Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.3.13

Verlepte kranse – ’n wandeling deur my kerkhof

THIJS NEL skryf: My moeder het altyd gesê ons sê nie genoeg dankie nie en dus wil ek hiermee ook darem ‘n paar keer dankie sê aan al die mense in die joernalistiek wat my met soveel deernis bygestaan en gehelp het. Dit was veral oom Hermie Hendriks wat vir my ‘n vader was, hoewel hy dit nie geweet het nie en my so ongelooflik help slyp het. En Frans du Toit, Tom Buys, oom At de Beer met wie ek die geleentheid gehad het om ‘n week voor hy dood is, per telefoon met hom te kon praat en dankie kon sê dat hy altyd in die bresse getree het vir ‘Sonnyboy’ soos hy my genoem het, ook oom Sarel van der Walt, Kitty Vermaak, Joan Kruger en Paul Kruger – almal mense wat my lewe geweldig verryk het! 

Ek dink ook met weemoed en dankbaarheid aan die swart chauffeurs wat my soms om middernag en in die vroeë oggendure, nadat ek my resensie op kantoor afgehandel het, heen en weer bestuur het...sonder enige klagtes of gemor. Ek kan party gesigte nog onthou, want dit was altyd vriendelik en durf ‘n mens dit maar vandag erken: liefde in die ware sin van die WOORD. Miskien sal my dankie ook aan hulle iewers oorgedra word? Hulle was die ‘onbesonge’ helde wat ons almal onderskraag het, veral wanneer daar moeilike spertye in die gedrang was.

Deesdae lees ek nie meer veel fiksie nie, selfs nie eens meer koerante nie want soos die Franse sê: plus ça change, c’est la même chose – hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Alles word net ‘n herhaling: dieselfde toneelstuk, ander mense wat die rolle vertolk maar die dialoog en dekor verander nie juis nie.

Thijs Nel as jongman
Ek was 23 jaar oud toe ek aangestel is as kunsredakteur by Die Vaderland. Ek was toentertyd in my finale jaar as kunsstudent op Wits. Ek kan nie meer onthou hoe ek by die aanstelling uitgekom het nie, behalwe dat Aletta (Greyling) Pakendorf saam met Harold verplaas is na Perskor se kantoor in Londen of dalk was dit elders?

Ek had probleme met studiefondse (wou nie met ‘n beurs van die onderwysdepartement studeer om sodoende vasgevang te raak in die pedagogie nie) en my pa het probleme van sy eie gehad, ens. Dus was die aanstelling by Die Vaderland ‘n genadegawe.

Niemand sal ooit besef hoeveel angs en spanning daardie aanstelling my besorg het nie. Hoewel ek wel vir ‘n jaar voor ek universiteit toe is by Die Vaderland gewerk het (onder andere was Chris Barnard, Abraham de Vries en Aletta Greyling destyds om die beurt kunsredakteur en het ek gehelp met artikels vertaal uit Engels en veral Duits en het ek gaandeweg besef dat indien ek wel iets met my lewe as joernalis wou aanvang, ek doodeenvoudig universiteit toe moes gaan. Dit was moeilik. Teen daardie tyd was ek reeds deur my basiese militêre opleiding en het ek al twee jaar lank gewerk, eers by die Departement van Arbeid en toe by Die Vaderland. Ek kon nie beurse of lenings kry nie. My pa was nie bereid om my te help tensy ek teologie studeer nie – maar dis nie ter sake nie.

Om kunsredakteur van ‘n Afrikaanse koerant in daardie dae te wees, was nie maklik nie. Daar was ‘n algemene oordeel van ’’niemand stel belang in kuns en kultuur nie” – eerder sport en politiek en dit het natuurlik in die jare sestig hoogty gevier. Dit is vandag nog so dat slegs 2½ -3 % van mense per kapita, wêreldwyd, in kuns en kultuur belang stel. Dan moet ‘n mens ook in ag neem dat hierdie persentasie onder al die verskillende dissiplines verdeel moet word: van pop tot tot klassiek of soos my ouma dit sou gestel het, “van k@k tot wildeals.”

