spreek en dan kan prosedures aan die gang kom.

Toe ek die volgende middag met die dokter praat, was die organe reeds vir oorplantings verwyder!

(Ek kan nie so mooi onthou wie saam met my nagdiens gewerk het nie, maar die outjie het vir ons ‘n foto van die konstabel by sy hostel gaan haal!)

Die volgende oggend het DT met die scoop verskyn.