Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.3.13

Varkie hol na slaghuis

TOBIE VAN DEN BERGH, redakteur van Middelburg Observer, skryf in sy boek “Hang die Redakteur, Maar God is Liefte”:  Raar maar waar. Dit kan klink na Gert Grootlieg se stories, maar dis alles die waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid.

Partykeer kan "die ou duiwel" die skuld kry en soms is die drukkersduiwel skuldig.

Dit is die voorreg van joernalis te wees: om die lewe van bo, onder en soms onderstebo te beleef.

• Waarom sal die troetelvarkie van ‘n Belfast-egpaar wat uit die kar gespring het, nou juis by ‘n slaghuis van alle plekke inhardloop? Bacon, soos hy gou by die kantoor gedoop is, is ná 'n berig in die koerant met sy eienaars herenig.

• Behalwe die varkie moet gemeenskapsjoernaliste gereeld opsporingsagent speel. Van voëls tot perde, mense, ringe, tande moes al opgespoor word en een keer was daar selfs ‘n man wat sy suster se trourok verloor het!

• Daar word nie net na tande gesoek nie, maar na die eienaars van tande: "Toe mnr M Potgieter Vrydag by sy Isuzu-bakkie kom, nadat hy by Volkskasbank was, vind hy 'n stel botande agterop. Dit het op 'n plastieksakkie gelê, met die sneesdoekie waarmee dit moontlik verwyder is daarby. Dit dui daarop dat die tande aan 'n vrou behoort. Gedagtig aan die hoë prys van valstande het mnr Potgieter besluit om dit na die Middelburg Observer se kantoor te bring.”

• Hoe verduidelik jy aan jou suster jy het haar trourok verloor? "Mnr TG Niewoudt van Pretoria het Sondag in Jan van Riebeeckstraat 'n u-draai gemaak. Dit is toe dat die tas met sy suster se trourok daarin, van sy Ford Cortina-bakkie geval het. "

• Maar daar was ook die vrou wat opgedaag het "omdat haar man gesteel is". Nadat sy getroos is, het sy vertel haar eggenoot se oorskot, nadat hy veras is, was in 'n kissie wat tydens 'n inbraak gesteel is. Hy is steeds weg.

• Wanneer groot mans in die kantoor sit en huil oor 'n hondjie, wat “soos 'n kind in die huis is" en wat weggeraak het, kan 'n mens maar net die kop skud. Maar daar is meer as koppe geskud toe ‘n jong man kom vra het "dat daar gehelp soek word na sy pa se longe". Dit is weggestuur vir mediese ontleding, nadat hy aan 'n mynsiekte oorlede is en dié longe het weggeraak.

• As daar een ding is wat 'n joernalis met sy lewe sal beskerm, is dit sy kamera en sy kamerasak – al is dit om 'n jagluiperd te konfronteer. Elsabé Hodgkinson het Des Varaday se jagluiperdtoevlugsoord besoek en was besig om op die elegante dier voor haar te fokus, toe jagluiperd se kind haar kamerasak gryp en die bosse in hardloop. Sy was nie links nie en het saam met Varaday die jagluiperd agterna gesit, totdat hy die sak gelos het. By die kantoor het sy trots met die bytmerke aan die kamerasak gespog.

• Lynn Siebert het nie ‘n kamerasak gehad om mee te spog nie - dit het voor haar oë weggesmelt. 'n Landmeter het met sy trok naby Ogies gestop om opmetings te doen. Die volgende oomblik het die wiele begin brand en die trok het weggesak. Die landmeter kon vlug voordat die brandstoftenk ontplof het. Lynn het nuuskierig in die grond gekrap toe haar kamerasak afglip en op die rooierige brandgrond val – die sak het voor ons oë begin brand. Dieselfde brandende myngrond het later naby Witbank 'n vragmotor ingesluk.

