Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.3.13

Ek het jou telefoonnommer – jy sal nie weer slaap niee!’

PIET EBERSÖHN skryf: SKRYF! sê Willie Buys, toe ek my mond verby praat. Maar dit het niks met die koerant uit te waai nie, protesteer ek. Skryf! sê Willie, as dit nie vir jou koerantervaring was nie, sou dit nie op jou pad gekom het nie. Vervlakste koerant! dink ek. Het jy dít ook aan my gedoen? Toe skryf ek maar.

Dit het alles begin toe Andries Botha geskryf het hy was nooit bang in Soweto nie. Toe sê iemand dis oor hy niemand te na gekom het nie.

Met my los tong merk ek toe op dat dit my ongelukkig nie beskore was in die vier jaar dat ek straatsokker in die “townships” help reël het nie. Daarvoor was daar te veel “protests” wat ek moes help bereg.

Dis toe dat Willie die opdrag gee.

Ja, toe ek in 1997 die tweede keer by Perskor weg is, het ek vir ‘n promosiemaatskappy gaan werk – en allerhande vreemde dinge, soos die straatsokker, aangedurf.

Ek sal maar eerlik wees: daar was dae dat ek daardie bekende moedskep-liedjie uit die musiekblyspel The King and I hardop in my motor onderweg deur die “townships” gesing het:

Whenever I feel afraid
I hold my head erect
And whistle a happy tune
So no one will suspect
I'm afraid.

In Odendaalsrus het die gemoedere hoog geloop in die streekeindstryd en toe die plaaslike span verloor, is die veld in ’n ommesientjie in ’n bloedbad omskep. Dit het gelyk of daar nie ’n enkele speler of toeskouer was wat nie saam baklei het nie!

“Piet, we must get away from here,” het die borg se Vrystaatse bemarkingsbestuurder gesê … en ek het allermins op my laat wag.

In Mthata het ’n span wat gemeen het hulle is verontreg die veld beset waarop die streekeindstryd gespeel moes word. Die plaaslike toernooibestuurder het soos mis voor die son verdwyn en ek moes, midde-in ‘n poging om ’n matriekreünie van my vrou by te woon, die moles oor ’n selfoon probeer ontlont.

In Soweto is ‘n TV-kameraman goedsmoeds platgeslaan. Ek weet vandag nog nie hoekom nie.

Dan knyp ’n mens maar as ’n filmspan van die Duitse staats-TV, ARD, onverwags by ’n wedstryddag by die Taliban Lounge in Ga-Rankuwa opdaag omdat hulle juis gedink het dit sal ’n gawe aanslag wees as daar oproer by ’n “tavern” met dié naam uitbreek. En jy’s bitterdankbaar as die dag vreedsaam verloop.

“Ek is bly ek het nou jou telefoonnommer Jy sal nie sommer weer slaap nie,” is ek ’n slag meegedeel. Dan wonder mense hoekom my selfoon meesal afgeskakel is.

Regshulp moes by verskeie geleenthede ingeroep word om ’n “protest” te besleg – en daar was in ’n maand meer “protests” as wat ek in ’n hele paar seisoene tesame in rugby-administrasie beleef het.

Met ’n toer van twee of drie wedstryde in Suid-Amerika (Brasilië of Argentinië) as prys vir die kampioen is dit seker te verstane dat die mededinging tot die uiterste gevoer is.

Sokkerspelers jonger as 25 jaar, of wat in SAFA se Vodacomliga en hoër meegeding het, mag nie vir die straatsokkerspanne gespeel het nie. En dit was waar die knoop gewoonlik gelê het. Dan kan jy ook nie altyd peil trek op wat die plaaslike SAFA-man sê nie oor die registrasie al dan nie van ’n speler. Of selfs seker wees of hy die regte man is om daaroor mee te praat nie.

Dan moet ek byvoeg dat ek in my hele lewe nooit so dankbaar was vir die reël dat die skeidsregter die enigste beoordelaar van die spel op die veld is nie. Daarsonder sou ons seker elke wedstryd moes oorspeel.

In een geval het ’n span wat 10 – 0 verloor het, daarop aangedring het dat hulle die ligapunte moet kry omdat een van die teenstanders nie ’n nommer op sy rug had nie!

Dit is nie net die “protests” wat my grys hare besorg het nie.

Die reeks is op tot 25 plekke oor ’n naweek beslis. Speelplekke het gestrek van die Tshikondeni-steenkoolmyn kort duskant die Limpopo (Noord) af, tot by Lwandla by Somerset-Wes (Suid), en van Pudimoe noord van Kimberley (Wes) tot by eSikhawini naby Richardsbaai (Oos).

(Sommer so terloops: Ons het byna ’n hele seisoen op “Block Ambush” in QwaQwa – ja, die plaaslike bevolking verwys steeds só na daardie gewese tuisland – gespeel, voor ek eendag daar verby ry en sien dis eintlik “Bluegum Bush”.)

Die reeks is in die straat voor “taverns” beslis. Die borg het alles verskaf: van die toerusting, insluitende draagbare doelpale, die truie, broeke en kouse, selfs ’n plaaslike toernooibestuurder, tot by taxigeld en kos.

Laasgenoemde twee het my eindelose hoofbrekens besorg. Verskaffers het hierin ’n goudmyn gesien en om ’n beperkte begroting in sulke omstandighede te bestuur, verg hare op die tande. Selfs nie voorstel-spyskaarte in die reëlboek of ’n vasgestelde tariefraamwerk kon my van ’n eindeloos tydrowende en hoogs uitputtende gekibbel vrywaar nie.

Voorts was daar die gebreekte huis- en motorruite wat vervang en betaal moes word. Met die eindstryde het ons sommer ’n glasverskaffer op bystand gehou!

Van eindstryde gepraat. Hier het die hele onderneming darem ingespring en gehelp, want om 18 spanne van oor die hele land op een plek bymekaar te kry en drie dae lank logistiek te ondersteun sit nie in een man se broek nie.

Dit het vir die een nagmerrie op die ander gesorg. Soos om ’n gebeurtenisplan deur ’n stadsraad goedgekeur te kry. Ingenieursertifikate vir paviljoene en tente. Tydelike kraginstallasies en noodkragopwekkers.

Watervoorsiening. Nakoming van gesondheidsvereistes. Sekuriteit en polisiesamewerking. Ambulans- en noodhulpdienste. Verkeersreëlings. Rampbeplanning.

En dan werk al die ratte nie altyd so lekker saam nie. In een geval het ons die skriftelike goedkeuring om die toernooi aan te bied die Dinsdag na afhandeling van die naweek se verrigtinge ontvang!

Een jaar het die weermag goedgunstiglik die kragopwekker verskaf – en ons moes inderhaas ’n ander een gaan huur toe hulle dit hoegenaamd nie aan die loop kon kry nie.

Op ’n positiewer trant was 1Time my gunsteling-lugdiens nadat hulle eendag ’n vlug met bykans ’n uur vertraag het omdat die SABC TV besluit het hulle gaan die eindstryd regstreeks uitsaai mits dit effens later gespeel word. Daar was darem oor ‘n honderd toernooi-mense op daardie vliegtuig en gelukkig was dit in Umlazi en die Durbanse lughawe nog op sy ou plek.

Ek is vas oortuig ek was vier jaar lank die hardwerkendste sokkeradministrateur in die land! En dalk was al die “interessante” ervarings met die administrasie ook maar goed, want op die veld is sokker los hande die verveligste spel denkbaar – al lyk dit my rugby werk hard daaraan om dit in te haal.