Dr Jan Schutte (die SAUK se destydse adjunk-direkteur-generaal) vra op ‘n persverklaringsete by die korporasie in Sauerstraat (die bekendsttelling van die simfonieseisoen): “Hoe gaan dit met jou by die koerant?”

Rykie van Reenen
Ek antwoord: “Ek vind dit maar moeilik. Daar moet tog mense wees wat meer bekwaam is vir die werk as ek.” En hy antwoord: “Ja, maar waar is hulle, mnr Nel?” Daarna het hy my getroos en gesê almal wat saak maak (min van hulle wat wel belangstel?), was tevrede met my werk. En ‘n tyd later het Rykie van Reenen my by ‘n ete op die skouer geklop en gesê: ‘Doe so voort!’

Hermie Hendriks
Toe ek “oorgeneem” het, had die kunsblad nie juis enige vorm nie. Berigte het maar soos dit gekom het alles deurmekaar op bladsy twee verskyn. Daar was wel ‘n weeklikse boekeblad en ook bydraes van elders deur mense wat nie juis geïnspireer was nie – en omdat ‘n nuwe besem gewoon moes skoon vee, het ek besluit om veranderinge te maak. In die dié opsig het oom Hermie Hendriks (ek dink hy was toe nuusredakteur) my met raad en daad bygestaan. Ou hout is summier weggesny (natuurlik het dit my nie juis gewild gemaak nie) en ek het daarop aangedring om elke dag van die week ‘n spesifieke “rubriek” te plaas. Die boekeblad het op Vrydag gebly. Saterdag was hoofsaaklik bioskoop: rolprente en stories oor en om die bedryf. Maandag was dit musiek, konserte, onderhoude met musici, dirigente en aanverwante aangeleenthede. Dinsdag was kuns: galerye, resensies en artikels oor kunstenaars en Woensdag was dit teater. Ek kan nie meer onthou wat Donderdae aan die beurt gekom het nie (was dit dalk kerknuus?) – dit was trouens al meer as 50 jaar gelede!

Daar was altyd ‘n gestoei vir meer ruimte, want die Kunsblad was die stiefkind. Ek moes ewig bedel vir ruimte op ander blaaie vir ’n resensie wat noodwendig nie kon oorstaan nie en gewoonlik was daar nooit genoeg ruimte op pagina 2 nie. Tot daar uiteindelik deur marknavorsing vasgestel is dat bykans 90 persent van die lesers dadelik na bladsy 2 blaai om vas te stel wat se vermaak (nuwe rolprente, teater en konserte) daar vir die week in die vooruitsig was. Dit was toe dat die base besluit het om twee paginas aan kuns en vermaak af te staan. Dit was egter té laat vir my, ek het toe reeds bedank om in Parys verder te gaan studeer en was dit dus my opvolger, Johan Liebenberg wat die vrugte van my volgehoue gekrakeel oor meer ruimte gepluk het.

Ek onthou en besef ná al die jare, dat my jare by Die Vaderland ongelooflike verryking ingeploeg het in die sin dat ek kunstenaars, sangers, musici, dirigente en skrywers van formaat leer ken het en met wie ek onderhoude gevoer het – alles om die klein vlammetjie van skeppingdrif in my al hoër te laat vlam. Tolgeld was daar natuurlik ook: die verkope van my eie skilderye het my in staat gestel om te alle tye netjies gekleed te kon wees, iets wat gans onmoontlik was op ‘n Perskorsalaris. Ek het op ‘n keer vir een van die base gesê my trots laat nie toe dat ek soos ‘n ghwar lyk wanneer ek die koerant verteenwoordig nie.

En probleme was daar ook. ‘n Stoeiery met die subs wat nie altyd die kennis of sensitiwiteit had om “kunsdinge” na waarde te skat en met die nodige aanslag of respek te hanteer nie. Op ‘n keer skryf ek ‘n resensie oor ‘n gala-aand met Anna Russell en allerlei ander “belangrike”oorsese kunstenaars in ‘n program in die Johannesburgse Stadskouburg. Bill Prins van radiofaam, het as compère geageer. In my resensie berig ek: ”Bill Prins se humor het ongelukkig nie gevonkel soos sjampanje nie, maar geborrel soos ‘n rioolpyp” En die sub kap dit toe af na: “Bill Prins het geborrel soos ‘n rioolpyp.” Geen verduideliking aan enigiemand kon my verleentheid hieroor versag nie.

