Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.3.13

Minister se steelfoto skaaf Piet se senuwees

PIET ROOS skryf: Ja die dae van steelfoto's was opwindend. By die pers had die fotograwe Leica's gehad wat seepglad en baie sag foto's kon neem.

Die standaard-prosedure was om die kamera aan sy band om jou nek te dra en dit vooraf in te stel om so vier voet ver in fokus te wees en dit oor te haal. Wanneer 'n persoon weier dat jy foto's neem, het jy gesê,
nee, dis goed so, en dan het jy so 'n rokershoesie gehoes en die kamera se afneemknoppie afgedruk.

Gewapen met hierdie tegnologie is ek Pretoria toe.

Oud-minister
Chris Heunis
Die Rand Daily Mail het op sy voorblad 'n hoofberig geplaas. Minister Chris Heunis sê hy dink die petrolprys kan nog styg, want alles styg. Dit kan later dalk weer afkom, want alles kom mos maar soms af ook!

Die probleem was nie die minister se Afrikaanse woorde wat die Engelse verslaggewer geskryf het nie. Dit eintlike probleem was dat die verslaggewer 'n opvolg moes doen oor wat die minister dink. Hy het toe na die nommer van Chris Heunis in die Pretoriase telefoongids gaan soek

En hy kry Chris Heunis.

Dié Chris Heunis het 'n “skrêpjaart”, 'n skrootwerf, in Pretoria-Wes gehad. Hy was nie eintlik die regte minister nie, en die verslaggewer het nooit gevra of hy die minister was nie. Die verslaggewer was skrikkerig vir die minister en het net sy mening gevra. En Chris het dit gegee!

Toe die Rand Daily Mail die nuustafel tref, was ons stom geslaan. Politieke manne het begin skakel en die regte minister het van geen sout of water geweet nie. Deur die dag kom die nuustafel agter met wie die Mail gepraat het en ek is Pretoria toe.

Ek stap in die skrootwerf se kantoor in met my Canon FT gelaai met TriX swart-en-wit film, kamera klaar gestel vir foto en oorgehaal. Agter die toonbank sit mnr Chris Heunis.

"As jy 'n foto van my neem, vat ek daardie kamera en ek breek hom in klein stukkies en jy gaan dit opvreet!" sê hy toe hy sien my hand weifel en bewe na die kamera se kant.

Hy is 'n man wat met “skrêp” werk, ysters, geroeste ysters, gebreekte ysters. Jy sukkel nie met hom nie.
"Los daai kamera!"

En ek raak nie aan die kamera nie.

Eintlik was hy 'n baie gawe man. Hy was nogal in sy skik daarmee dat die koerant van Johanneburg hom bel en vra wat hy van die petrolprys dink en hulle het lekker gesels. Die koerante bel mos soms mense en vra hul mening.

Klaar gepraat, groet ek en ek loop, sonder foto.

Ek was mos uitgestuur en het gaan middagete eet. Later ry ek terug na sy skrootwerf en sit in die kar. Ek het nie 'n storie nie, ek het nie die foto nie en die pad terug Johannesburg toe, was skielik baie lank.

Terwyl ek so sit, sien ek hom oor die pad aangestap kom. Ek gryp my Canon en ek skiet en skiet en skiet …

Joey du Preez het in die donkerkamer die vergroter opgedraai en die foto gedruk. Dit was bietjie greinerig, maar ons was die enigste koerant wat 'n foto gehad het.