Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.3.13

Joe se asado, minus die niertjies

JOE VAN BUUREN skryf: Ek het onlangs weer op dié foto afgekom. Frans Scheepeers het dit so ‘n paar jaar gelede per e-pos aan ons almal gestuur.

Dit is in Augustus of September 1978 by Philip Deetlefs se berugte woonstel in Troyeville in Johannesburg geneem. Die geleentheid was my afskeidsgeselligheid voor my vertrek na Perskor se kantoor in Londen.

Die ouer kêrel agter was oom Fanie Venter, broer van Joop Venter, Kotie Venter van die biblioteek se man. Hy het dié dag ‘n skaap op die Suid-Amerikaanse manier vir ons gebraai. Asado noem hulle dit.

Dit behels dat die skaap aan ‘n staalkruis oopgesper word. ‘n Vuur word in ‘n gat in die grond gemaak en die kruis word skuins in die grond gedruk sodat die skaap so skeef bo die vuur hang. (Dis eintlik baie doeltreffend en dit sal my glad nie verbaas as die mense daar in die noordweste van China ook so braai wanneer die weer dit toelaat nie.)

In elk geval, dis natuurlik ‘n lang storie en ek dink ons was al redelik aangeklam toe dié foto geneem is.
Ek was veral lus vir die niertjies, (ek dink dit was my skaap), maar toe ek weer ‘n draai by die vuur maak, hoor ek tot my onsteltenis dat ‘n vrouekollega albei gegryp en verorber het.

Ná 34 jaar is ek steeds beswaard daaroor.

Ek weet nie of die skuldige K’rant lees en of sy eens die voorval sal onthou nie, maar ek wil dit net op skrif stel dat ek gewis nie daarvan vergeet het nie.

Die mense op die foto is (voor) Wilma (Rudman) Deetlefs, Jannie van Rensburg, my vriend van ons dae saam by die Departement van Suspisie (Justisie?) wat nou vir SAUK-radio vanuit die Parlement verslag doen, en wyle Herman Gouws. Agter is Philip Deetlefs, die jonge heer F. Scheepers, wyle Oom Fanie, wyle Johann van Loggerenberg en ek.