Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.2.13

Stokou waaier simboliseer Perskor se kanniedoods

GERT COETZEE skryf: ’n Bydraetjie vir K’rant (en terloops, die verspreiding is puik – my foon tjier-riert elke oggend vroeg, dan lees ek hom eers voordat ek opstaan. Geluk!).

Die magtige Perskor sing toe nou sy swanesang ondanks al die leuens, leë beloftes en versekerings, partytjies (onthou die een by die burgemeesterslapa van Verwoerdburg) en bedrog wat aan ons opgedis
is. Almal het die onvermydelike gesien kom, maar ek dink die algemene houding was bloot: miskien gebeur iets wat verhoed dat so ’n enorme Afrikanersaak in duie stort. Maar niemand het dit geglo nie. Toe Perskor val, is almal so hard geslaan, die trauma het hulle die res van hul lewe bygegbly.

My ouers is net so hard daardeur getref. Die laaste reëlings is gefinaliseer vir ’n goeie man wat sy hele lewe lank sy beroep nougeset en lojaal, dekades lank uit sy huis in Klerksdorp beoefen het. Heel laaste om orde te skep in die chaos, was ’n telefoonoproep na die hoofkantoor toe: “Wat doen ek met Perskor se kantoormeubels?” Ek weet nie hoe lank hy vir die antwoord moes wag nie, maar die boodskap was bondig: “Vat dit!”

Jannie Coetzee
So erf my pa, Jannie Coetzee, toe ’n lendelam lessenaar waarvan die laaie vassteek, ’n staalkabinet, ’n stewige stoel en ’n elektriese waaier; ’n driespoed-Hitachi. Dit maak nogal sin, wie sou nou gebodder wees oor sulke nietige bates – nie ’n bankrot onderneming nie!

Die Hitachi is nou myne ná die afsterwe van my ouers.

Ek het besluit om hom saam te bring werk toe om ’n praktiese rede. Hulle restoureer al meer as ’n jaar lank aan die geskiedkundige gebou waar ek my brood verdien. Ek werk in die mooiste redaksiekantoor waarin ek nog was, maar ongelukkig kry die restoureer- ders nie die lugversorging behoorlik funksioneel nie. Hulle het die plafonne laat sak en mooi versonke beligting geïnstalleer en nou lewer die lugversorging net ou, dooie lug.

Die losskakel Quade Cooper het gepraat van die “toksiese omgewing” in die Australiese rugbyspan se kleedkamer. Quade het regtig nie ’n benul van “toksiese omgewings” nie. Ek, wat in my dag des lewens nog nooit hooikoors of sinus gehad het nie en iets soos ’n hoë stuifmeeltelling beskou as ’n flou verskoning vir pieperigheid, sit pal by die werk met brandende, tranerige oë, ’n krapperige kuggie, ’n niesery en snotterigheid wat my mal maak. Ek wil die Hitachi werk toe bring om net die gifwalms van my af weg te waai.

Die ou waaier maak ’n helse lawaai. Hy steun en kreun en sy elevasiemoer moet jy reg roer, anders maak hy ná ’n ruk slapkop soos ’n dronkie net voordat hy uitpass. By die huis is hy nutteloos, want jy kan nie die TV hoor nie en omrede die helse kabaal kan jy hom snags nie aanskakel om die muskiete se landingstoerusting te bedonder nie. Maar daai ding waai net so fluks soos die Kaapse Dokter as hy die dag aan diens is.

Ek dink julle ouens sien ook die simboliek (ironie?) in dié storie. Soos daardie stokou Hitachi is ons almal afgerem en nie naasteby so fluks of spoggerig soos in ons jong dae toe ons ons bes gelewer het vir Perskor nie. Maar ons is ook nog daar en druk maar elke dag deur na die beste van ons vermoë; in so ’n mate dat ons nogal heelwat uitrig.

Ek dink dis hoekom die samehorigheid tot vandag toe nog daar is – elkeen wil vir die ander wys daar is nog lewe in ons almal.

Buiten die magtige Perskor wat dood en begrawe is.