Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.2.13

Jorrie het ’n slag met ’n storie gehad

PIET EBERSÖHN skryf: Toe Willie Buys in sy storie oor Die Transvaler se subkantoor na Jorrie Jordaan verwys, verlang ek sommer onbeskaamd terug na daardie dae in die later jare sewentig eers in Aucklandpark, toe in Nieu-Doornfontein.

Jorrie, ja, met sy vloeiende skryfstyl en keurige woordgebruik. Hy was immers ‘n gerekende skrywer, as Johann Jordaan, van avontuur-
verhale vir die jeug – dink maar aan die Dirkas-boeke – onder meer ook voorgeskrewe leesstof op skool. En hy het ‘n suksesvolle skrywerskool, Skryfhuis, tuis in Ontdekkers bedryf.

As assistent-nagredakteur het hy verantwoordelikheid aanvaar vir die herskryf van verslaggewers en vertalers se kopie. Hy was hoofsubredakteur by Sapa voor hy na DT toe gekom het. Voor dit redakteur van Die Mynwerker, en nog vroeër aan die SAUK verbonde.

Hy het ons al meer as 30 jaar gelede ontval, maar ek sien hom nog so kiertsregop sit as hy daardie tikmasjien timmer dat dit soos ‘n masjiengeweer knetter, sekerlik die man wat ek in my dag en dae die heel vinnigste sien tik het.

Mike van Niekerk
Een ding wat niemand by hom kon inprent nie – nie eens Mike van Niekerk nie – was dat die hoofstad van Oostenryk Wenen heet en nie “Wene” nie. Die subs kon dit maar verander as dit dan moet, hy het strykdeur met “Wene” volhard.

Jorrie, ja, met sy kenmerkende swart bokbaard en sy voorliefde vir safaripakke. Geheelonthouer. Vriendelik, joviaal, altyd reg om ‘n geselsie aan te knoop, selfs al druk die saktye – dikwels tot Mike se ontstigting – met sy onderhoudende verteltrant en ‘n oënskynlik onuitputlike skat van staaltjies.

Hoe spyt is ek nie nou dat ek nie meer van sy vertellings kan onthou nie.

Daar was die een oor sy insluiting in 1950 as 19-jarige vleuel in die rugbyspan van die destydse Noordoostelike Distrikte, wat op Burgersdorp teen Noord-Transvaal gespeel het. Jorrie was uit Venterstad se kontrei. Die Ligbloues het 61 – 8 gewen en Jorrie is nie weer vir die bond gekies nie.

Die uitslag het allermins verhoed, het Jorrie vertel, dat die verloorspan nie eweas die wenspan lank en hard gekuier het nie – tot lank na middernag.

Hy het met sy pa se kar gery en toe hy vroegoggend die pad terug huis toe vat, pak van sy spanmaats en selfs ‘n Ligbloue of wat die motor so vol soos ‘n hedendaagse minibustaxi om die partytjie op die plaas voort te sit.

Dit was ‘n groot vrolikheid en die manne het uit volle bors gesing, en gery, en gesing, en gery, en gesing …
Om die een of ander rede het hul bestemming hulle bly ontwyk. Dit was nie juis ‘n groot probleem nie, daarvoor was die rit te gesellig.

Toe die son opkom, het hulle besef hulle “ry” op een plek. Die masjien loop, maar die motor beweeg nie. By nader ondersoek het hulle gevind die motor se onderstel het op ‘n plek waar die maanhaarpaadjie diep uitgery was op die bultjie in die middel te lande gekom op so ‘n wyse dat die agterwiele onverrigtersake in die lug gedraai het!

‘n Bietjie dik vir ‘n daalder, het ek altoos gedink. Dis egter so ‘n lekker storie dat ek dit toe wel op ‘n dag oorvertel het, darem met die kwalifikasie dat ek twyfel of dit waar is.

Toe merk die legendariese Ligblou-slot, Doerie van Deventer, se seun Arrie op: “Dis wáár. My pa was in daai kar!”

Jorrie het ook vertel van die tyd gedurende die Tweede Wêreldoorlog dat hy nuusleser by die SAUK was. Dit was die dae van kortgolfuitsendings en steurings in die ontvangs was die norm eerder as die uitsondering.
Met dié dat die oorlog oor die aardbol heen geveg is, het daar noodwendig dikwels moeilik uitspreekbare name in die nuusbulletins voorgekom.

Add caption
Vir Jorrie en sy kollegas het dit geen onoorkomelike struikelblok geskep nie. Terwyl hulle so ‘n woord gelees het, het hulle eenvoudig met ‘n pen of potlood op die mikrofoon gekrap. G’n luisteraar het eers daaraan gedink dat dit nie ‘n “normale” alledaagse steuring was nie.

Dan onthou ek die raat uit sy jong dae vir wanneer hy en sy vriende die slag goed wou kuier. Hulle het geglo as ‘n mens se maag ‘n goeie “lining” het, bereik die alkohol nie die bloedstroom nie. Die raat: eet vooraf een van daardie plat blikkies olierige sardientjies.

Ek kan nie onthou of dit in die doel geslaag het nie.

Klik HIER om meer oor Jorrie se boeke te lees.