Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.2.13

10 000 nie uit nie vir K’rant

PEET SIMONIS, vader van K’rant, skryf (Peet het K’rant in 2004 geskep as deel van die kletswerf Perskorhaan, ‘n inisiatief van wyle Hannes Cilliers, wat sedert sy dood deur Jean Oosthuizen bedryf word. – Red.):

10 000 lesers in so ’n kort tyd?

Dit het beter gegaan as dekades gelede toe koerante soos Die Transvaler en Die Vaderland met moeite sirkulasie van "onder" af moes bou.

Toe ek destyds K'rant begin het, was dit om ‘n kuierhoekie te begin vir oudjoernaliste en hul mense – om weer van mekaar te hoor.

Ek het ook geweet dit sou daartoe lei dat ons die storie-agter-die-stories sou hoor. En wie luister nie graag daarna nie? Dit is altyd ’n goeie verkoper.

Geen wonder dat tien duisend nou al K'rant kom lees het nie – volgens die telling van Japie Bosch, oudkollega en Vaderlander. Hy is die een wat die rol vervul van aanbieder en onderhouer – kortweg JOERNAALMEESTER. Japie sê hy sal nie weet presies wie die tien duisendste saamleser is nie, net dat hy/sy dié week (laat more Red.)  op K'rant sal klik.

Dit kos baie ure en harde werk om die "koerant", genaamd K'rant, byna daagliks aanmekaar te timmer. Hy doen dit so goed omdat hy dit geniet en hy 'n lewende belangstelling het in die internet as plaasvervanger (nou ja nooit heeltemal nie) van koerantpapier en drukkersink.

Piet Ebersöhn
Andries Botha
K'rant werk ook so goed oor die kundigheid en entoesiasme van die drie redakteurs, Piet Ebersöhn, Andries Botha en Willie Buys en natuurlik subredakteur Stella Niemand wat waak oor die keurige taalgebruik.

En dan is daar die lekker stories van oudkollegas, joernaliste, fotograwe en ander lede van die nuushond-garde. Hemel, mense, as julle so lekker geskryf het in die dae van koerantstryde, sou ons meer pers-"oorloë" gewen het!

Onlangs het Bryan Habana op die kassie vertel hoe erg rugbyspelers mekaar aanvat op die veld, maar van die veld af is hulle groot vrinne. Dis ook waar van koerantmense – ons was in hewige mededinging om mekaar te scoop, maar ná saktyd, kon joernaliste van verskillende koerante en koerantgroepe groot vriende wees. Bewys daarvan is Herman le Roux, een van die topsportredakteurs van sy tyd, se puik bydrae ’n tyd gelede in K'rant hoewel hy in murg en bloed ’n (ingevoeg) Nasionale Pers-man is. Ja, K'rant is nou vir almal – nie net meer Perskormense nie.

Japie Bosch
Willie Buys
Daar was ook ander lekker bydraes van ander nie-Perskor mense. Baie dankie. Dis nie moeilik nie, want die meeste van ons het by meer as een persgroep, radio en/of televisie gewerk.

Aan die begindae van K'rant, het baie vername oudjoernaliste sowaar nie rekenaars gehad nie – en van e-posse net in naam geweet. Ongelooflik, maar "verligte" dok Wimpie de Klerk was so iemand, Hermie Hendriks ook. Piet Ebersöhn het in daardie dae sowaar die moeite gedoen om die K'rant-stories vir hulle en ander in dieselfde bootjie uit te druk, foto's en al en kleur was toe nog duur – en vir hulle te pos of te gaan aflewer. Hulle het dit baie geniet en waardeer – ek moet nog iewers Wimpie se brief van waardering vir die posdiens en K'rante hê.

Stella Niemand
In daardie eerste K'rante is geen sensuur toegepas of enige vorm van beheer nie – kollegas kon skryf net wat hulle wou en net wanneer hulle wou. Dit het later te rof gegaan – veral as ek soms opsetlik kwaadmaak-stories gepos het – gedeeltelik om reaksie uit te lok. Jammer mense. Ek dink die huidige opset met ‘n joernaalmeester en drie redakteurs wat goeie oordeel gebruik, is die regte resep.

Vegkop
Baie geluk manne – en dankie aan almal wat so lekker saam kuier – weliswaar nie meer by "Vegkop" nie, maar in jou diep geheuehoekie wel - daar of waar jy jouself ookal tuis voel.

Nou ja, lekker lees mense, terwyl ons aanbeweeg na die 20 000 saamleestal. Ek voorspel dat ander koerant/tydskrifgroepe ons voorbeeld gaan volg om ook so lekker saam te kuier en met die ware stories vorendag te kom. Sal nie verbaas wees as dit in ander wêrelddele ook gaan gebeur nie.  

Klik HIER om 'n vorige storie oor K'rant se ontstaan en werking te lees.