Des Cilliers
Uiteindelik het Des Cilliers by Die Vaderland aangesluit en het hy die kunsblad se permanente sub geword. Dit het my van allerlei traumas gered.

Daar was ook probleme wanneer ek noodwendig striemend was oor veral plaaslik vervaardigde rolprente. Binne ‘n halfuur nadat die koerant op straat verskyn het met ‘n strawwe resensie oor “Die Vervlakste Tweeling” (dit was Jana Cilliers se debuut, nog as hoërskooldogter destyds) lui my telefoon.

Janette Snyman: “Mnr Nel, mnr Van Schoor wil u onmiddellik sien en ek moet jou waarsku, daar is groot moeilikheid”.

Ek draf af in die gang en mnr Van Schoor wys vir my om te sit.

“Mnr Nel, ek had al drie telefoonoproepe van kabinetslede wat geld belê het in “Die Vervlakste Tweeling” en u resensie het almal woedend. Kan u nie maar nog ‘n resensie skryf en dit aanprys nie?”

Ek was op my perdjie: “Meneer, as ek dit moet doen, sal dit die indruk wek dat u geen vertroue het in my oordeel en werkvermoë nie. In die paar jaar wat ek hier werk, het ek wel geleer om redelik vinnig met drie of vier vingers te tik en kan ek binne vyf minute ‘n bedanking op u lessenaar plaas.”

Hy het my laat gaan, maar ‘n paar aande later, tydens die opening van “King Lear” by die Alexanderteater, wink hy na my om deur die stampvol voorportaal na hom en sy vrou te kom en hy sê toe: “ Mnr Nel, ek en my gade het vanmiddag na “Die Vervlakste Tweeling” gaan kyk en ek moet erken: u was besonder vriendelik in die resensie.”

In die sestigerjare was daar natuurlik baie woelinge om die Sestigers en had ons verskriklike beperkings van die publikasie- en sensuurraad, die klomp wat elke rolprent gesensor het en met verskriklike snitte (wat dit soms selfs sinneloos gelaat het) laat uitreik het.

In 1968 is ek vir die eerste keer oorsee en het ek in Londen die geleentheid gekry – met ‘n perskaartjie en verwysings van die rolprentmaatskappye in Johannesburg – om teater-, musiek- en rolprentvoorskoue in my hoedanigheid as kunsredakteur van die “grootste Afrikaanse dagblad in Suid-Afrika” by te woon. Een van die hoogtepunte was ‘n voorskou van “Woman in Love” met Glenda Jackson, Vanessa Redgrave, Allan Bates en Oliver Read in die hoofrolle en almal teenwoordig in die klein voorskouteatertjie in Londen.

Dit was dié rolprent wat destyds opslae gemaak het weens die naak stoeigeveg tussen Bates en Read, met heelwat homoseksuele nuanses en natuurlik ook een en ander in die verhouding tussen die twee vroue.

Terug in Suid-Afrika het ek gloeiend oor hierdie “deurbraak” getuig, maar toe die rolprent uitgereik word, was dit só versnipper deur die sensuurraad dat ek wou selfmoord pleeg.

Kort hierna het oom Hermie my beveel om ‘n artikel te pleeg oor pornografie en sensuur om die hele kwessie te bespreek. Ek het ongelooflik hard gewerk aan daardie artikel en het selfs boeke en tydskrifte wat verbode was kragtens die sensuurwette van die tyd in die hande gekry om daaruit materiaal vir my aanslag der aanslagte te staaf. En toe gebeur daar ‘n onvoorsiene ramp.

