Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.3.13

Semen moes gifmoordenares van galgtou red

WILLIE BUYS skryf: Een van die eienaardigste berigte wat ek in my lang loopbaan van bykans 40 jaar as joernalis gedoen het, het gehandel oor een van die vier berugste gifmoordenaresse in die Suid-Afrikaanse misdaadgeskiedenis. Dit is ‘n berig oor ‘n angsbevange vrou in die skadu van die galg wat op die mees bisarre manier probeer het om die doodstraf vry te spring deur verwagtend te raak.

Dit was op 10 Desember 1969 dat die 33-jarige Maria (Miempie) Groesbeek ná ‘n opspraakwekkende moordverhoor in Bloemfontein deur regter HF de Wet en twee assessore skuldig bevind is dat sy haar man, mnr Christiaan Stephanus Buys (43) met miergif (arseen) vermoor het deur dit in sy koffie te gooi. Hy wou nie van haar skei sodat sy met haar minnaar, mnr Gerhardus Nico Groesbeek (21) kon trou nie. Sy het dertien dae na Buys se dood aan Groesbeek verloof geraak en is later met hom getroud.

Ná ‘n uitgerekte verhoor is Groesbeek skuldig bevind op ‘n aanklag van moord. Sy is op Vrydag 13 (sic!) April 1970 in Pretoria tereggestel met net ‘n paar familielede en ‘n gevangenisamptenaar teenwoordig. Haar man, wat drie maande vantevore vrygespreek is op ‘n aanklag van moord op Buys, was nie daar nie.

Volgens berigte het hy in ‘n oopnekhemp-sporthemp vier keer heen en weer in sy voertuig verby die gevangenis gery terwyl sy gehang is. Hy het ook nie ‘n blomkrans op haar graf laat plaas nie. Net ‘n krans van Groesbeek en die vermoorde Buys se vier kinders het die graf versier. Ironies, het daarop gestaan: “Rus sag liewe moeder. Bedroefde kinders”.

Gemanipuleerde illustrasie
Ek het destyds vir die Sondagkoerant Dagbreek en Sondagnuus gewerk en is deur die nuusredakteur, Chris Vermaak, na haar geboortedorp gestuur vir agtergrondstof. Daar het die bisarre kinkel in dié saak aan die lig gekom. Dit blyk toe dat die polisie ‘n brief van haar aan haar minnaar/man Gerhard gekry het waarin sy beweer het verwagtende vroue word nie gehang nie.

Sy het toe by hom gepleit om van sy semen in ‘n koevert te stort sodat sy haarself kon swanger maak en sodoende die doodstraf kon vryspring. Die brief het Groesbeek nooit bereik nie.

In nog ‘n ironiese kinkel is een van Groesbeek se kinders, mnr Sakkie Buys, later van strafbare manslag en dronkbestuur aangekla nadat hy drie voetgangers op een slag op Petrus Steyn in die Vrystaat doodgery het. Dit het gebeur terwyl daar nog ‘n saak van dronkbestuur teen hom hangende was. Wat daarvan geword het, weet ek nie.

Nog drie ander gifmoorde het opslae gemaak.
  • Die eerste was die berugte Daisy de Melker wat in Desember 1932 tereggestel is ná die moorde op een van haar seuns en twee van haar mans. 
  • Maria Lee van Kaapstad is op 17 Desember 1948 tereggestel ná die moord op haar minnaar, Alwyn Smith. 
  • Margaret Rheeder (36) van Port Elizabeth is op 6 Mei 1958 gehang ná die moord op haar man, Benjamin Fredenman. Hy het haar saam met ‘n ander man betrap en aangerand. Sy het ‘n bottel miergif gaan koop …