• Niemand wou hom glo nie. Die tuinwerker met die splinternuwe gholfstel is aangekeer op aanklag van "besit van vermoedelik gesteelde eiendom" nadat hy die peperduur stel wou verpand. Hy het volgehou die gholfsak is op die dorp se stortingsterrein opgetel. Ná sy eerste hofverskyning is ‘n berig in die koerant oor die "gesteelde gholfstel" geplaas. Noel, die pa van Comrades-legende Bruce Fordyce, het na vore gekom en erken dit was sy stel. Ná die soveelste rusie oor sy gholfspelery het hy die sak op die munisipale stortingsterrein gaan weggooi. Die tuinwerker is vrygelaat en het die gholfstel sommer dáár, by die hof, aan 'n prokureur, Leon van den Berg, verkoop.

• Fietsryers sal in die toekoms twee keer dink voordat hulle roekeloos ry as hulle hoor wat het met Johannes Mastmula (34) gebeur. Hy het op 11 Januarie 1992 met sy fiets teen’n ander fietsryer (Moses Masillula) vasgejaag – dié het in die ongeluk gesterf. Johannes het skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag, en is beboet met R1 000 of ses maande tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

• Wanneer ‘n vrou benoud na die ambulansdiens se beheerkamer bel vir hulp "omdat haar water gebreek het en die water borrel al uit", dink geen ambulansman twee keer nie. Willem Boshoff het sommer twee ambulansmanne gestuur om Milde Riekert se kraamgeval te hanteer. Ebert Breedt en Gert Booyens het na Eikestraat 43 gejaag, waar hulle met mediese tasse by die huis ingestorm het om die baba te vang! Dit het toe eers duidelik geword dat die kraam 'n kraan was wat gebreek het.

• Wat is in 'n naam? Mense het gekla omdat die woonstel se opsigter nie hulle troeteldiere wou toelaat nie. En die opsigter se naam? Worsie.

Josia Thugwane
• Josia Thugwane het kort nadat hy die Olimpiese marathon gewen het ‘n huis in Middelburg gekoop en een van die eerste swart huiseienaars op die dorp geword. En die straat waar hy ingetrek het? Blackmore!

• Die straat waar Middelburg se tronk is? Hoopstraat!

• 'n Muntversameling is by 'n onderwyseres van Hoër Tegnies Middelburg gesteel. Haar naam? Tiekie!

• Waarom is dit dat die advertensie van Safari Ammunisie met ‘n vuurwapen daarby telkens op die voorblad beland wanneer daar 'n rooftog of moord op die dorp was?

• En toe 'n brandslagoffer lewensgroot op die voorblad is, is dit 'n advertensie vir sonbrandmiddels! Drukkersduiwel se werk?

• 'n Mens kan mos so 'n klein bietjie stout wees in ‘n koerant? Die statige Petra Taylor het uitgevaar omdat die woordjie "tannie" in die koerant gebruik is. En die redakteur se antwoord: "Jammer, Tannie!" (Petra het darem ‘n goeie humorsin gehad. Sy het saam gelag.)

• Sonder die foto om dit te bewys, sou niemand glo dat 'n kar kan vlieg nie! Jack Jordaan het 'n middelmannetjie getref wat sy motor soos 'n vliegtuig tydens opstyging hoër en hoër die lug in laat skiet het tot op 'n huis se dak waar dit daklangs gery en uiteindelik teen 'n muur tot stilstand gekom het. Jack het ongedeerd uit die stukke metaal geklim.

• In 1994 was mev Isabella Nel in 'n motorongeluk betrokke. Op die toneel het paramedici gesê dat sy net lig beseer is. Nadat die foto, waar twee ambulansmanne haar uit die kar tel, ontwikkel is, was daar 'n spierwit lig om haar voete. Sy was waarskynlik toe reeds sterwend en is later by die hospitaal dood verklaar.

Verklaar dit?

• Eksemplare van Hang die Redakteur kan teen slegs R99,99 stuk van marianav@lantic.net of 072/220-0568 bestel word.