Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.3.13

Allerdame Kittie laat rowwe Gert bloos

GERT COETZEE skryf: Enigiemand wat Kittie Vermaak ontmoet het, sal saamstem sy was die allerdame van joernalistiek.

Jongtyd daar in Aucklandpark was ons ’n redelike rowwe spul in die Kindergarten langs die lang gang af. As tannie Kittie sou instap, het jy jou beste maniere uitgestal, opgehou vloek en jou gedra. Nie dat sy ooit veroordeel of gekritiseer het nie, sy was net so ’n pragtige, ordentlike mens, jy wou haar onder geen omstandighede aanstoot gee nie.
As daar iemand was wat respek en bewondering afgedwing het, was dit tannie Kittie. Daarby was sy ’n baie gawe mens.

Kitty Vermaak
Later jare, toe ek die stryd in die Ooste stry, het Tannie Kittie my in die grootste verleentheid laat beland omdat sy ook die soort mens was vir wie jy nooit nee kon sê nie. Sy het my gevra om, asseblief, op Kemptonpark ’n okkasie van een of ander vroueorganisasie of wat ook al by te woon, sy kan dit onmoontlik meemaak. ’n Modeparade vir dekking. Deur my, ’n ou wat eintlik meer ingestel is op sportbyeenkomste vir vermaak.

Daar by die ou stadsaal is ek verwelkom deur die (toe nog) dorp se vooraanstaande goeie gades; die plaaslike vroue-politici, die burgemeestersvrou, die stadsklerk se vrou, mevrou dokter, mevrou doktor, mevrou kolonel en dies meer. Nie ’n enkele ander manlike persoon binne sig nie.

Die vroue het my met cholesterol, koolhidrate en koffie dik gevoer en gemaklik laat sit in ’n erestoel by die punt van die loopplank. En daar stap sulke maer jong goedjies, onnatuurlik soos makoue (al gesien hoe loop ’n model?) tot net voor my, maak ’n spoggerige omkeer en stryk weer terug agter toe.

Ek en die vroue het deur die hele klerekas gevorder tot by die onderklerelaai. Die maer meisies het, hoe later hoe kwater, al kariger geklee met die plank af gewals, naderhand in ragfyn materiaaltjies wat absoluut niks aan die verbeelding oorgelaat het nie. Eensklaps is ek toe die middelpunt van die aandag. Pleks om te kyk met watse goedjies hulle pappa by die huis kon gaan verras, vergaap die dorpsmoeders hulle aan my om te sien wat die enigste man in die saal se reaksie op die halfnaakte spulletjie is.

My skaamte, ek sou selfs sê vernedering, was blosend duidelik. Toe gryp ek maar die Pentax (dit kon die latere Nikon EM gewees het), flits en ’n rol film en ek begin foto’s neem. Ek kruip as ’t ware binne-in daai kameralens weg. Maar ek besef ook die uitgelese tantes sal nie maklik om die bos gelei word nie, ek kan nie net maak of ek foto’s neem nie, neem moet ek neem en ek ruil films en ek neem foto’s.

Joey du Preez
Vervolgens bel tannie Joey du Preez (wat al die verslaggewers se films ontwikkel en foto’s afgedruk het; net so ’n oulike, ordentlike vrou soos tannie Kittie) my en sê sy sien ek het my gate uit geniet, by watse plekke slaan ek uit? (Ek kan net dink wat sy moes dink toe sy hierdie tientalle negatiewe van ontbloting uit die chemikalieë haal.) En sy giggel en ek bloos anderkant die foon en sê vir haar sy moet maar die een sosiale foto wat ek geneem het, afdruk en vir tannie Kittie vat.

Ek het vir tannie Kittie natuurlik later vertel wat sy aan my gedoen het. Sy het geskaterlag – en ek ook. En ek het nog iets van tannie Kittie ontdek; sy het die mooiste lag en glimlag van enige vrou gehad.