Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.3.13

Japie bene in die lug

Willie Buys skryf: Geduld, ingeval. Dit is wat ons vra.

Ons versoek het te make met ons webjoernaal-"mechanic", Japie Bosch, wat die hospitaal gaan opsoek vir noodsaaklike instandhoudingswerk aan sy uittredende lyf. (Sorrie, Japie, maar ons weet dat jy weer soos ‘n jongeling gaan huppel as jy daar uitkom!)

Ek skryf hierdie berig nie uit leedvermaak nie, maar om julle ‘n smakie te laat kry van die geesdrif wat agter die skerms borrel en bruis onder die span wat K’rant-leesstof aan julle verskaf. Japie het ons lankal (uiters bekommerd!) in kennis gestel van sy rugoperasie dié week. Dit bring mee dat hy vir ‘n paar weke feitlik immobiel sal wees en nie sy gewone werk as webmeester sal kan lewer nie.

Japie hengel egter nie vir simpatie nie, hy het dadelik aan die werk gespring. K’rant het gelukkig heelwat stories in die “bank". Hy het ‘n rits daarvan voorberei vir outomatiese plasing tot 3 April, so jou K’rant gaan nie stagneer nie. Daar sal steeds elke dag nuwe berigte met foto’s en illustrasies wees. Japie is egter bekommerd dat hy daarna vir ‘n rukkie nog nie fluks nie genoeg sal wees om berigte op te “dollie” nie.

Ons minder rekenaar-bedrewe redaksionele bestuurslede sal egter inspring en help sover ons beperkte kennis strek. Dit is egter ook ‘n geleentheid vir julle almal om te help dat Japie se siel saam met sy liggaam rus – K’rant is mos ‘n medium VIR oudPerskoriane DEUR oudPerskoriane.

Alle berigte wat ingestuur of van julle verkry word, moet verkieslik en asseblief van tersaaklike foto’s en illustrasies vergesel word. Moet egter nie in diepe, apatiese skok verval nie, stuur jul wetenswaardighede steeds onverpoosd aan!