Die Metro-teater.  Dit kon 2 800 mense huisves.
Dit was ’n Donderdagmiddag en ek was by die voorvertoning van ‘n nuwe rolprent in die Metro-teater in Breëstraat, sittende in die Royal-sirkel. Langs my op ‘n oop sitplek, was my handtas met my artikel en al die verbode lektuur. Skielik was dit die einde van die prent, ek het my hand uitgesteek om my tas te neem. Dit was weg! Iemand het dit gesteel. Ek het ure lank elke asblik in die omgewing, in elke hoek en gaatjie rondgekrap om te sien of wie dit ook al geneem het, dit nie sommer weggegooi het toe daar nie geld of enigiets waardevols in was nie.

Die volgende oggend was vir my kataklismies. Ek moes aan oom Hermie verduidelik wat gebeur het. Ek dink nie hy het my geglo nie en hy was uiters teleurgestel. Tot vandag is dit een van die pyngedagtes wat ek met my moes saamdra.

AM van Schoor
Daar was ook probleme met mense in die rolprent- en teaterbedryf wat ‘n mens wou omkoop met byvoordele vir meer en beter en selfs onverdiende reklame. Maar omdat ek my hele lewe deur ietwat preuts was, het ek altyd daarvan weggestuur en op ‘n keer selfs vir mnr Van Schoor daarvan verwittig dat ‘n rolprentmaker versoek het dat ek in ‘n lokprent vir ‘n nuwe rolprent moet optree en dat ek geweier het aangesien ek dit as oneties beskou het. Maar indien Die Vaderland dalk die geleentheid sou wou en kon benut vir bemarking, kon hulle dalk iemand anders op die redaksie kry om daarvoor in te staan.

Meneer van Schoor se reaksie was: “Mooi so mnr Nel. Ek is trots op u.”

Dit was ook in die tyd van die Rivoniaverhoor en toe Gerard Ludi op ‘n dag aan my voorgestel word as nuwe “joernalis” en dat hy my kantoor moes deel, was ek om die minste te sê, geweldig paranoïes. Kunstenaars was toentertyd maar altyd onder verdenking aangesien sommige van ons heel uitgesproke oor die politieke situasie in die land was.

En toe, kort voor my bedanking, word aan my opdrag gegee – ek meen dit was miskien weer oom Hermie, of dalk is dit aangestig deur mnr van Schoor om ‘n hoofbladartikel te pleeg oor die stand van die Afrikaanse teater in die Goudstad. Ek had dit oor die feit dat wanneer ‘n mens na die “kommêrsiële” teater (ek wil nie name noem nie) gaan, dit propvol Afrikaans en mense was wat hul simpel koppe aflag wanneer ‘n “pênty” of ‘n “boddes” oor die verhoog gegooi word of ‘n aanvallige aktrise halfnaak in die koliese inhol, want hier was vermaak (en dit is nodig ook en het sy plek). Wanneer dit egter by ernstiger kultuur soos Shakespeare en ander gewigtiger stukke kom – wat ons gode sy dank deur die streekrade kon ervaar – het die meeste Afrikaners geskitter in hul afwesigheid en was dit selfs met wonderbaarlike en van die beste Afrikaanse produksies uitsluitlik die Engelssprekende wat die teater aand na aand volgepak het.

At de Beer
Op ‘n keer het oom At vir my gesê: “‘Sonnyboy, ek weet jy doen jou heel beste, maar dit word al hoe moeiliker vir my om jou by die base te verdedig aangesien jy “die Jode en Engelse so baie publisiteit op jou blad gee.” My verweer was: “Oom At, ek sal Hosanna skree en jubel en juig as ons mense in hierdie stad iets doen waaroor ek vir hulle met trots publisiteit kan gee”. Want dit was nou ten enemale so dat die kultuur in Johannesburg hoofsaaklik deur ons wonderlike Joodse gemeenskap onderhou is.

Nadat ek ‘n striemende aanval op een van Tommie Meyer se verwaterde musicals (die goed laat my nou nog wens dat ek in ‘n put kon spring en die deksel oor my kon toetrek gedoen het, het hy my in trane geskakel en gevra waarom ek nie vir ‘n verandering iets goeds oor die rolprente kon sê nie. En my antwoord was – ook na aan trane: “Ag, Tommie, ek wil so graag hê ons Afrikaners moet na hoër en beter streef eerder as om keer op keer in die goedkoop sentimentele slop wat geld maak, af te sak. As julle iets skep wat die moeite werd is, sal ek die eerste wees om julle op te hemel.”

