Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.3.13

Hul grootste kruis is die uitsoekeriges

Helena Koen
Oor ‘n koppie koffie is daar dikwels dik stukke in Perskor se kantien in Aucklandpark, Johannesburg, gesels. Die middagetes het ook vir menige werknemers ekstra vetjies besorg.

Hier by die restaurant is altyd iets aan die kook en reeds van ver af kry 'n mens 'n snuf in die neus dat hier op groot skaal gebak en gebrou word, berig Perskorhaan van Februarie 1972.

Vir die meeste mense is die restaurant van Perskor net 'n uitspanplekkie oor die middaguur, maar vir minstens ses vroue is dit die plek waar hulle ander se brood in die sweet van hul aanskyn voorberei.

Brood en jêm is die werk van die restaurant-vroue gewis nie. As die kok met vakansie is, moet hulle maar self inspring en skil en kook en opsmeer en organiseer.

Fransien, Rosy
se dogter
Rosy Belily
Dis geen geringe taak nie.

Dink net: op een dag wortels skil, aartappels skil, kool kook vir minstens 200 mense en dan nog so tussenin vir die soettande ook nog sorg met 48 koekies per dag en 100 kiste koeldrank per week.

Tog is dit nie die grootste kruis van hierdie vroue, onder aanvoering van mev. Helena Koen nie.

Hul grootste kruis -- stem hulle saam -- is die uitsoekerige, langtanderige mense wat daar kom eet.

AFGESKEEP

Die een bring sy bord terug: "Mevrou, kyk• hier. Net een ou stukkie vleis. En Piet wat net langs my sit, het twéé stukke gekry. Waarom word ek so afgeskeep?"

Sara Oosthuizen,
alias, Strydbyl
Dis hierdie dinge wat hulle hul hande in die lug laat gooi; en ook die manne wat elke dag hoender wil hê, en geelrys, en vis-en-skyfies en vetkoek.

Tog sal hulle nie maklik hul werk verruil nie. "Die Vaderland! 0, hulle het die mooiste mans," deel mev Koen 'n (onverdiende?) pluimpie uit.

MOOI MANIERE

Elizabeth Jansen
"Die Transvaler se mans het pragtige maniere," sê mev Sara Oosthuizen; en mev Elizabeth Jansen se skelm glimlaggie verraai dat sy haar eie gedagtes oor dié onderwerp het.

As die vroue by die restaurant net so effens die deksel lig en vertel wat hul daaglikse taak is, moet 'n mens nuwe bewondering vir hulle kry -- vir die spyskaarte wat beplan moet word, die aankope wat gedoen moet word en -- wanneer almal versadig terugkeer kantoor toe -- die stapels skottelgoed wat gewas moet word!

Dan praat ‘n mens nie eens van die 200 koppies wat drie keer elke dag aan die dorstiges uitgedeel moet word nie. “En dan breek die mense die koppies en kla dat hulle nie genoeg koppies kry nie,” kom die laaste beskuldiging.

(Sara Oosthuizen was ‘n kwaaitjie wat bogtery van niemand verduur het nie. Frans du Toit, destyds nuusredakteur van Die Vaderland, het haar die naam “Strydbyl” gegee. Dan het sy Frans kliphard en mooi laat verstaan dat dit nie haar naam nie is nie, waarop Frans verder geterg het. – Red.)