Een van ons beroemde filmmakers het my tot vandag toe nog nooit vergewe omdat ek gesê het Jamie Uys is die enigste filmmaker wat ooit internasionaal erken sal word nie, want Jamie is “’n kunstenaar” met integriteit. Hy doen sy ding met ononderhandelbare eerlikheid. En ek had wel gelyk, want byna al Jamie se rolprente is deur die oorsese markte opgeraap. Dingaka met Juliet Prowse en Stanley Baker word tot vandag toe nog iewers in een van die klein fliekteatertjies in Parys vertoon. En ‘The gods must be crazy’ is ‘n kultusfliek in Japan.

Ewenwel, ek pleeg toe my magnum opus oor die stand van die Afrikaanse teater in Johannesburg – en ek het nie handskoene aangetrek nie – ek het van die heup af geskiet. Ek kan nie alles meer onthou nie maar wel dat ek gesê het dat ons Afrikaners bloot nie die nodige opvoeding het of die wil om ons huiswerk te doen om die agterstand by te bring en op te skort nie en sodoende ware kultuurdieptes te waardeer nie. (Omrede die verantwoordelikheid wat my werk meegebring het, moes ek self ongelooflik hard werk om my eie agterstand en gebrek aan kennis in te haal, en ek het nog nooit opgehou lees nie, want die agterstand is en bly nog so oneindig groot!)

Die oggend toe dit gesub word, sê Frans du Toit aan my: “Die volk gaan jou teer en veer oor hierdie artikel”.

My antwoord was: “As dit gebeur, skree ek Hosanna, want dan beteken dit dat my volk wel kan lees en omgee, maar ek kan jou nou al sê daar sal geen haan hieroor kraai nie. En as dit nie gebeur nie, kan ek maar net sowel bedank en ophou skryf oor andere se pogings tot kuns en kultuur en my eie kuns begin pleeg. Al kom ek uiteindelik ook om in die proses, moet ek begin ‘practise what I screech’.”

Hierdie woorde moes ek dan ook sluk en twee weke later het ek bedank as kunsredakteur en besluit om in Parys verder te gaan studeer en werk. En dit was een van die grootste genadegawes wat op my pad gelê is.

Thijs destyds in Parys
‘n Jaar of wat later in Parys, is ek tydens ‘n Krugerdagviering by die ambassade in kruisverhoor geneem deur iemand wat daar gewerk het. Die man kon nie juis Frans praat nie en ek dag die “vriendelike omie is seker maar ons landbouattaché, maar toe ek ‘n dag aan ‘n vriendin vra wie die omie was wat so danig in my doen en late geïnteresseerd was, het sy geskater van die lag met: “O, hy is die hoof van sekuriteit – van Boss – hier by ons.”

“Nou wat sou my dan so interessant maak?’ wou ek weet.

Die antwoord van iemand anders af was giftig: “Oh, we have had enough problems with you so-called artists in Paris and elsewhere.”

Dit was na aanleiding van die debakel toe die Suid-Afrikaanse regering geweier het om ‘n visum aan Breyten Breytenbach se Viëtnamese vrou, Yolande, te gee.

Ironies genoeg het ek tot vandag toe nog nooit vir Breyten ontmoet nie. So beweeg ons almal op eie paaie wat nie noodwendig kruis nie.

Ek is dankbaar vir die jare by Die Vaderland. Dit het my voorberei vir ‘n ryk kunstenaars-bestaan, dat ‘n mens jou paadjie loop soos dit vir jou gepredes- tineer is. Ek het die wêreld wyd gesoek en uiteindelik alles gevind wat saak maak, nie daar ver buite nie, maar wel deur direkte persepsie in myself.

Links is 'n skildery van Thijs en regs onlangse kleiwerk van hom. 
  • Thijs nooi oud-kollegas om te enige tyd by hom in Oudtshoorn te kuier, sy atlejee te besoek en sy kuns te besigtig. Sy selnommer is 082/854-5131 en tuis is dit 044/272-0713.